KUNSMIS: Voed die grond, maar breek die bank?

Gepubliseer: 15 April 2025

137
Marguerite Pienaar,
landbou-ekonoom,
Graan SA, marguerite@grainsa.co.za

KUNSMIS IS ’N DEURSLAGGEWENDE INSET VIR LANDBOUPRODUKSIE EN SPEEL ’N BEDUIDENDE ROL IN DIE BEPALING VAN WINSGEWENDHEID VAN VERAL GRAANPRODUSENTE. MET WISSELENDE PRYSE EN MARKTOESTANDE IS DIT NOODSAAKLIK VIR PRODUSENTE OM INGELIGTE BESLUITE TE NEEM RAKENDE KUNSMISAANKOPE.

Hierdie artikel ondersoek die persentasie wat kunsmis tot totale insetkoste bydra, vergelyk plaaslike en internasionale pryse, bespreek die beste tyd vir aankope, en bied ’n oorsig van huidige prysverwagtinge. Deur hierdie faktore te verstaan kan produsente hulle koste beter bestuur en hulle beplanning optimaliseer.

Watter persentasie van insetkoste word deur kunsmis gevorm?
Volgens die inligting in Grafiek 1 het die bydrae van kunsmis tot insetkoste sedert 2009 toegeneem. In 2009 het kunsmis 40% van insetkoste uitgemaak, en teen 2024 het hierdie persentasie gestyg tot 46%.

Grafiek 1: Persentasie wat kunsmis van totale insetkoste uitmaak vir 2009, 2013, 2017 en 2024.

Hoe vergelyk internasionale en plaaslike pryse?
Aangesien kunsmispryse deur die jaar aansienlik kan wissel en kunsmis ’n beduidende deel van graan- en oliesadeprodusente se lopende produksiekoste uitmaak, kan die tydsberekening van aankope ’n groot verskil in koste maak. Internasionale en plaaslike kunsmispryse is ontleed deur die gemiddelde maande­likse pryse te bereken en dit dan met jaarlikse gemiddeldes te vergelyk om ’n indeks te skep. Die indeks is gebaseer op data wat strek van 2004 tot 2024.

Hierdie data is grafies voorgestel in Grafiek 2 tot 5 en bied insig in wanneer kunsmispryse tradisioneel of gemiddeld die hoogste en laagste is.

Grafiek 2: Ureum: seisoenale indeks.
Grafiek 3: MAP: seisoenale indeks.
Grafiek 4: KCL: seisoenale indeks.
Grafiek 5: KAN: seisoenale indeks.

Wanneer kan kunsmis­aankope gedoen word?
Uit hierdie inligting blyk dit dat beide internasionale en plaaslike kunsmispryse gewoonlik in Januarie, Februarie of Maart die laagste is, met die uitsondering van internasionale ammoniak, wat geneig is om in Junie of Julie sy laagste vlak te bereik. Daar is ook ’n duidelike tendens dat pryse teen die einde van ’n kalenderjaar die hoogste is.

Hierdie tendens is nie altyd tot voordeel van somergraanprodusente nie, aangesien die tyd van aankope en die tyd van gebruik tot tien maande uit mekaar kan wees – met die gevolg dat rente op vroeë aankope enige prysvoordeel kan negeer. Vir wintergraanprodusente wat reeds in Maart of April kunsmis benodig, bied hierdie prystendens egter ’n ideale geleentheid om teen laer pryse aan te koop.

Kunsmisprysverwagtinge
Verskeie faktore beïnvloed tans wêreldwye kunsmispryse, insluitend energiekoste, geopolitieke kwessies en seisoenale vraag. Die prys van ammoniak het beduidend gedaal weens laer aardgaskoste. Ureumpryse het egter gestyg, hoofsaaklik as gevolg van moontlike voorsieningsbeperkings weens VSA-tariewe en ’n groei­ende vraag. Geopolitieke spanning dra ook by tot prysstygings – onderbrekings uit Rusland en Belarus het KCL-pryse laat toeneem, terwyl China se uitvoerbeper­kings op kunsmis steeds wêreldwye beskikbaarheid beperk. Verder het die aanvang van die plantseisoen in die Noordelike Halfrond, veral in die VSA, Europa en China, die vraag na stikstofgebaseerde kunsmisstowwe soos ureum en DAP verhoog, wat pryse kan ondersteun.

Graan SA publiseer maandeliks ’n chemiese en kunsmisverslag. Vir meer inligting, kontak gerus die Toegepaste Ekonomie en Lededienste-departement.