Opkomende boere kry steun uit privaat sektor

Gepubliseer: 17 April 2020
Mariëtta Cronjé, SA Graan/Grain-medewerker

436

Tydens die onlangse Africa Agri Tech- (AAT-)konferensie in Pretoria het die bekendstelling deur oudminister Roelf Meyer van ’n landbou-ontwikkelingsagentskap, AGDA (Agriculture Development Agency), die amptelike konferensie-opening voorafgegaan. Hy dien tans as voorsitter van die In Transformation Initiative wat die vernaamste dryfveer in die totstandkoming van AGDA was.

Kallie Schoeman van Schoeman Boerdery (Graan SA-hoofbestuurslid) het gesê dat daar met die daarstelling van AGDA ’n stewige grondslag gelê is vir die vestiging van opkomende boere en dat resultate nou daaruit moet vloei. Hy het ook verwys na die mislukte Estina-melkplaas by Vrede en gesê dat as die geld wat die staat daar bestee het eerder beskikbaar gestel is aan Graan SA, sou dié organisasie 3 000 kleinboere kon vestig. Op die foto is Kallie saam met Jannie de Villiers (uitvoerende hoofbestuurder, Graan SA).

Landbou-ontwikkeling tot voordeel van Suid-Afrika
AGDA, wat oor 36 stigterslede beskik, is ’n privaatsektorinisiatief wat binne die raamwerk van die openbare-private-groei-inisiatief (PPGI) val, wat in April 2018 onder leiding van dr Johan van Zyl, uitvoerende hoof en president van Toyota in Europa, gestig is. Die doel is om strategiese beplanning tussen die regering en die privaat sektor in lyn te bring met die oog op die verbetering van ekonomiese groei asook die manier waarop die regering en privaat ondernemings saamwerk. Hierdie uitgangspunt is geskool op die suksesvolle ekonomiese benadering van Japan.

“Die doelstellings van AGDA is om op ’n ooreengekome projekbasis met die regering saam te werk ten einde die gemeenskaplike, nasionale doelwit van volhoubare en versnelde grondhervorming en landbou-ontwikkeling tot voordeel van Suid-Afrika en al sy mense te bereik. Dit sal die leemtes in die landboubedryf wat probleme vir voedselsekerheid en toekomstige ekonomiese ontwikkeling inhou, aanspreek deur kleinboere te ondersteun om kommersieel te kan boer. Geen staatsfondse sal gebruik word nie,” sê Roelf.

“AGDA het ten doel om, deur middel van fondse uit die privaat sektor, groter maatskaplike geregtigheid te bevorder. Stelsels sal geskep word wat sal help om volhoubare grondhervormingsprogramme te dryf en om by te dra tot die verandering van grondbesitpatrone in ons land.

“Dit sal opleiding, sowel as ondersteuning en hulp aan kleinboere insluit ten einde kapasiteit en toegang tot veral landboumarkte te verbeter. Deur die gebruik van landbougrond en infrastruktuurontwikkeling te ondersteun, word grondhervorming en voedselsekerheid in die land bevorder.

Volgens Roelf Meyer het AGDA ten doel om befondsing en kundigheid aan kleinboere te verleen sodat hulle kan ontwikkel om op ’n kommersiële grondslag te boer. Sodanige ondersteuningsraamwerk sluit egter nie bestaansboere in nie.

“Die stigterslede van dié niewinsgewende maatskappy het ’n belangrike rol om te speel. Die lede is die eienaars van die AGDA-maatskappy en die raad sal na verwagting binne die volgende twee maande aangewys word. Intussen is Leona Archary, voormalige adjunk-direkteur-generaal by die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, aangestel as die waarnemende hoof- uitvoerende beampte van AGDA.

“Daarna sal daar gefokus word op sowat tien projekte waarin kommersiële produsente betrek gaan word om hul kundigheid en vernuf met opkomende boere te deel. Sodoende gaan ’n netwerk geskep en uitgebrei kan word na ander projekte in gebiede regoor die land,” aldus Roelf.

Rudi Dicks, hoof van projekbestuur in die presidensie, het daarop gewys dat AGDA die volle ondersteuning van die president geniet. Die Minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, Thoko Didiza, het via ’n videoboodskap die regering se goedkeuring en bereidwilligheid om saam met AGDA te werk, herbevestig. Sy verwelkom dit dat die privaat sektor en die landboubedryf op hierdie wyse mobiliseer ten einde die regering te ondersteun om die uitdagings van landbou en grondhervorming aan te spreek.

Vennootskappe is die sleutel
In sy amptelike openingsrede van die AAT-konferensie het die adjunk-direkteur-generaal van die Departement van Tegnologie en Innovasie, Mmboneni Muofhe, gesê dat vennootskappe in die landboubedryf van groot belang is.

“Ons as departement wil graag vennootskappe met die landboubedryf sluit, sodat ons hand aan hand oplossings vir die probleme van die bedryf kan vind. Daar is baie geleenthede in landbou beskikbaar as tegnologie en innovasie benut word. My departement belê ongeveer R5 miljoen in ’n platform vir die ontwikkeling van nuwe kultivars en tegnologie vir produsente,” sê Mmboneni.

Volgens hom het Suid-Afrika se landbou-uitvoere in 2016 ’n hoogtepunt van R159 miljard bereik, maar ongelukkig het dit in 2019 gedaal as gevolg van die uitbreking van bek-en-klouseer en die gepaardgaande droogte. Hy reken ook dat koringinvoere in die 2019/2020-bemarkingsjaar weens die droogte in die Wes-Kaap met tot 1,6 miljoen ton kan toeneem.

“Dit kos Suid-Afrika ongeveer R5,5 miljard om 1,89 miljoen ton koring in te voer. Hierdie uitvloei van kapitaal is nadelig vir die land en werkskepping,” sê Mmboneni.