June 2018

Die beginsels van effektiwiteit en doeltreffendheid in boerdery raak al hoe belangriker soos die boerdery-omgewing toenemend meer gesofistikeerd en volhoubaar moet word. In die hedendaagse uitdagende toestande met die toenemende koste van insette, lae graanpryse en druk op natuurlike hulpbronne, is dit vir produsente van kardinale belang om die produksiefaktore tot sy beskikking optimaal en volhoubaar te benut.

Die koste-prys-knyptangeffek kan duidelik in graanproduksie waargeneem word en dit veroorsaak dat produsente se winsgewendheid onder druk kom. Produsente word daarom gedwing om beter en meer effektief te boer, wat beteken dat die uitset per hoeveelheid inset moet toeneem. Die oogmerk vir die produsent, wanneer daar verwys word na die optimale benutting van produksiefaktore, moet wees om die insette wat toegedien word, asook die natuurlike hulpbronne wat beskikbaar is, ten beste te benut om soveel moontlik daaruit te kry en derhalwe wins oor die lang termyn te maksimaliseer.

Dit is egter van kardinale belang dat produsente ook die natuurlike produksiefaktore – veral grond en water – wat in meeste gevalle ‘n beperkte en kwesbare hulpbron is, optimaal en volhoubaar benut.

Doeltreffendheid en effektiwiteit
Doeltreffendheid en effektiwiteit is twee konsepte wat hand-aan-hand gaan en daarom kan dit in sommige gevalle met mekaar verwar word. Aangesien dit twee konsepte is wat gedurig in dié artikels gebruik gaan word, is dit belangrik om dit te definieer.

Doeltreffendheid beteken om iets op die regte manier te doen en om met die minste insette die meeste daaruit te kry. ‘n Voorbeeld is om graan te produseer met die minste insette en hulpbronversteuring. Hoe meer uitset per hoeveelheid insette gebruik, verkry word, hoe beter sal die doeltreffendheid van produksie wees. Die besigheidswoordeboek verwys egter na doeltreffendheid eerder as die vergelyking tussen die hoeveelheid uitset wat werklik geproduseer word teenoor die hoeveelheid wat moontlik geproduseer kan word – waar dieselfde hoeveelheid van ‘n inset verbruik word.

Effektiwiteit, aan die ander kant, is om die regte aksie te doen ten einde die regte resultaat te bereik – dus om volhoubare graanverbouingspraktyke te gebruik.

Ons kan daarom sê dat ons volhoubare graanverbouingspraktyke (effektiwiteit) wil gebruik om maksimum graan met die minste hulpbronne te produseer (doeltreffendheid). Ons moet effektief wees om doeltreffend te wees.

Vir die graanprodusent kan die doeltreffendheid van produksie aan verskeie maatstawwe gemeet word. Dit word in die meeste gevalle deeglik gedoen met die opbrengs per hektaar wat sekerlik die mees algemene maatstaf is wat produsente gebruik om hul doeltreffendheid te meet. Produsente probeer ook om hierdie maatstaf jaar na jaar te verbeter ten einde beter opbrengs per hektaar te realiseer. Dit is egter belangrik dat produsente doeltreffendheid nie hoofsaaklik aan die opbrengs per hektaar meet nie, maar ook in terme van opbrengs per hoeveelheid inset toegedien.

Dit is die beste maatstaf vir doeltreffendheid en produsente moet daarom daarna streef om die opbrengs per eenheid inset toegedien jaar-op-jaar te verhoog ten einde werklik meer effektief en doeltreffend te wees. Hierdie insette sluit alle aspekte in, wat strek vanaf saad tot en met kunsmis en selfs verskillende kunsmiselemente, soos byvoorbeeld hoeveelheid graan geproduseer per eenheid stikstof toegedien.

Verder is ook belangrik om nie net klem te lê op die fisiese insette wat toegedien is nie, maar dat produsente ook die natuurlike hulpbronne in ag sal neem wanneer hulle hierdie doeltreffendheidsmaatstawwe bereken; ons praat derhalwe hier van “eko-effektiwiteit” of “eko-doeltreffendheid”.

Die natuurlike hulpbronne wat ‘n kardinale rol in die produksie van graan speel, is onder andere grond en water – wat in meeste gevalle ook die beperkende hulpbron in die produksie van graan is. Produsente moet poog om hierdie beperkende hulpbronne so effektief moontlik te gebruik ten einde produksie te optimaliseer. Hierdie reeks artikels sal die doeltreffendheid van waterverbruik aanspreek deur die kilogram graan wat per millimeter water geproduseer word, meer diepgaande te ontleed.

Eko-doeltreffendheid
Die konsep van eko-doeltreffendheid beteken die doeltreffende en volhoubare gebruik van hulpbronne in akkerbouproduksie en grondbestuur, met die strategie om meer voedsel te produseer sonder om meer grond, water en energie-gebaseerde insette te gebruik. In die proses is dit egter belangrik om nie net die negatiewe ekologiese impak te minimaliseer nie, maar ook om gewasproduksie te maksimaliseer en eko-stelseldienste te verbeter.

Agtergrond
In Suid-Afrika word ongeveer 90% van die hektare waarop mielies geplant word, onder droëlandtoestande gedoen – wat die belangrikheid van die optimale benutting van die water en grondvog beklemtoon. Die doel van die reeks artikels wat hierop volg, is om die beginsel van die berekening te verduidelik sodat produsente dit self kan doen en meer en meer in hul eie boerderye en omstandighede kan toepas.

Dit is ook belangrik dat produsente nie net die berekeninge doen nie, maar dat hulle ook die inligting daadwerklik ontleed en tendense daaruit kan aflei ten einde vas te stel of daar jaar-op-jaar verbeteringe in die doeltreffendheid van produksie waargeneem kan word. Produsente moet ook hul eie situasies en doeltreffendheid meet aan die werklike potensiaal en ook vergelyk met ander gedeeltes van die land – of selfs in dieselfde streek – om vas te stel of hul bo of onder die gemiddelde is. Dit sal produsente dwing om meer indringend na oplossings en alternatiewe te kyk.

In die res van die reeks sal daar gemiddeldes uit verskillende gebiede van die land se produksie-areas met mekaar vergelyk word op grond van reënvalgemiddeldes wat vanaf verskillende weerstasies van die Landbounavorsingsraad (LNR) in die gebiede verkry is – en ook gemiddelde opbrengsdata wat vanaf die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) verkry is. Dit behoort verteenwoordigende gemiddeldes in die verskillende streke te weerspieël. Produsente word daarom aangemoedig om hul eie data te verwerk en daarmee te vergelyk. Daar gaan ook in sekere gedeeltes van produsente se inligting gebruik gemaak word. Indien daar produsente is wat bereid is om inligting vir die skryf van die artikelreeks met ons te deel, is hul welkom om met ons in verbinding te tree.

Die berekeninge
Alhoewel daar ‘n groot aantal verskillende veranderlikes is wat in gedagte gehou moet word in die berekening van die kg graan/mm beskikbare water, is dit wel noodsaaklik dat daar konsekwentheid in die berekening daarvan is. Die inligting tot die produsent se beskikking is een van die faktore wat wel ‘n invloed het op die formule wat gebruik word.

Die inligting wat in die res van die reeks artikels gebruik gaan word, is maandelikse reënvalsyfers soos gemoniteer deur die verskillende weerstasies verskaf deur die LNR-Grond, Klimaat en Water (GKW), asook die NOK se opbrengsinligting per seisoen vir ‘n spesifieke streek. Die seisoen is bereken vanaf Augustus tot April – met die aanname dat 20% van die reën wat gedurende Mei tot Julie val, deel vorm van die volgende seisoen se plantbeskikbare water.

Reënval per seisoen = (mm reën Augustus, jaar 1 tot April, jaar 2) + (20% x mm reën Mei tot Julie, jaar 1)
Kg graan/ha = NOK-opbrengs x 1 000
Kg graan/mm water = kg graan/ha/reënval per seisoen

Ten slotte
Die hoofdoel van die reeks artikels sal wees om meer lig te werp op die beginsels vir die berekening van waterverbruiksdoeltreffendheid in graanproduksie. Dit is belangrik dat produsente hierdie berekeninge doen en hulself meet aan die norme wat beskikbaar is ten einde vas te stel of hul eie effektiwiteit en doeltreffendheid bo of onder die norm (potensiaal) is en dan vas te stel wat die redes daarvoor kan wees.

Verskeie internasionale studies het al aangedui dat die potensiaal vir mielieverbouing tussen 15 kg en 20 kg graan/mm water/jaar is. Die gemiddeld vir Suid-Afrika is ongeveer 8 kg graan/mm water/jaar en die gemiddelde in verskillende streke van die land sal in die volgende gedeeltes van die reeks bespreek en aangedui word.

Publication: June 2018

Section: On farm level