July 2018
CHARNÉ MYBURGH, LNR-Graangewasse, Potchefstroom
Grondbiota bestaan uit ‘n enorme verskeidenheid organismes wat met mekaar, met die plantwortels en met die omgewing in aanraking kom en is daarom ‘n belangrike komponent van die grond-ekosisteem.
Hulle word op grond van grootte verdeel in drie groepe, naamlik makrofauna (>2 mm soos erdwurms en termiete), mesofauna (0,1 mm – 2 mm soos myte en springsterte) en mikrofauna (<10 µm soos bakterieë en fungi en <0,1 mm soos protiste en nematodes).
Grondmakrofauna bestaan uit ‘n wye verskeidenheid organismes wat op die grondoppervlak sowel as in die grond leef (Tabel 1). Hierdie organismes se lewenswyse en aktiwiteite het ‘n direkte en indirekte invloed op hul habitat en ander organismes. Plante skei suikers, eenvoudige stysels en aminosure in die grond rondom hulle wortels af. Bakteriese populasies vermeerder en mikorisaspore ontkiem en infiltreer die wortels. Die wortels word dan heeltemal aangepak met bakterieë en voordelige fungi.
Protosoë soos amebes en flagellate voed al langs die rante van hierdie aangepakte wortels. Groter predatore soos aalwurms en erdwurms voed dan op die bakterieë, fungi en protosoë rondom die wortels.
Op die grondoppervlak verwerk mikrowurms blare en plantmateriaal in kleiner deeltjies sodat bakterieë en fungi in die grond daarop kan voed. Springsterte voed op fungi, terwyl komposwurms (Eisenia fetida) op fungi, bakterieë, aalwurms en protosoë in die grondvoedselweb voed. Makrofauna oefen fisiese effekte, chemiese effekte en biologiese effekte op die grond uit.
Fisiese effekte van makrofauna
Makrovermenging
Miere, termiete, erdwurms en grondkewers kan ‘n groot hoeveelheid grond verskuif. Sodoende bring hul minerale van dieper in die grond uit na die oppervlak en begrawe hulle die organiese materiaal vanaf die oppervlak dieper in die grond. Erdwurms kan byvoorbeeld binne tien tot 20 jaar die boonste 15 cm van die grond omkeer aangesien sulke groot hoeveelhede grond deur hul ingewande beweeg.
Mikrovermenging
Ander groepe van grondmakrofauna beïnvloed die grondstruktuur tot ‘n mindere mate, maar dit speel steeds ‘n belangrike rol. Hierdie organismes, hoofsaaklik Diptera-larwes, beskik oor ‘n kleiner kapasiteit om in die grond te grou. Hulle is meestal op die grondoppervlak, waar hulle organiese materiaal in die grond inkorporeer. Hulle kan egter ook deur middel van uitloging in die grond inbeweeg tot ‘n diepte van 60 cm.
Tonnelkonstruksie
Tonnelvorming is essensieel vir grondbelugting en waterdreinering. Erdwurms en termiete vorm tonnelnetwerke, wat makroporeuse spasies in die grond skep en sodoende die waterdreineringstelsel binne in die grond verbeter.
Fragmentering
Die fragmentering van dooie hout, karkasse en afval is ‘n uiters belangrike aktiwiteit van grondfauna aangesien dit ‘n beduidende effek op die organiese materiaalvorming in grond het. Dit bepaal daarom die aktiwiteite van bakterie, fungi en mikrofauna-populasies.
Aggregaatvorming
Nadat afval gefragmenteer is, is dit makliker vir organiese materiaal om na die stabiele vorm, naamlik humus, afgebreek te word en om dan grondaggregate te vorm (die saamgroepering van gronddeeltjies om ‘n krummelrige, gesonde struktuur te vorm). Erdwurms, termiete, honderd-pote en duisendpote en houtluise neem gronddeeltjies saam met hulle voedsel in en dra by tot aggregaatvorming deurdat hulle organiese en minerale materiaal in hul ingewande meng.
Chemiese effekte van grondmakrofauna
Hierdie effekte is beide direk en indirek. Direkte effekte sluit in die modifikasie van voedselkwaliteit omdat dit deur die ingewande beweeg, asook spesifiek die mineralisasie van organiese materiaal en die vrystelling van voedingstowwe.
Grondmakrofauna beïnvloed ook die grondchemiese samestelling deur middel van hul uitskeidings. Die hoof indirekte chemiese effek is die mineralisasie van N, P en S deur die aktivering van mikroflora, soos byvoorbeeld bakterieë en fungi.
Biologiese effekte
Daar is verskeie biologiese effekte in grondlewe waar te neem, met predasie en kompetisie as die hoof bepalende faktore om ewewig tussen die verskillende groepe organismes te handhaaf.
Predasie skep ‘n balans tussen die hoeveelheid individue en die beskikbare voedselbronne, terwyl kompetisie ook help om grondfaunapopulasies in balans met die hulpbronne te hou.
Sekere tipes makrofauna voed op dooie materiaal en afval en verwyder dit sodoende vanaf die grondoppervlak, terwyl hulle ook organiese materiaal in die grond inwerk. Verder versprei grondmakrofauna bakterieë deur hul uitskeidings in die grond.
Invloed van makrofauna op landboupraktyke
Landboupraktyke word ook op verskeie maniere deur makrofauna beïnvloed: Wanneer erdwurms byvoorbeeld in weidingslande gevestig is, verhoog weidingsproduktiwiteit aangesien infiltrasie en die verwerking van dooie plantmateriaal wat op die oppervlak lê, verbeter word. Sodoende word erosie-verwante verliese aan materiaal en voedingstowwe beperk.
Proewe in Nieu-Seeland het ‘n verhoging van 30% en meer in weidingslande waar erdwurms in die grond gevestig is, getoon. Erdwurms breek tuin-, plaas- en voedselafval af tot vermikompos, ‘n hoë gehalte kompos wat aangewend kan word om grondkwaliteit te verbeter. Verder fasiliteer en versnel hierdie wurms die proses van grondrestourasie, aangesien hulle grondvrugbaarheid verhoog wanneer hul organiese materiaal in die grond in aftrek en ook afvalmateriaal hersirkuleer. Hierdeur verleen hulle ondersteuning om funksionerende ekostelsels beide bo en onder die grond te herstel.
Termiete speel ook ‘n rol in grondstruktuurvorming, die inkorporasie van organiese materiaal, ontbinding en voedingstofmineralisasie. Termiete bemiddel die sintese en afbreek van grond-organiese materiaal en beïnvloed waterinfiltrasie en beskikbaarheid vir plante deurdat hul die grondstruktuur verander.
Hulle beïnvloed grondfisiese eienskappe deur die konstruksie van hope, neste, tonnels en oppervlakbedekking en ook deur die vervoer van materiale, aangesien hulle dan tonnels vorm wat dreinering en belugting verbeter. Hoop-bouende termiete vorm stabiele mikro-aggregate wat fisies-afgeslote organiese materiaal teen vinnige ontbinding beskerm en gronderosie en korsvorming verlaag. Die grond van termiethope word soms as kunsmis gebruik in tropiese teelstelsels vanweë die hoë opeenhoping van voedingstowwe.
Dit is daarom uiters nuttig om makrofauna in jou grond te hê. Hierdie voordele kan deur landbou benut word ten einde volhoubaar te produseer.
Publication: July 2018
Section: Focus on