Voedselsekerheid in Suid-Afrika daal

Jan Greyling, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 19 April 2021

238

Die bekostigbaarheid van en toegang tot basiesevoedsel het in die afgelope jaar ’n knou gekry in Suid Afrikaanse huishoudings. Dit is volgens die negende jaarlikse Globale Voedselsekerheidsindeks (GFSI) geborg deur Corteva Agriscience, wat op 23 Februarie 2021 vrygestel is.

Weens duurder brandstof, hoër energiepryse, die impak van COVID-19 en ander faktore kan die gemiddelde jaarlikse toename van 5,4% in ’n basiese kernkosmandjie vanjaar tot soveel as 10% wees.

Terwyl die armste huishoudings meestal op een inkomste – gelyk aan die nasionale minimumloon of staatspensioen – staatmaak, is onlangs bereken dat ’n basiese kernkosmandjie vir ’n gesin van vier nou maandeliks gemiddeld R4 001,17 kos. Dit is 1,2% goedkoper as in Januarie, maar 3,8% duurder as ses maande gelede.

Waar Suid-Afrika staan
Volgens die GFSI wat onderliggende dryfvere vir voedselsekerheid in 113 lande meet, het Suid-Afrika wel beter gevaar as die res van Afrika suid van die Sahara, maar wêreldwyd het die land twee posisies terug gesak. Met 57,8% het Suid-Afrika se voedselsekerheidstelling met meer as 6% gedaal teenoor die 63,7% in 2015. Dit is ook bykans terug na waar die land nege jaar gelede op 57,4% op die indeks was.

Saam met die daling vanaf 67ste na 69ste plek uit die 113 lande, is daar ’n paar rooi ligte wat vanuit ’n sosio-ekonomiese en politieke oogpunt flikker.

Wêreldwyd het Noord-Amerika (77%) en Europa (74%) weer as die streke met die beste en naasbeste voedselsekerheidsindekse geëindig. Lande in Afrika suid van die Sahara het met 43% die laagste gemiddeld, vergeleke met die algehele internasionale gemiddeld van 69% (Figuur 1).

Figuur 1: Altesaam 113 lande het aan die Globale Voedselsekerheidsindeks vir 2020 deelgeneem.

Gegrond op betroubare, eenvormige vrae en bronne, wat vir gehaltemeting wetenskaplik geoudit word, berus die indeks op vier kategorieë: bekostigbaarheid, beskikbaarheid, gehalte en veiligheid asook natuurlike hulpbronne en veerkragtigheid. Laasgenoemde is vanjaar by die hoofindeks gevoeg.

Die verslag is deur die ankerondersteuner, Corteva AgriScience en die Economist Intelligence Unit (EIU) toegelig. Die meting is die eerste keer in 2012 in 105 lande gedoen.

Op en af vir Suid-Afrika
Volgens Tony Esmeraldo, sakeleier: Suidelike Afrika van Corteva AgriScience, het Suid-Afrika se algehele voedselsekerheid “in lyn met internasionale neigings, verswak”. Die dryfkragte daaragter is ’n verswakking in bekostigbaarheid (-4% en internasionaal 69ste in 2020) en in beskikbaarheid (-1,4% en internasionaal 85ste in 2020) asook toenemende klimaatsveranderingsrisiko’s.

Suid-Afrika se telling vir voedselgehalte en voedselveiligheid (+7,6% en internasionaal 53ste in 2020) het verbeter en so ook die telling vir natuurlike hulpbronne en veerkragtigheid (+5,1% en internasionaal 48ste in 2020) wat in 2019 as ’n proefneming gemeet is.

Afrika suid van die Sahara
Uit 26 Afrikalande wat ingesluit is, was Suid-Afrika algeheel eerste. Die land was ook die toppresteerder in Afrika suid van die Sahara met gehalte en veiligheid en tweede met betrekking tot bekostigbaarheid. Vetsug in Suid-Afrika is redelik hoog op 27% gemeet en wanvoeding is op 5,7% op die indeks.

Met meer as 75% op die indeks word Suid-Afrika sterk geag in die bestuur van voedselveiligheid (94,3%); mikrovoedingstofbeskikbaarheid (86,6%); verandering in gemiddelde voedselkoste (79%); landbou invoertariewe (78,8%); voedselverliese (76,5%); voedingstandaarde (76,5%) en voedselsekerheid-vangnetprogramme (75%).

Botswana is algeheel tweede in Afrika suid van die Sahara met 55,5%, gevolg deur Ghana (53%), Mali (52,7%), die Ivoorkus (51%) en Kenia (49%). Togo, Kameroen, Uganda, Angola, die Demokratiese Republiek van die Kongo, Mosambiek, Nigerië, Guinee, Tsjad, Rwanda, Madagaskar, Burundi, Ethiopië, Sierra Leone, Malawi, Zambië en Soedan het algeheel almal minder as 45% behaal.

Die 2020-indeks waarsku dat Suid-Afrika aandag moet gee aan waterbestuur (slegs 10%-sekerheid in 2020); oseane, riviere en mere (slegs 13%); die ongelykheidsinkomste-aanpassingsindekstelling (30,5% in 2020) en grondsekerheid (29,5%).

Bron: https://foodsecurityindex.eiu.com/index

Nuwe benadering tot die opname
Die nuwe metodologie bevestig natuurlike hulpbronne as ’n kritieke en sentrale deel van die gesprek oor voedselsekerheid. Regerings word gemaan om beleid te vorm en toe pas wat die volhoubare bestuur van voedselsisteme sal verbeter en voedselsekerheid sal bewerkstellig, sê Patrima Singh, senior konsultant: Openbare Beleid van die EIU.

“Beleidmakers moet die impak van klimaatsfaktore op voedselsisteme en voedselsekerheid erken en daadwerklik optree.”

Sy sê tegnologiese innovasie asook navorsing en ontwikkeling in landbou kan lande help om voor te berei op omgewingsrisiko’s. Tans het 60,3% van middelinkomstelande, 36,8% van lande met ’n lae inkomste en 25% van lande met ’n hoë inkomste geen vroeë klimaatswaarskuwingstelsels nie.

Internasionale gevaarligte
Patrima sê voedselsekerheid het wêreldwyd vanaf 2012 (57,75%) tot 2018 (61,10%) opwaarts geneig. “Daar was egter sedert 2018 ’n afname tot 60,72% in 2019 en ’n verdere daling tot 60,45% in 2020. Dit beklemtoon die toenemende impak van klimaatsverandering en die voedselsekerheidskok as gevolg van die COVID-19-pandemie.”

Alhoewel slegs drie van die 113 lande glad nie oor voedselsekerheidsnetwerke beskik nie, is befondsing vir hierdie programme in 47 lande onvoldoende. 36 lande het geen nasionale dekking of hulpbronne om ’n pandemie teë te werk nie en net 54 lande bedryf ’n nasionale voedselsekerheidstrategie. Sy maan dat beleidmakers voedselsekerheid moet prioritiseer.

“49 van die indekslande het tussen 2019 en 2020 groter wisselvalligheid in landbouproduksie ervaar weens klimaatsfaktore, soos droogtes en uiterste weerstoestande. Uiters wisselvallige landbouproduksie in sekere hoë-inkomstelande, soos Noorweë, Swede en Australië, toon die risiko’s wat klimaatsverandering vir voedselproduksie wêreldwyd inhou.”

Kategorieë
Bekostigbaarheid is gegrond op verandering in gemiddelde voedselkoste; die deel van ’n bevolking onder die wêreldwye armoedegrens; inkomste en lewenstandaard; landbou-invoertariewe; ’n land se voedselsekerheidsprogramme; marktoegang asook finansiële dienste vir die landbou.

Beskikbaarheid sluit in: voldoende voorsiening in die vraag; belegging in en aanvaarding van landbou ontwikkeling; landbouinfrastruktuur; wisselvalligheid van landbouproduksie; politieke en sosiale hindernisse tot toegang na kos asook voedselverliese.

Aspekte wat onder gehalte en veiligheid gemeet word, is dieetverskeidenheid; voedingstandaarde; die beskikbaarheid van mikrovoedingstowwe; proteïengehalte en voedselveiligheid.

Natuurlike hulpbronne en veerkragtigheid word gemeet aan blootstelling aan elemente, water, grond, oseane, riviere en mere, sensitiwiteit, politieke verbintenis tot aanpassing asook demografiese spanning.

Tony sê die jaarlikse Globale Voedselsekerheidsindeks bevestig Corteva AgriScience se verbintenis tot produsente wêreldwyd. Dit word saamgestel uit bevindinge deur die metings model, ’n instrument vir datavisualise ring, infografika en video’s. Die volledige bevindings word jaarliks in ’n verslag gepubliseer wat by https://foodsecurityindex.eiu.com/ beskikbaar is.