Bly kalm en hou kop

744
Jannie de Villiers
HUB, Graan SA jannie@grainsa.co.za

Ek het nogal baie kilometers die afgelope drie maande afgelê. Eers tydens die vakansie en toe met al die streeksvergaderings. Een verskynsel oral op ons land se paaie het my aan die dink gesit. Dit is daardie motors wat teen so 140 km/h op die afdraandes by ’n mens verbykom, om maar weer net teen 80 km/h teen die opdraandes vas te val.

As jy genoeg perdekrag het en jy ry op cruise control is dit regtig ’n pyn. Is dit nie maar so met mense ook nie? Hoe baie van ons vang nie net spoed as dinge goed en lekker gaan nie? Sodra die opdraandes kom, dan begin ons spoed verloor en blameer ons ander so maklik.

Ek dink nie die ouens wat spoed verloor se probleem lê noodwendig by die bestuurders nie, maar wel by dit wat onder die enjinkap aangaan. My wyse jong dogter het ook nogal opgemerk dat die hoeveelheid bagasie in die kattebak, veral oor die verlede, ook baie keer ons spoed verminder.

As Graan SA spoed moet verloor elke keer as ons ’n vorm van teenspoed optel, moes ons al lankal langs die pad afgetrek en gestop het. Hoeveel spoed verloor jy as die moeilikheid kom? Graan SA bly in ons mensekapitaal belê om seker te maak dat alles klopdisselboom gaan. Hier gaan dit nie net oor kundigheid nie, maar ook oor die geestelike gesondheid van ons leiers en personeel.

Ek moet maar baie keer ook selfondersoek doen as daar ’n nuwe uitdaging kom of ’n slegte uitkoms is na ’n moeilike vergadering. Dit bly egter soos ’n paal bo water staan: Die helling van die bulte wat ons moet uit, moenie ons spoed beïnvloed nie. Dit is nie ’n slegte ding om gereeld jou bagasiebak na te gaan en dinge af te laai wat jy nie vorentoe gaan nodig hê nie.

Die huidige bulte van gebrek aan winsgewendheid en die vyandigheid van ’n nasie vir wie ons daagliks van kos moet voorsien, is dinge wat ’n mens maklik kan terughou. Apatiese produsente wat net rugryers is en op die sosiale rusbanke lê, baarde groei en kritiseer sonder om ’n sent tot georganiseerde landbou by te dra, klink nie juis soos die tipe enjin wat ek onder my kap wil hê nie.

Wat het gebeur dat landbouers in murg en been op daardie tipe vlak gekom het? Dit wil kompleet lyk of elke groepie nou ’n eie party stig, laer trek en dink hulle sal die Wilde Weste op eie houtjie tem. In die proses sien ons dat diegene in die middel van die pad al hoe minder word. Dit is juis dié groepie wat vir mense moet wys waar die pad is sodat hulle nie die hele tyd deur die dongas en slote hier aan die kant van die pad ry nie.

Die huidige jaar se rekordverbruiksyfers van bykans alle grane, is baie bemoedigend. Dit gaan beslis die voorraadvlakke laat daal en verbeter die prysvooruitsigte vir die volgende seisoen. Dalk is daar weer ’n afdraande voor.

Die pad na die ware Suid-Afrika is ’n moeilike een, maar ons soek manne en vroue wat kan lei teen die opdraandes – almal vang spoed teen die afdraandes. Dit is juis nou wat ons dapper moet wees, kalm bly en kophou. Sterkte.