Nuwe in- en uitvoerinligting: Wat beteken dit?

995

October 2018

LUAN VAN DER WALT, landbou-ekonoom, Graan SA

Sedert die deregulering van die bemarkingswet in die laat 1990’s geld die vryemarkstelsel in die plaaslike graanmarkte. Dit het veroorsaak dat die hele dinamiek rondom die bemarking van graan vir produsente – en ook vir ander rolspelers in die bedryf – wesenlik verander het, aangesien elke rolspeler in die bedryf nou self verantwoordelik is vir die bemarking van sy graan.

Dit het voldoende inligting in die mark uiters noodsaaklik gemaak, aangesien genoegsame inligting die basis is waarvandaan die verskillende rolspelers in die mark besluite neem. Die vryemarkstelsel kan net optimaal funksioneer indien alle rolspelers in die mark toegang het tot dieselfde inligting – veral rakende aspekte wat die vraag en aanbod beïnvloed, aangesien dit een van die belangrikste fundamentele aspekte is wat die prys en uiteindelik die besluitneming van die rolspelers in die bedryf beïnvloed.

Hoe funksioneer die mark?
Onder normale omstandighede oorskry plaaslike produksie gewoonlik plaaslike verbruik, wat beteken Suid-Afrika is genoodsaak om ander bestemmings vir die mielies wat nie plaaslik verbruik word nie, te vind. Hierdie mielies word uitgevoer na ander bestemmings wat wel ’n groot vraag na mielies het. Daarom moet Suid-Afrika in terme van uitvoere met ander internasionale lande soos die VSA en Suid-Amerika meeding.

Die internasionale mielieprys speel derhalwe ’n beduidende rol in die plaaslike markpryse. Wanneer daar, om een of ander rede, in die plaaslike mark uitdagings is wat tekorte in die plaaslike mark veroorsaak, moet Suid-Afrika mielies invoer vanaf een of ander internasionale bestemming.

Alhoewel die plaaslike mielieprys tot ’n groot mate die internasionale tendense volg, veroorsaak die plaaslike vraag-en-aanbodsituasie in die mark dat pryse teen óf uitvoerpariteits- óf invoerpariteitsprys verhandel.

Grafiek 1 toon die plaaslike mieliepryse teenoor die in- en uitvoerpariteitspryse. Die plaaslike markpryse is uiters sensitief aangesien dit tussen ’n invoer- en uitvoerpariteitsprys verhandel, wat groot prysbewegings in die mark kan veroorsaak indien wesenlike veranderinge in die plaaslike vraag-en-aanbodsituasie ontstaan.

Indien die relevante inligting met betrekking tot hierdie aspekte nie betyds in die mark beskikbaar is nie, kan dit tot groot verliese vir markdeelnemers lei.

In- en uitvoere
Duidelik speel die internasionale handel van mielies ’n groot rol in die plaaslike mark – hetsy dit aan die invoer- of aan die uitvoerkant van die mark is.

Die plaaslike vraag-en-aanbodsituasie kan daarom wesenlik verander na gelang van die handel wat plaasvind – en pryse kan gevolglik ook skerp daarop reageer.

Inligting met betrekking hiertoe is uiters belangrik, aangesien die verskillende rolspelers in die mieliemark hul bemarkingsbesluite daarop skoei. Die weeklikse invoer- en uitvoersyfers van die fisiese handel wat plaasvind (fisiese invoere en uitvoere) is een van die aspekte wat saam met heelwat ander inligting (soos weeklikse produsentelewerings en maandelikse verbruiksyfers) deur die Suid-Afrikaanse Graaninligtingsdiens (SAGIS) bekend gemaak word.

Hierdie syfers dra alles by tot die deursigtigheid van die plaaslike mieliemark. Dit is van kardinale belang vir die optimale funksionering van die plaaslike mark – en om enige ongerymdhede in die plaaslike mark te voorkom.

Die invoer en uitvoer van graan vind nie oornag plaas nie. Die verskeie aspekte wat daarmee gepaard gaan, strek van die aankoop daarvan deur internasionale lande op tenders tot ander logistieke reëlings. Die uitvoere is daarom reeds ’n geruime tyd voor die fisiese aanvang daarvan in proses.

Aangesien slegs die fisiese weeklikse handel aan SAGIS en die mark gerapporteer was, is ’n gaping in die inligting geidentifiseer in terme van die vooruitskouing van die moontlike handel. Die vryemark kan slegs optimaal funksioneer indien al die rolspelers in die mark toegang tot dieselfde inligting het. Graan SA het derhalwe ’n aansoek ingedien dat die intensies van handel (invoere en uitvoere) ook deur SAGIS gerapporteer word.

Die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye het hierdie statutêre maatreël gedurende Mei vanjaar goedgekeur en die eerste inligting in hierdie verband is einde Junie vir die eerste keer deur SAGIS gerapporteer. Hierdie syfers toon die invoere en uitvoere wat vir die agt weke nadat die datum vir die nuutste fisiese uitvoere gerapporteer is, beplan word.

Wat beteken hierdie syfers?
Aangesien die handelsintensiesyfers, wat nou deur SAGIS bekend gemaak word, nuut in die plaaslike mark is, is daar nog nie heeltemal sekerheid oor die gebruik en die impak daarvan op die mark nie.

Die syfers weerspieël nou agt weke vooruit se beplande handel (invoere en uitvoere). Dit sluit tans net uitvoere in, aangesien daar huidiglik ’n surplus mielies in die mark is en geen invoere plaasvind nie.

Grafiek 2 toon die fisiese SAGIS-uitvoere, tesame met die uitvoerintensies wat ook deur SAGIS gerapporteer word. Die weeklikse fisiese uitvoere is gerapporteer tot en met die week geëindig 17 Augustus vanjaar en die seisoen tot op datum se kumulatiewe uitvoere vir die tydperk is gerapporteer as 1,125 miljoen ton.

Die uitvoerintensies verteenwoordig die daaropvolgende agt weke se inligting, wat by die fisiese uitvoere gevoeg word. Daarvolgens behoort die totale uitvoere tot en met die week geëindig 12 Oktober 2018 ongeveer 1,4 miljoen ton te wees.

Dit dui op ’n verdere ongeveer 275 000 ton se uitvoere wat in die daaropvolgende agt weke kan plaasvind. Voor die publikasie van die handelsintensiesyfers was die hoeveelheid mielies wat verder uitgevoer sou word ’n ope vraag en almal in die mark het nie toegang tot hierdie inligting gehad nie. Die fisiese syfers sou eers gerapporteer word wanneer die uitvoere reeds plaasgevind het – en die mark kon dit nie vroegtydig in die berekeninge verdiskonteer nie.

Ten slotte
Alhoewel die inligting soos dit nou gepubliseer word redelik nuut in die plaaslike mark is, is Graan SA van mening dat hierdie inligting ook vir produsente van groot waarde sal wees, omdat hulle dieselfde inligting as die res van die mark betyds tot hul beskikking sal hê. Hierdie inligting sal ook bydra tot die deursigtigheid van die plaaslike mieliemark, aangesien dit meer detail inligting gee oor die faktore wat die vraag en aanbod van die plaaslike mark beïnvloed en ook ’n impak op plaaslike pryse het.

Onthou: Hierdie intensies weerspieël nie werklikhede totdat dit werklik plaasgevind het nie, aangesien daar weens verskeie redes steeds veranderinge kan plaasvind. Dit moet steeds gesien word as ’n riglyn wat wel kan verander.

SAGIS toon wel enige veranderinge in die syfers op ’n weeklikse basis en hierdie syfers moet voortdurend dopgehou word wanneer berekeninge gedoen word.

Publication: October 2018

Section: On farm level