July 2018

CORNÉ LOUW, senior ekonoom, Graan SA

Die Fertilizer Association of Southern Africa (Fertasa) het hierdie jaar op 19 April hul 58ste jaarkongres in Kempton Park gehou. Die kongres is besonder goed bygewoon en het met sprekers van heinde en verre gespog, wat veral oor nuwighede in die kunsmisbedryf gepraat het. Die tema was “Die toekoms van kunsmis”.

Fertasa se voorsitter, mnr Adriaan de Lange, het die kongres afgeskop met Fertasa se voorsittersverslag. Hier is ‘n paar hoogtepunte uit sy verslag:

  • Internasionale kunsmispryse het in die verslagperiode gestabiliseer soos wat produksiekapasiteit internasionaal toegeneem en die vraag konstant gebly het.
  • Die rand het ook in die verslagdoeningsperiode versterk, wat tesame met die tendens in internasionale pryse, ‘n afwaartse effek op plaaslike kunsmispryse gehad het.
  • Wat egter in ag geneem moet word, is dat afleweringskoste van die plaaslike mark afgelei word.
  • Die eskalasie van koste as gevolg van Suid-Afrikaanse uitdagings soos inflasie, verhoogde belasting en heffings, gebrek aan behoorlike infrastruktuur en basiese dienste soos doeltreffende spoorvervoer, duur elektrisiteit en duur en onproduktiewe arbeid, lei tot plaaslike koste wat nie altyd tred hou met die internasionale grootmaatkunsmisindeks nie.

Invoere van kunsmis na Suid-Afrika

  • Die invoer van kunsmis het aansienlik toegeneem van 1,9 miljoen ton in 2016 tot 2,2 miljoen ton in 2017. Uitvoere het toegeneem vanaf 0,75 miljoen ton in 2016 tot 0,83 miljoen ton in 2017.
  • Netto invoere het dus altesaam met 26% in 2017 gestyg, hoofsaaklik as gevolg van netto invoere van 14% meer ureum en 39% meer invoere van MAP.
  • Totale kunsmisverbruik in Suid-Afrika vir 2016/2017 is ongeveer 2,2 miljoen fisiese ton kunsmis, wat 446 000 ton stikstof (N), 110 000 ton fosfaat (P) en 103 000 ton kalium (K) verteenwoordig. (Hierdie syfers is Fertasa se berekeninge uit gewasaanplantings.)

Invoere van hoender
‘n Groot bekommernis wat verlede jaar geopper is, is die groot hoeveelheid hoenderinvoere na Suid-Afrika en die impak daarvan op die plaaslike pluimveebedryf – en indirek, die kunsmisbedryf. Die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPA) het later hul kommer uitgespreek omdat Suid-Afrika steeds ongetoetste meganies-ontbeende hoendervleis (MDM) uit Brasilië invoer.

Vooruitsigte vir 2018

  • Klimaatstoestande was ongunstig vir someraanplantings (2017/2018) vroeg in die seisoen.
  • Dit het gelei tot laat aanplantings van die meeste somergewasse. Oesskattings vir die meeste somergewasse is laer as die vorige jaar. Mielies is laer: 12,2 miljoen ton teen 16,8 miljoen ton verlede jaar.
  • Ramings vir sojabone is effens hoër teen 1,4 miljoen ton, vergeleke met 1,3 miljoen ton in 2017. Daar word verwag dat die totale graanproduksie op 14,6 miljoen ton te staan sal kom. Dit is aansienlik laer as die 19,3 miljoen ton van die vorige jaar.
  • Daar kan dus verwag word dat die kunsmisverbruik vir 2017/2018 laer sal wees as vir die 2016/2017-seisoen.
  • Presiese syfers vir verkope van landboukalk is nie beskikbaar nie. Indien die wydverspreide en ernstige aard van ondergrondsuurheid in ag geneem word – veral in die Vrystaat – en die ernstige, negatiewe langtermyneffek daarvan op voedselproduksie en boerderywinsgewendheid, sal kalkverkope na verwagting in daardie gebiede toeneem indien dit nie mettertyd reggestel word nie.
  • Dit word aanbeveel dat produsente by kundiges betrokke raak om hul bemestingsprogramme en -praktyke te hersien om hierdie aangeleentheid aan te spreek vir volhoubare produksie in die toekoms.
  • Die “grondonteiening sonder vergoeding”-bedreiging het ‘n wesenlike negatiewe uitwerking op die boerderygemeenskap se vertroue in die toekoms gehad. Dit is duidelik dat sterk leierskap en samewerking tussen die regering en sakeleiers nodig sal wees om dit te bestuur.
  • Al die groot landbou-organisasies het die regering kennis gegee van hul besorgdheid ten opsigte van hierdie kwessie. ‘n Kalm, kollektiewe en beraadslagende benadering sal die beste resultate oplewer.

Fertasa aktiwiteite
Gedragskode-voldoeningstelsel
Sedert die inisiëring van hierdie program, het 19 lede ‘n voldoeningsertifikaat verwerf in vergelyking met die tien in dieselfde tyd die vorige jaar.

Lidmaatskap
Op 1 April het die Fertasa lidmaatskapsgetal op 70 gestaan, teenoor die 52 van vorige jaar. Voortgesette pogings sal aangewend word om meer lede te werf.

As gevolg van die groeiende invloed van die biokunsmisindustrie, sal meer aandag hieraan gegee word. Dit word gesien as ‘n belangrike komponent van die bedryf vir die toekoms. Hierdie fokusverandering word duidelik geïllustreer in die agenda van die kongres en simposium, waar betreklik meer klem op die biologiese aspekte van plantvoeding geplaas word.

Kunsmis-wetsontwerp
Daar is ‘n gesamentlike poging aangewend om konsensus binne die kunsmisbedryf te bereik oor die beginsels wat in die wetsontwerp ingesluit behoort te word. Hierdie poging het nie-Fertasa lede ingesluit.

Die belangrikste beginsels wat deur die kunsmisbedryf afgekondig is, is:

  • Misstowwe en nie entiteite nie, moet geregistreer word.
  • Kunsmisentiteite moet as vervaardigers gesertifiseer word.
  • Indien ‘n “raad” aangestel word om die Kunsmiswet te beheer, moet dit nie te omslagtig en duur wees nie.
  • Selfregulering moet bevorder word.

Die beginsels is in die konsepwet deur die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye (DAFF) ingesluit. Die “raad”-opsie, wat deur die lede verwelkom is, is nie ingesluit nie.

Volgens die voorgestelde wet moet kunsmisentiteite goedgekeur word voordat hul toegelaat word om kunsmis te produseer. Dit is in werklikheid ‘n verlenging van die huidige voldoeningsertifisering wat vrywillig deur sekere Fertasa lede gedoen word.

Sodra die wetsontwerp in die Staatskoerant gepubliseer word, sal dit ‘n wet word.

DAFF is tans besig met die sosio-ekonomiese impakstudie en ander ontledings en openbare konsultasie ter voorbereiding van die publisering van die wet.

Kunsmisregistrasies
Hierdie diens is uiters gewild en sal steeds deur Fertasa voorsien word. Al die agterstande met registrasies van die verlede is grootliks uitgeskakel in terme van Groep 1- en Groep 2-registrasies. Groep 3-registrasies bly ‘n uitdaging, maar vordering is onlangs met nege Groep 3-produkte gemaak.

Registrasie van Groep 3-kunsmis sal gedurende die komende jaar meer aandag geniet.

‘n Versoek van DAFF om bystand te verleen help met die ontwikkeling van ‘n elektroniese bedryfstelsel en databasis vir die registrasie-aansoeke, geniet die aandag van Fertasa se regulatoriese komitee.

Kunsmisregulasies
Fertasa het talle regstellings aan die 2012-kunsmisregulasies voorgestel. Groep 3-regulasies is ook reggestel om onduidelike vereistes uit die weg te ruim.

‘n Werkswinkel vir die finalisering van die regulasies sal in 2018 gehou word.

Sprekers
Sprekers tydens Fertasa se kongres het die volgende ingesluit:

  • Die belangrike tendense wat die toekoms van landbou dryf, is deur dr John Purchase van Agbiz aangespreek.
  • Mnr Theo Aanhane van Nederland het oor hoë intensiteit-voedselproduksie gepraat.
  • Prof Anne Grobler van die Noordwes-Universiteit het gefokus op nanotegnologie en kunsmis.
  • Me Barbara Novak van Italië het ‘n voorlegging gedoen oor die belangrikheid van kunsmisspesialiteite vir nou en in die toekoms in Europa.
  • Dr Hugo Opperman van MBFi het ‘n blik gegee oor spesialiteitsprodukte in ‘n Suid-Afrikaanse konteks.
  • Prof Nico Labuschagne van die Universiteit van Pretoria het oor rizobakterieë se rol as bio-kunsmis gesels.
  • Dr Shamie Zingore van die Internasionale Plantvoedingsinstituut het toeligting gegee oor rentmeesterskap en volhoubare kunsmisgebruik.

Publication: July 2018

Section: Focus on