Nog ’n deurbraak in insekbeheer

Ben Schoonwinkel, FMC
Gepubliseer: 6 September 2022

861

Nuwe Amicor®-insekbeheer, aangedryf deur die gevorderde aktiewe bestanddeel Rynaxypyr®, is ’n deurbraakinsekdoder wat uitstekende beskerming teen teikenplae in mielies, suikermielies, sojabone en sorghum bied.

Insekplae soos Afrika-bolwurm, mieliestronkboorder, herfskommandowurm en sorghumstamboorder kan erge skade aan stapelvoedselgewasse aanrig. Die groot probleem is dat die gebruiklike plaagdoders, soos onder meer piretroïede, nie dié plae altyd doeltreffend beheer nie. Gelukkig werk ’n beproefde produk soos Amicor-insekbeheer van FMC goed – en spog dit boonop met talle bykomende voordele.

Hierdie produk beskik oor ’n unieke werkingsmeganisme wat aan die rianodien-reseptore van insekte bind en dit aktiveer. Hierdie aktivering stimuleer die loslating en uitputting van kalsium vanuit die interne stoorplekke van die spiere, wat lei tot verswakte spierregu­lering, verlamming en die uiteindelike dood van die insek. Inhibisie van insekbeweging en staking van voeding vind byna onmiddellik plaas, gevolg deur die dood van die insekte ’n paar dae later. Dit is hoekom lewende insekte dalk gevind kan word wanneer produsente gewasse verken, maar aangesien hulle nie kan eet nie hou hulle nie meer ’n risiko vir die oes in nie.

Die middel is hoofsaaklik aktief op die larfstadium deur inname (maagaksie), met beperkte kutikulêre absorpsie (kontakaksie). Dit beheer hoofsaaklik Lepidoptera-insekplae, maar ook sommige plae in ander ordes, soos Coleoptera en Diptera. Amicor-insekbeheer het goeie reënvastheid wanneer blootgestel aan reën of sprinkelbe­sproeiing en die verwagte langwerkende aktiwiteit van die produk sal nie nadelig beïnvloed word nie.

Hierdie produk se gunstige omgewingsprofiel maak dit uitstekend vir gebruik in geïntegreerde plaagbeheerprogramme en is noodsaaklik vir gebruik in insekweerstandsbestuurprogramme om die opbou van weerstand te bekamp.

Danksy die selektiewe werking van Amicor-insekbeheer op die insek se rianodien-reseptore, het dit ’n minimale effek op nie­teikenorganismes, soos soogdiere, visse, voëls en voordelige insekte.

Daarbenewens lei die toediening van dié insekbeheer gewoonlik nie tot ’n uitbreking van spinmyte soos dikwels wanneerpiretroïede of ander nieselektiewe insekdoders toegedien word nie. Dit dra dus by tot die handhawing van die ekologiese balans tussen hierdie sekondêre plaag en sy natuurlike vyande.

Amicor-insekbeheer werk uitstekend wanneer vroeë eierlegging of eerste larfstadia geteiken word. Op mielies sal groter larwes wat byvoorbeeld reeds diep in die baard is of wat reeds na die koppe gemigreer het, nie beheer word nie. Produsente word aangeraai om waaksaam te wees en gereeld hul gewasse te inspekteer. Kry raad by ’n betroubare gewasadviseur indien nodig.

Amicor-insekbeheer bied uitstekende beskerming teen teikenplae in stapelvoedselgewasse.

As een van die wêreld se voorste landbouchemiese maatskappye, onderneem FMC die ontwikkeling van sintetiese en biologiese produkte wat uiteraard beter werk op die plaas en konsekwent beter is vir die planeet.

Volgens Bright Breytenbach, FMC se kommersiële hoof vir Oos- en Suider-Afrika, maak die maatskappy groot beleggings in navorsing en ontwikkeling om nuwe tegnologie – uitsluitlik in chemiese en bio­logiese gewasbeskerming – te ontdek en te ontwikkel. FMC is oor­gehaal om volhoubare, innoverende oplossings te ontwikkel wat kan help om produsente teen vernietigende insekte, indringer­on­kruide en die bedreiging van siektes te beskerm.

“Die toepassing van relevante wetenskap is ongetwyfeld die toekoms van landbou. Dit kan produsente se dagtake vergemaklik, hul winste vergroot en die volhoubaarheid van hul besighede verbeter,” het hy gesê.

Amicor-insekbeheer bevat chloorantraniliprool (antraniliese diamied) (Rynaxypyr) Reg. Nr. L10722, Wet Nr. 36 van 1947, versigtig. Dit is die geregistreerde handelsmerk van FMC Corporation of sy geaffilieerdes.

Vir meer besonderhede oor FMC se produkte en dienste in Suider-Afrika besoek die webwerf by ag.fmc.com/za/en.