Ons vermoë om die basiese en wenslike te laat gebeur

Gepubliseer: 9 Junie 2023

284
Dr Pieter Taljaard
HUB, Graan SA pieter@grainsa.co.za

’n Afkondiging tydens ’n vlug waarop ek onlangs was, het my maar net weer aan ons ekonomiese stand van sake herinner. Die kaptein het verduidelik dat hulle verskeie hoogtes probeer het, dat dié vlak die beste een was en dat die gordels liefs moes vas bly.

Ons moes dit seker teen dié tyd al aanvaar het. Tog bly ons tydens krisistye hoop vir ’n beter uitkoms – al is dit tevergeefs. Dit is presies wat met die wisselkoers gebeur het sedert die verswakking wat gedurende Covid plaasgevind het. Net weer ’n herinnering dat ’n swak wissel­koers baie slegter nuus is as wat die tydelike verligting in plaaslike kommoditeitspryse goed is. Padlangs is die uiteinde dat basiese verbruikers – dié wat op en onder die broodlyn leef – tel­kens net verder in die knyp raak.

Strategies is Graan SA uiters goed gefokus en geposisioneer. Ons hoeveelheid intervensies asook die dringendheid daarvan plaas egter geweldige druk op ons om anders te organiseer om konstant resultate te kan bly lewer. Die fondasie is die beginpunt. Ons sal ons streeksvlakstrukture moet verbeter vir wedersydse kommunikasie. By die afgelope streeksvergaderings het ons weer gesien dat samewerking met bestaande boere­verenigings en/of studiegroepverga­derings die beste werk om sinvolle getalle te bereik.

Weet vir seker jy as graanprodusent bly die belangrikste en jou volhoubaarheid en winsgewendheid die hoogste prioriteit en fokus van al ons hulpbronne. Wat egter die afgelope klompie jare besig is om te gebeur, is dat die balans suboptimaal is. Ons sal ’n groter persentasie van die span se tyd impaktyd moet maak. Dit kan maklik gedoen word indien ons streekstrukture optimaal georganiseer word vir effektiewe kommunikasie. Om hiermee te help, is ons konstant operasioneel besig om interne sisteme te vernuwe en tegnologie tot ons voordeel te gebruik. Ons moet verseker dat die terugvoer waarmee ons werk en wat ons fokus bepaal verteenwoordigend van alle lede is. Weer eens gaan ons tegnologie effektief hiervoor kan gebruik.

Ek het die afgelope 19 maande met baie lede en nielede gesels as deel van ons strategie om nader aan ons lede te beweeg, veral met die fokus op die jonger generasie. In kort is my opsom­ming daarvan dat die tye ons noop om op besigheid te fokus. Meer informele, sosiale interaksie was altyd deel van die landbousektor – dit was en is nodig, maar tye is besig om te verander.

Veiligheid op plase, groter besigheids­eenhede en veral meer kommoditeite wat geproduseer word, veroorsaak dat die ge­leentheid vir sulke interaksie al hoe minder word. Hiermee sê ek geensins dat ons dit nie meer gaan doen nie, maar die realiteit is dat daardie luukse besig is om te verdwyn. Die feit bly staan: Produsente wil hulle regverdige stem laat hoor, met ander skakel en skouers skuur en verder op hulle gesin en besigheid fokus. Ek dink net dit gebeur nog te veel dat ons onnodig hulpbronne spandeer om intern te oortuig en motiveer wat die organisasie doen – en dit ten koste van impaktyd.

Inmenging deur regerings
Bekostigbaarheid van basiese voedsel gaan Afrika se grootste uitdaging bly, veral met die hoë vlakke van werkloosheid. Voedselskemas en basiese-inkomstetoelae is positief vir spandering – en ja, landbou kry sy regmatige deel hiervan. Die finansiering hiervan is egter nie volhoubaar nie, spesifiek as gekyk word na die hoeveelheid belastingbetalers. Niemand wil eenvoudig langer belasting betaal met ons vlak van dienslewering en korrupsie nie. Die rooi vlaggie wat hier opgaan, is inmenging.

Gedurende die onlangse Paasnaweek het ons dringende oproepe uit Zambië gekry vir die uitvoer van 5 000 ton mieliemeel daarheen – ’n land met baie beter gewaspro­duksiepotensiaal as Suid-Afrika. Dit is wat Afrika-regerings oor jare reggekry het deur met die stapelvoedsel te dobbel. Geen kommersiële produsent stel belang om dit werklik op kontinue skaal te produseer nie as gevolg van die ondeurdagte inmenging in die mark.

Aan die positiewe kant dink ek ons kan besonder tevrede wees met ons eie prestasie gedurende die afgelope paar seisoene en wat die bedryf onder uiters moeilike infrastruktuuromstandighede met mielie- en sojaboonuitvoere kon vermag.

Ek kan myself nie die enorme krisis indink wat ons sou gehad het indien ons nie die surplusse kon uitkry nie. Kyk net wat meer onlangs gebeur het toe ons tydelik nie kon uitvoer nie. Dan sidder ek ook om aan die voedselinflasie te dink wat ons sou hê indien ons nie sedert Covid geseënde opbrengste gehad het nie en moes invoer gegewe al die uitdagings.

Hoewel die graanbedryf tans nog kop bo water hou, kan ons net weet moeiliker tye is beslis op pad, veral met die weerpatrone wat lyk of dit stelselmatig besig is om in ’n ander siklus in te gaan. Soos al dikwels genoem, is verandering die enigste konstante. Moenie daardie kritieke beplanning en ontleding oorslaan nie. Maak seker jy bly volkome op hoogte, beplan vir die moeiliker tye en uitdagings wat kom. Dink ook asseblief saam hoe gemaak om Graan SA so ef­fektief moontlik te hou om vir jou resultate te kan lewer.

Ons het elkeen se insette, wysheid en veral samewerking broodnodig. Lekker boer!