September 2018
In Deel 3 van die reeks is daar gefokus op die Noordwes Provinsie en die gebiede wat in hierdie artikel onder die kollig gekom het, was Lichtenburg, Delareyville en Schweizer-Reneke. In hierdie artikel sal die kollig op die oostelike gedeelte van die land val, met drie gebiede in Mpumalanga wat met mekaar vergelyk sal word.
Die berekening
Die inligting wat in die reeks artikels gebruik word, is maandelikse reënvalsyfers soos gemoniteer deur die verskillende weerstasies, verskaf deur die LNR-Grond, Klimaat en Water (LNR-GKW), asook die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) se opbrengsinligting per seisoen vir die spesifieke streek. Die seisoen is bereken vanaf Augustus tot April met die aanname dat 20% van die reën wat gedurende Mei tot Julie voorkom deel vorm van die volgende seisoen se plantbeskikbare water.
Effektiewe reënval per seisoen = (mm reën Augustus, jaar 1 tot April, jaar 2) + (20% x mm reën Mei tot Julie, jaar 1)
Kg graan/ha = NOK t/ha opbrengs x 1 000
Kg graan/mm water = kg graan/ha/reënval per seisoen
Delmas
Volgens die data wat vanaf die LNR-GKW verkry is, was die gemiddelde jaarlikse reënval in die Delmas-area ongeveer 720 mm vanaf die 2001/2002-seisoen. Na die aanpassing in die syfers om die gemiddelde effektiewe (beskikbare) hoeveelheid reën te bereken, deur gebruik te maak van die formule, was die gemiddelde reënval per seisoen ongeveer 700 mm.
Volgens die NOK se inligting vir die Delmas-omgewing was die gemiddelde opbrengs sedert 2001/2002, 6,195 t/ha (6 195 kg/ha). Dit beteken dat die gemiddelde reëngebruiksdoeltreffendheid in die Delmas-area ongeveer 8,84 kg graan per millimeter water (effektiewe reënval) oor hierdie tydperk was. Grafiek 1 bevat die jaarlikse effektiewe reënval vanaf 2001/2002, asook kg graan per millimeter reën vir die Delmas-area. Dit is belangrik om die tendens oor tyd vas te stel, om sodoende te beraam of daar oor tyd ‘n verbetering in die reëngebruiksdoeltreffendheid was.
Grafiek 2 illustreer die persentasie afwyking vanaf die gemiddeld vir beide die reënval en die gemiddelde opbrengs. Dit weerspieël duidelik die wisselvalligheid van reënval en opbrengste wat die afgelope paar jaar voorgekom het. Dit is belangrik om in gedagte te hou dat faktore soos die verspreiding van reënval deur die loop van die seisoen ‘n noemenswaardige uitwerking op opbrengspotensiaal kan hê – wat nie in die berekenings weerspieël word nie.
Dit kan grootliks ‘n verduideliking wees vir die wisselvalligheid in die afwyking van die gemiddelde opbrengs gemeet teen die gemiddelde reënval vir die seisoen. Die uitdaging is om produksiestelsels meer doeltreffend te maak om oesopbrengste te midde van wisselvallige reënval meer stabiel te kry.
Alhoewel die reënval in die Delmas-area oor die afgelope paar jaar redelik stabiel was, is dit duidelik dat die bogemiddelde effektiewe reënval nie noodwendig bogemiddelde opbrengste opgelewer het nie (Grafiek 2).
Middelburg
Die syfers vir die Middelburg-area toon dat die gemiddelde jaarlikse reënval vanaf die 2001/2002-seisoen ongeveer 788 mm/seisoen beloop het. Na die aanpassing vir die effektiewe reënval is die gemiddeld ongeveer 767 mm/seisoen – wat effens laer as die jaarlikse gemiddeld is.
Die gemiddelde opbrengs vir die Middelburg-area oor hierdie tydperk, soos dit deur die NOK gerapporteer word, is 5,04 t/ha (5 041 kg/ha). Die gemiddelde reëngebruiksdoeltreffendheid vir die Middelburg-area is 6,70 kg graan/mm effektiewe reën, wat heelwat laer as die potensiële 15 kg tot 20 kg graan/mm reën is en aansienlike ruimte vir verbetering laat.
In Grafiek 3 word die jaarlikse gemiddeld aangedui. Dieselfde patrone kom na vore waar reën nie doeltreffend gebruik word nie en dan oorgedra word na seisoene met hoë reënval.
Indien dit ‘n droë seisoen is, verbeter dit die reëngebruiksdoeltreffendheid van die volgende seisoen, soos die geval was in 2011/2012.
Die grafiek dui daarop dat ‘n aansienlike volume reën oor die lang termyn nie doeltreffend gebruik word nie. Dit word verloor deur afloop, verdamping of diep dreinering. In Grafiek 4 is die persentasie afwyking vanaf die gemiddeld vir die streek (van beide reënval en opbrengste) aangebring.
Uit Grafiek 4 is dit duidelik dat dit oor hierdie tydperk ook uiters wisselvallig was, maar dat daar wel jare was waar bogemiddelde opbrengste met ondergemiddelde reënval geproduseer is – wat weer eens daarop dui dat reënwater van ‘n nat na ‘n droë seisoen oorgedra is.
Standerton
Die Standerton-area se gemiddelde reënval vanaf die 2001/2002-seisoen was 690 mm/kalenderjaar. Die effektiewe reënval ná die aanpassing was ongeveer 670 mm/seisoen. Volgens die NOK se syfers is die gemiddelde opbrengs vir die streek ongeveer 4,448 t/ha (4 480 kg/ha) per jaar.
Dit beteken dat die reëngebruiksdoeltreffendheid vir die streek ongeveer 6,63 kg graan/mm reën is, wat redelik goed in lyn is met dié van die Middelburg-area, maar ongeveer 2 kg/mm laer as die Delmas-area is.
Dit is egter steeds heelwat laer as die potensiële reëngebruiksdoeltreffendheid van 15 kg tot 20 kg graan/mm reën – wat dui op aansienlike ruimte vir die verbetering in die doeltreffendheid van die produksiestelsels.
Die jaarlikse syfers vir die Standerton-area is in Grafiek 5 aangebring. Dit is duidelik dat reëngebruiksdoeltreffendheid in die Standerton-area oor die afgelope vyf jaar wel verbeter het. Grafiek 6 illustreer die gemiddelde persentasie afwyking vanaf die gemiddeld vir beide effektiewe reënval en opbrengste vir die streek.
Dit is hieruit duidelik dat die opbrengste ook uiters wisselvallig was – gegewe die reënval vir die seisoen. Daar is in sommige jare met ondergemiddelde reënval bogemiddelde opbrengste gelewer en andersom, wat dui op ‘n mate van (onbenutte) grondwateroordrag vanaf nat na droë seisoene.
Grafiek 6 bewys ook dat die opbrengste van die afgelope vyf jaar elke jaar bogemiddeld was, terwyl die effektiewe reënval twee van die vyf jaar ondergemiddeld was. Die jare met goeie bogemiddelde effektiewe reënval het ook aansienlike bogemiddelde opbrengste gelewer. Dit dui op verbetering in die waterverbruiksdoeltreffendheid.
Hou in gedagte
Alhoewel effektiewe reënval gedurende die seisoen ‘n besonder belangrike rol in die produksie van die seisoen speel, is daar ook ander faktore of praktyke wat produksie en opbrengs kan beïnvloed. Alhoewel die gemiddelde reënval in Mpumalanga hoër is as in van die ander graanproduserende streke, is dit steeds ‘n beperkende hulpbron en daarom is dit noodsaaklik dat dit optimaal benut moet word.
Soos in die artikel aangedui, is ‘n praktiese norm of mikpunt vir reëngebruiksdoeltreffendheid in mielieproduksie deur verskeie internasionale studies vasgestel op tussen 15 kg tot 20 kg graan per millimeter water vir die seisoen. Dit is belangrik dat produsente vas sal stel hoe hul plase met die algemene norm, of potensiaal, vergelyk om sodoende die verbouing daarvan te verbeter en meer doeltreffend te maak.
Die verspreiding van die reën deur die loop van die produksieseisoen speel ook ‘n betreklik belangrike rol in die opbrengs, terwyl die grond se waterhouvermoë, infiltrasievermoë, verdamping asook dreineringsvermoë boonop ‘n groot invloed op die doeltreffende gebruik en benutting van reënwater vir optimale graanproduksie kan hê.
Ten slotte
Die inligting wat in die artikel gebruik word, weerspieël gemiddeldes van ‘n omgewing en is nie presiese gevalle nie. Dit is egter steeds ‘n goeie aanduiding van hoe ‘n streek se reëngebruiksdoeltreffendheid min of meer daar uitsien en is daarom noodsaaklik dat produsente hul eie plase teen dié gemiddeldes sal meet om te bepaal hoe hul plase daarmee vergelyk.
Dit is nie net noodsaaklik om hulself te meet teen dié gemiddeldes nie, maar die tendense moet ook bereken word om vas te stel of daar ‘n verbetering in reëngebruiksdoeltreffendheid is.
Publication: September 2018
Section: On farm level