September 2018

DR MARYKE CRAVEN, MARLENE VAN DER WALT en DR JEANETTA SAAYMAN-DU TOIT, LNR-Graangewasse, Potchefstroom

Olieboom, kankerroos en purperwinde is drie onkruide wat tot afgradering van graan kan lei. Die effektiewe beheer van dié onkruide is heelwat makliker gesê as gedaan en bly vir menige produsent ‘n kopseer.

Olieboom 
Olieboom (Datura species) is ‘n eenjarige onkruid wat ‘n wydverspreide probleem-onkruid in verskeie gewasse in Suid-Afrika is (Foto 1). Die olieboomplant is ‘n uiters sterk groeier en daarom ‘n sterk mededinger vir water, voedingstowwe en lig.

Datura-saad ontkiem gewoonlik saam met die mieliesaad, maar omdat hierdie onkruid regdeur die seisoen tot en met die eerste harde ryp teenwoordig is, kan oliebome tot met graanvullingstadium ‘n invloed op die mielieplante hê.

Elke olieboomplant van die Datura ferox-spesie (groot stinkblaar) kan 100 plus saadkapsules vorm, elk met 200 tot 300 sade. Die saad wat deur een olieboomplant per hektaar geproduseer word, is genoegsaam om te veroorsaak dat die graan wat van daardie land afkomstig is, afgekeur word.

Hierdie onkruid is ongewens in graan weens die giftige aard van die plant (veral van die saad) en gevalle van vergiftiging van mens en dier is al aangeteken. Dit is daarom krities dat produsente hierdie onkruid effektief beheer.

‘n Goeie onkruidbeheerprogram wat daarop fokus om die vestiging van hierdie onkruid in ‘n land te beheer, is die eerste stap om te verseker dat oliebome nie hand uitruk nie. Kundiges is dit eens dat olieboom nie alleenlik met voor-opkomsonkruiddoders doeltreffend beheer kan word nie. Die mees effektiewe beheer word verkry met na-opkomsonkruiddoders.

Dit is noodsaaklik om ‘n bymiddel by die na-opkomsonkruiddoders te voeg om die penetrasie van die onkruiddoder te bevorder. Die korrekte identifikasie van die tipe olieboom wat beheer moet word, is noodsaaklik vir effektiewe beheer omdat daar verskeie onkruiddoders vir die beheer van olieboom in mielies geregistreer is.

Daar moet seker gemaak word dat die gekose onkruiddoder wel die relevante olieboomspesie wat in die spesifieke land voorkom, sal beheer. Omdat Datura-spesies uiters gehard is, moet dit so gou moontlik na opkoms beheer word. Die tydsberekening van so ‘n bespuiting moet goed beplan word om te verseker dat laat ontkiemende oliebome ook beheer word, anders is opvolgbespuitings nodig.

Die optimale tyd om ‘n onkruiddoder toe te dien vir die beheer van sodanige onkruid is tussen die twee- tot sesblaar-stadium. Soos met alle onkruide sal groter plante minder doeltreffend beheer word deur na-opkomsonkruiddoders. Wanneer chemiese beheer nie effektief was nie, moet daar van meganiese verwydering gebruik gemaak word of moet dit met die hand uitge-skoffel word.

Slegs een Datura-saadjie word per kg mieliesaad toegelaat tydens gradering. Indien daar Datura-saad in die graan is, is dit raadsaam om self eers die saad te laat sif voordat dit gelewer word, omdat daar ‘n fooi van ongeveer R100 gehef word vir elke siftingsproses per ton graan wat deur graansilo’s gedoen word. Wanneer onkruide nie effektief beheer is nie, kan meer as een siftingsproses nodig wees om die giftige saad te verwyder.

Kankerroos
Kankerroos (Xanthium strumarium L.) is ‘n belangrike onkruidplaag in ‘n groot aantal kontantgewasse soos graangewasse en sojabone. Ontkieming van kankerroossade vind in die lente en somer plaas en die onkruid kan tot 1,5 m hoog groei.

Hierdie is ‘n halfkruidagtige eenjarige onkruid wat ‘n stewige, diep penwortel vorm en uiters sterk met die gewas kompeteer. Kankerroos vorm tussen 200 en 2 000 vrugte per plant, met twee sade wat in elke vrug voorkom. Die hoeveelheid vrugte wat per plant geproduseer word, hang af van hoe welig die plant groei – wat op sy beurt weer bepaal word deur die hoeveelheid lig, water en voeding wat die plant ontvang.

Die twee sade binne in elke vrug verskil in grootte. Die groter saad ontkiem nog in dieselfde seisoen terwyl die kleiner saad dormant bly om eers die volgende seisoen of selfs later te ontkiem. Hierdie eienskap dra daartoe by dat die onkruid met moeite beheer word. By lewering van mielies is slegs sewe kankerroossade per kg verteenwoordigende mieliesaadmonster toelaatbaar.

Daar is ‘n hele aantal onkruiddoders geregistreer vir die effektiewe beheer van kankerroos. Produsente moet hulself egter deeglik vergewis van wat op die etiket van die onkruiddoder staan sodat hulle seker daarvan is dat die gekose onkruiddoder op die gewas waarin die kankerroos beheer moet word, geregistreer is. Alhoewel ‘n hele aantal voor-opkomsonkruiddoders vir die beheer van kankerroos in mielies geregistreer is, is beheer soms wisselvallig.

Net soos met olieboom beheer na-op­koms­onkruiddoders kankerroos meer effektief – mits die onkruide met toediening nie reeds te groot is nie. Produsente wat wisselbou toepas, moet in ag neem dat daar bepaalde onthoudingsperiodes geld voordat opvolg­gewasse na die aanwending van die doders weer geplant kan word.

Vlak grondbewerking na opkoms van onkruidsaailinge kan effektiewe beheer teweeg bring. Vir produsente wat geen- of minimumbewerking toepas, is daar ander opsies om te oorweeg. Kankerroos hou nie van oorskaduwing nie (weerhouding van sonlig). Deur ‘n gewas te kies wat vinnig ‘n blaredak bo-oor die onkruid vorm, kan die gewas beter met die onkruid kompeteer.

Nouer rywydtes kan ook ingespan word. Kundiges noem verder dat, in gebiede waar kankerroos ‘n groot uitdaging is, plantdatums ontleed kan word. Deur die gewas te plant sodat dit kan vestig voor die optimale ontkiemingstyd van die onkruid, gee aan die gewas self ‘n inherente voorsprong.

Hierdie maatreël vereis egter dat daar voldoende grondvog asook grond- en lugtemperature teenwoordig is, wat nie die gewas sal benadeel nie.

Purperwinde 
Purperwinde of Morning glories (Ipomoea purpurea L.) is ‘n kruidagtige, someronkruid wat rankers van tot 2 m kan vorm. Net soos oliebome en kankerroos, kom purperwinde wydverspreid in Suid-Afrika voor.

Die plante het wit en/of pers tregtervormige blomme en kenmerkende, hartvormige blare. Hierdie onkruid het ‘n relatiewe vlak verspreide penwortelstelsel. ‘n Enkele purperwindplant kan tot soveel soos 1 000 saadjies produseer. Net soos met kankerroos, word slegs sewe saadjies per kg verteenwoordigende mieliesaadmonster toegelaat by lewering.

Wanneer purperwinde nie doeltreffend beheer word nie, lei dit tot oesskade. Aangesien die plante teen die gewas kan oprank, kan ernstige infestasies daartoe lei dat die gewas verdwerg word omdat dit toegroei. In só ‘n geval is daar dan opbrengsverliese terwyl die oesproses self ook ‘n aansienlike uitdaging word.

Soos met enige ander onkruid, moet hierdie rankende onkruid nie toegelaat word om te blom en saad te vorm nie. Purperwinde het die vermoë om dwarsdeur ‘n groeiseisoen te ontkiem. Dit gebeur daarom dikwels dat dié sade wat die eerste rondte van beheer (meganiese of chemiese beheer) vrygespring het, ernstige uitdagings láát in die seisoen veroorsaak. Kundiges is van mening dat die beste beheer verkry sal word indien meer as een beheermaatreël gekombineer word.

Kundiges beveel diepbewerking tesame met chemiese beheer wat deurgaans regdeur die seisoen opgevolg moet word, aan. Daar is verskeie geregistreerde onkruiddoders op die mark vir die beheer van purperwinde in mielies. In gevalle waar glifosaat-tolerante (Roundup Ready) mieliekultivars geplant word, kan glifosaat na opkoms gespuit word.

Sommige glifosaatetikette dui egter daarop dat purperwindbeheer wisselvallig kan wees en dat ‘n opvolgbespuiting nodig mag wees. Purperwinde moet met toediening van die doder nog in die saailingstadium wees (vier tot ses blare) aangesien effektiewe beheer afneem namate die plante groter word – veral as dit begin rank.

Waar moontlik kan lande net na plant geskoffel word sodra die saailinge opgekom het. By hoë infestasies moet wisselbou toegepas word in ‘n gewas waarop ander onkruiddoders vir die beheer van purperwinde geregistreer is. Gewasrotasie dra daarom by tot ‘n groter reeks onkruiddoders waaruit gekies kan word en lewer ‘n bydrae om te verhoed dat weerstandigheid teen ‘n spesifieke doder ontstaan. Deur gewasse te kies wat vinnig ‘n digte blaredak vorm, kan die groei van hierdie onkruid onderdruk word. Rywydtes en plantpopulasie kan ook aangewend word om die infestasievlakke te verlaag.

Opsommend
Kortom, die beheerstrategie van onkruide waarvan die saad potensieel in graan kan beland, is dus dieselfde. Onkruidsade ontkiem regdeur die seisoen, wat hulle in staat stel om die aanvanklike beheerstrategieë van vroegseisoen-skoffelaksies en chemiese beheer te ontsnap. Hierdie plante wat ontsnap, se saad beland dan weer in die saadbed, wat die uitdaging jaar na jaar net groter maak.

Die strategie wat produsente moet volg om hierdie uitdaging die hoof te bied, is om dwarsdeur die seisoen onkruidbeheer op die korrekte groeistadia van die probleemonkruid toe te pas. Indien die probleem vererger, kan wisselbou en ander agronomiese praktyke soos rywydte, plantestand en plantdatum oorweeg word.

Die goue reël bly egter om na die etiket te kyk. Maak seker dat die doder vir die gewas geregistreer is en let ook op die onthoudingsperiodes – wat krities is waar gewasrotasie toegepas word.

Produsente is welkom om onkruidkundiges by die LNR-Graangewasse te kontak by 018 299 6100.


Publication: September 2018

Section: Focus on integrated pest control