Graan SA se personeel was in Januarie en Februarie op die pad. Ons besoek ons lede in die verskillende streke, want ons moet hoor en sien hoe dit daar op die plaas en in die distrikte gaan. Daar word teruggerapporteer, maar dit is asof verlede jaar se prestasies en suksesse lank vergete is en niks meer bydra om hier en nou se probleme aan te spreek nie.
Dit is droog, die oes is laat en die finansies druk nie net nie, dit het ook opgedroog. “Ons is nou met die rug teen die muur.” Hierdie boodskap word op ’n baie driftige manier oorgedra – daar is nie onsekerheid daaroor nie.
Ons personeel verwys soms na dié tipe vergaderings as hoogspringvergaderings. Jy wil nog juig oor jy op ’n wonderbaarlike manier oor die dwarslat is, maar so met die afkomslag merk jy uit die hoek van jou oog dat die lat reeds weer hoër gestel is. Niemand gee applous nie. Verder, hoër en vinniger – dit is wat volhoubaarheid in landbou ook nodig het.
Een belangrike les wat ek weer eens in my rondry tussen die produsente geleer het, was dat hoër opbrengste nie noodwendig gelyk is aan hoër winste nie. Dit is hier waar graanekonomie inkom. Ek geniet dit altyd om die planne te hoor wat ons lede maak – net weer ’n bewys van ons produsente se vindingrykheid.
Ek het ook daarop gelet dat daar ’n verskil in die gemoedstoestand is tussen die streke wat beter georganiseerd is en dié wat minder goed georganiseerd is. As die boerevereniging goed werk, klink die mense vir my beter – hulle werk saam en daar is nog ’n trots in die dinge wat hulle doen en die manier waarop hulle dit doen. Alhoewel almal dieselfde probleme ondervind, is daar steeds oplossings waaraan gewerk word. Dit was baie inspirerend!
Julle verfris ons spanne wat julle besoek en dit maak dat ons harder na oplossings gaan soek om veral julle winsgewendheid te verbeter. Landbou staar nie standaardgraad-probleme in die gesig nie – ons het al ons intellektuele kapitaal nodig om hierdie hoërgraad-probleme aan te pak. Soos dinge nou staan, kan ons gebrek aan winsgewendheid ʼn groter risiko word as die gevreesdegrondhervorming. Die gesprekke met politieke leiers op die hoogste vlak dui op die belangrikheid van landbou – nou vir die implementering van die planne en die omdraai van die sektor.
Landbou se adjunkminister, Sifiso Buthelezi, is soos ’n lekker reënbui aan die einde van ’n snikhete dag. Nie alleen woon hy van ons Graan SA-geleenthede by nie, maar hy doen ook gereeld navraag en wil heeltyd op hoogte gehou word. Dit is lekker om iemand in die ministerie te kry wat moeite doen om verhoudings met die privaat sektor te bou. Die geluide wat ons hoor vanaf politici is om meer en beter met die private sektor saam te werk. Dit is vars!
Ons landbouplan is saam met verskeie ander sektore sʼn aan die einde van Januarie vanjaar aan president Ramaphosa voorgelê. Daar is hoop as dié groeperinge kan saamwerk om die ekonomie aan die gang te kry, maar selfs as ons die onderlinge vertroue en samewerking kan verbeter, bly die klimaat steeds ’n uitdaging.
Landbou bly maar uniek. Persoonlik dink ek nie die huidige storm is al besig om verby te gaan nie, maar ek is beïndruk met ons vermoë om vas te staan en nuwe planne te maak. Dit is egter so dat ons hulp nodig het om die stormskade wat plaasgevind het, te herstel as ons volhoubaarheid wil beskerm.