Nie sommer enige glifosaat nie

Francois van Deventer, Syngenta SA
Gepubliseer: 8 September 2020

1179

Sedert die eerste registrasie daarvan in 1974 in die VSA, het glifosaat wêreldwyd die mees gebruikte sintetiese onkruiddoder geword. Dit is tot ’n groot mate as gevolg van die ontwikkeling van glifosaatverdraagsame gewasse.

Net in Suid-Afrika is daar meer as 65 handelsname van produkte wat glifosaat as aktiewe bestanddeel bevat. Is alle glifosaatprodukte egter dieselfde? Speel formulering nie miskien ’n groter rol in die produk as wat die meeste mense besef nie?

Eerstens is die tipe soutformulering van belang. Aangesien die glifosaatmolekule ’n swak suur is, word dit altyd geformuleer as een of ander hoogs oplosbare monovalente sout (ammonium, dimetielamien, isopropielamien, kalium- of natriumsout) om die formulering te stabiliseer. Die tipe soutformulering dra ook by tot hoe effektief die aktiewe bestanddeel geabsorbeer en deur die blare opgeneem word. Die graad van aktiwiteitswerking van glifosaat word bepaal deur hoe effektief die absorpsie van glifosaat deur die teikenplant is. As gevolg van fisiologiese verskille is absorpsie nie deur die bank vir alle onkruidspesies dieselfde nie.

Touchdown Forte® Hi Tech is ’n kaliumsout-glifosaatformulering van Syngenta. Aangesien ’n kaliumsoutformulering die hoogste wateroplosbaarheid van al die algemeenste glifosaatsoutformulerings het, maak dit ’n vloeistofformulering met hoë glifosaat-suurkonsentrasie (500g/ℓ) moontlik. Ook is die kaliumsoutformulering hoogs higroskopies, wat beteken dit neem voortdurend vog uit die omgewing op om sodoende langdurige opname deur die plant asook verbeterde translokasie te verseker. Die verhoogde higroskopie kan dus direk gekoppel word aan ’n verhoogde intrinsieke aktiwiteit in onkruide.

’n Mengsel van generiese glifosaat en 2,4-D (links) en ’n mengsel van Touchdown Forte Hi Tech en Sorgomil Gold.
Foto: Christo Viljoen

Die tipe soutformulering is egter nie die enigste eienskap wat bydra tot verbeterde opname in teikenplante nie. Onkruidspesies het verskillende blaaroppervlak-waslaagstrukture. In sommige plante is die waslaag besonder hidrofobies en stoot dit die hoogs wateroplosbare glifosaatmolekules af. Die probleem kan oorkom word deur van benatters gebruik te maak. En dit is juis wat Touchdown Forte Hi Tech uitsonderlik maak, aangesien daar reeds ’n dubbelaksiebenatter in die formulering ingebou is. Die ingeboude bio-afbreekbare benatters in die produk kombineer die beste eienskappe van nie-ioniese (wat hoofsaaklik op die blaaroppervlak werk) en kationiese (wat in die kutikula inbeweeg en die epidermisselle penetreer) benatters deurdat dit glifosaatopname aanhelp sonder om die epidermisselle te beskadig. Hierdie eienskap dra by tot die effektiwiteit van die produk, aangesien epidermisselle nie beskadig word nie. Opname en translokasie word dus nie belemmer nie (die meeste kationiese benatters op hul eie beskadig epidermisselle gewoonlik, wat opname negatief kan beïnvloed). Omdat glifosaat ’n sistemiese metode van werking het, word die beste resultate met Touchdown Forte Hi Tech behaal wanneer jonger, aktief groeiende onkruide wat nie onder stremming verkeer nie, teen die aanbevole dosis bespuit word.

Nog ’n kenmerkende formuleringseienskap wat gebruik vergemaklik, is die verminderde skuimvorming tydens meng. Die produk het verder ’n lae viskositeit, wat dit maklik maak om te pomp of uit te gooi.

Soos met alle glifosaatprodukte, word dié produk vinnig gedeaktiveer wanneer dit in aanraking met grondpartikels kom. Gebruik dus altyd skoon water. Oormatige stof tydens toediening (hetsy op die plante of agter die spuit) kan gevolglik ook die produk se effektiwiteit nadelig beïnvloed. Waar harde water gebruik word of die kwaliteit onbekend is, word dit aanbeveel om die water eers met 0,5% tot 2% v/v ammoniumsulfaat te behandel voor die produk ingemeng word. Touchdown Forte Hi Tech is verenigbaar met Callisto®, Dual® Gold, Metagan® Gold, Sorgomil® Gold & Lumax®, wat die produsent residuele beheeropsies gee vir onkruide wat later mag ontkiem. Touchdown Forte Hi Tech is veilig vir gebruik op glifosaattolerante gewasse. Verwys altyd na die onderskeie pro­duketikette vir die korrekte gebruiksaanwysings en -beperkinge.