June 2018
DR DANIE BEUKES, onafhanklike grondkundige
In Deel 1 van die artikel is die agtergrond en die proefpraktyke wat in die vergelyking van die Argentynse en plaaslike stelsels gebruik is, bespreek.
Die produsentemedewerkers, naamlik mnre Willem Groothof (Good Hope, Settlers), Tony da Costa (Manjoh Ranch, Nigel), David Maree (Leeuwkuil, Odendaalsrus) en Arno van Vuuren (Lichtenburg) het ingewillig om proewe uit te voer waar die Argentynse direkte manier van plant in stoppelreste met nou plantrye en hoë plantdigthede met bestaande plaasstelsels tussen verskeie gewasse vergelyk word.
In hierdie artikel (Deel 2) word gefokus op gewasgroei en die opbrengs wat behaal is met die twee produksiestelsels op die proeflokaliteite. Die Lichtenburgproef is ongelukkig na twee seisoene gestaak en word nie ingesluit nie.
Seisoenale reënval
Die seisoenale (Oktober – April) reënval vir 2013/2014 vir Good Hope, Manjoh Ranch en Leeuwkuil was 427 mm, 601 mm en 408 mm, onderskeidelik. In al drie gevalle was dit onder die langtermyngemiddeldes vir die betrokke omgewings. Dit is veral op Good Hope waar die reënval heelwat minder was as die langtermyngemiddeld van 595 mm, met uiters lae reënval in Januarie en Februarie. Verder moes planttyd ook tot Desember uitgestel word, weens onvoldoende reën in Oktober en November.
Gewasgroei en -opbrengs
Good Hope
Foto 1 en Foto 2 toon die groei van graansorghum en sonneblom soos op 1 April 2014. Die sonneblomme het, gegewe die swak reënseisoen, die beste groei getoon. Die sojabone het bitter swaar gekry en is uiteindelik nie geoes nie.
Graansorghum
Grafiek 1 toon dat uiters swak graanopbrengste (330 kg/ha – 556 kg/ha) in die 2011/2012-seisoen verkry is as gevolg van onvoldoende reënval.
In die 2012/2013-seisoen is die graansorghum nie geoes nie as gevolg van grootskaalse voëlskade. Beter graanopbrengste (1 009 kg/ha – 1 300 kg/ha) is in die 2013/2014-seisoen verkry, met soortgelyke opbrengste vir beide stelsels. Daar moet bygevoeg word dat die langtermyn-plaasopbrengs 3 000 kg/ha is. Die gemiddelde graanopbrengs oor seisoene vir die Argentynse stelsel (91 000 plante/ha) is 734 kg/ha met die plaaspraktyk (67 000 plante/ha) effens beter teen 824 kg/ha. Vir die 2013/2014-seisoen is ‘n tendens aangeteken dat graanopbrengs met die verhoging in plantestand verbeter het.
Teen hierdie agtergrond sou die keuse van ‘n produksiestelsel vir graansorghum, in wisselbou met sonneblom, vir hierdie semi-ariede omgewing op die plaaspraktyk val.
Sonneblom
Gemeet teen die langtermyn-plaasopbrengs van 1 200 kg/ha, is bevredigende graanopbrengste (1 100 kg/ha – 1 477 kg/ha) in die laaste twee seisoene behaal. Gemiddeld het die Arg40K (Argentynse stelsel; 40 000 plante/ha) teen 1 316 kg/ha die beste oor die drie seisoene heen gevaar, gevolg deur die plaaspraktyk (32 0000 plante/ha) met 1 234 kg/ha, en laastens die Arg51K teen 1 173 kg/ha. Resultate vir die 2013/2014-seisoen toon ‘n swakverwantskap tussen graanopbrengs en plantestand.
Met die resultate in ag genome sou die keuse van ‘n produksiestelsel vir sonneblom, in wisselbou met graansorghum, vir hierdie semi-ariede omgewing moontlik op die Arg40K val. Indien saadkoste in berekening gebring word, sal die plaaspraktyk met sy laer plantestand heel waarskynlik die ideale opsie wees.
Sojabone
Sojabone is op aandrang van die Argentynse medewerkers aangeplant, alhoewel dit nie kommersieel op die plaas verbou word nie. Weens lae reënval en die swak verspreiding daarvan, was die sojaboonaanplantings in al drie seisoene ‘n mislukking, omdat die plante te laag was om meganies te oes.
Manjoh Ranch
Danksy die goeie 2013/2014-reënseisoen was die vegetatiewe groei van mielies (Foto 3) en sojabone uitstekend onder beide die Argentynse stelsel en die plaaspraktyk.
Mielies
Grafiek 2 toon dat, gemiddeld oor die drie seisoene heen, die Arg60K (Argentynse stelsel, 60 000 plante/ha) en die Arg80K, graanopbrengste van 9 890 kg/ha en 9 650 kg/ha, onderskeidelik, opgelewer het teenoor die plaaspraktyk (Pls42K) se 8 160 kg/ha. Vir die 2013/2014-seisoen veral is ‘n progressiewe toename in graanopbrengs met ‘n toename in plantestand (soos gemeet teen oestyd) waargeneem met ‘n opbrengsplato by 54 000 plante/ha tot 64 000 plante/ha (Grafiek 3).
Teen die agtergrond van dié resultate sou die keuse van ‘n produksiestelsel vir mielies, in wisselbou met sojabone, vir hierdie koel humiede gebied op die Argentynse stelsel van 54 000 plante/ha tot 64 000 plante/ha met ‘n 52 cm-rywydte val.
Sojabone
Vir die kortseisoenkultivar (PAN 1454) was die gemiddelde graanopbrengs 2 900 kg/ha onder die Argentynse stelsel oor seisoene heen hoër as dié vir die plaaspraktyk van 2 150 kg/ha. Die langseisoenkultivar (PAN 1664) het swakker gevaar onder die Argentynse stelsel teen 1 600 kg graan/ha, vergeleke met die plaaspraktyk van 1 740 kg graan/ha. Oor seisoene en alle stelsels heen het die kortseisoenkultivar teen 2 750 kg graan/ha heelwat beter presteer as die langseisoenkultivar teen 1 630 kg graan/ha.
Teen hierdie agtergrond sou die keuse van ‘n produksiestelsel vir sojabone vir hierdie koel humiede gebied soos volg wees: ‘n Argentynse stelsel waar ‘n kortseisoenkultivar teen 250 000 plante/ha en 52 cm-rywydte in wisselbou met mielies verbou word.
Leeuwkuil
Al drie die proefgewasse (mielies, sonneblom en sojabone) het in die 2013/2014-seisoen goeie groei getoon (Foto 4) danksy goeie reënneerslae van 65 mm en 83 mm in Januarie en Februarie onderskeidelik.
Mielies
Grafiek 4 toon dat, gemiddeld oor twee seisoene, die plaaspraktyk (28 000 plante/ha) teen 6 271 kg graan/ha heelwat beter presteer het as die Argentynse stelsel (45 000 plante/ha) teen 5 448 kg graan/ha. Beide stelsels het sojabone as wisselbougewas in die vorige seisoen gehad. Die plaas se langtermynmielie-opbrengs wissel van 5 000 kg/ha tot 7 200 kg/ha vir ‘n twaalf maande- en oorlêstelsel, onderskeidelik. Die seisoenale reënval vir 2012/2013 en 2013/2014 het gewissel van 415 mm tot 408 mm, onderskeidelik. Op die sandgrond van Leeuwkuil is in die 2013/2014-seisoen ‘n progressiewe afname in graanopbrengs gemeet, met ‘n toename in plantestand (soos gemeet met oestyd – Grafiek 5). Op die sandkleileemgrond op Manjoh Ranch is presies die teenoorgestelde resultaat gevind (sien Grafiek 3).
Teen dié agtergrond sou die keuse van ‘n produksiestelsel vir mielies vir hierdie semi-ariede, sandgrond-gebied op die bestaande plaaspraktyk van ‘n beitelploegbewerking vooraf en 28 000 plante/ha in 100 cm-rye val. Beide sonneblom en sojabone sou oorweeg kan word as ‘n wisselbougewas.
Sonneblom
In die 2012/2013-seisoen het beide stelsels 1 900 kg graan/ha gelewer. In die 2013/2014-seisoen het die plaaspraktyk (Plaas40KM) teen 40 000 plante/ha in wisselbou met mielies 3 823 kg graan/ha gelewer, vergeleke met die Argentynse stelsel (Arg40KM) se 3 418 kg graan/ha – ‘n verskil van 12%. Die plaas se langtermynsonneblomopbrengs wissel van 1 500 kg/ha tot 2 700 kg/ha vir ‘n twaalf maande- en oorlêstelsel, onderskeidelik. Daar was ‘n aanduiding van ‘n toename in graanopbrengs met ‘n toename in plantestand (soos gemeet teen oestyd).
Die resultate in ag genome sou moontlik enigeen van die plaaspraktyk of Argentynse stelsel gekies kon word as ‘n produksiestelsel vir sonneblom, in wisselbou met mielies, vir hierdie semi-ariede sandgrond-gebied.
In ‘n volgende artikel sal aangetoon word hoe grondkompaksie op hierdie sandgrond sonneblomwortels op ongeveer 20 cm diepte horisontaal laat draai onder die Argentynse stelsel – en gevolglik ‘n beperkte grondvolume benut.
Sojabone
In die 2012/2013-seisoen het die Argentynse stelsel 1 200 kg graan/ha gelewer en die plaaspraktyk 1 400 kg graan/ha beide stelsels teen 250 00 plante/ha. Die 2013/2014-aanplanting is eers op 4 Januarie 2014 afgehandel, wat betreklik laat was vir sojabone. Die uiteinde was ‘n oesmislukking weens droogtetoestande en omdat die plante te laag was vir ‘n meganiese oesaksie.
Samevatting
Uit die resultate van drie seisoene in drie agro-ekologiese gebiede is dit redelik duidelik dat die Argentynse stelsel van nou rywydtes en hoë plantestande nie sonder meer op alle gewasse, gronde en vir enige hoeveelheid seisoenale reënval toegepas kan word nie.
Om op te som:
- Op die swaar getekstureerde (>50% klei) vertiese grond in die warm semi-ariede omgewing van Good Hope (op die Springbokvlakte):
- Is die plaaspraktyk (met ‘n laer plantestand en wyer rye as die Argentynse stelsel) die keuse vir ‘n produksiestelsel vir graansorghum in wisselbou met sonneblom.
- Kan, vir ‘n produksiestelsel vir sonneblom in wisselbou met graansorghum, enigeen van die Arg40K (Argentynse stelsel teen 40 000 plante/ha) of die plaaspraktyk teen 32 000 plante/ha oorweeg word.
- Hoewel sojabone in die proewe as ‘n wisselbougewas ingesluit was – en ‘n mislukking was – word dit nie in die omgewing op kommersiële skaal verbou nie.
- Moet dit verder in gedagte gehou word dat die vertiese gronde van die omgewing ‘n prominente selfbewerkingsaksie het (self mulching) en as sulks geen- of verminderde bewerking komplementeer.
- Op die sandgronde in die warm semi-ariede omgewing van Leeuwkuil (Odendaalsrus):
- Is die plaaspraktyk (met ‘n laer plantestand en wyer rye as die Argentynse stelsel) die keuse vir ‘n produksiestelsel vir mielies in wisselbou met sonneblom. Veral opvallend is die afname in opbrengs met ‘n toename in plantestand.
- Kan, vir ‘n produksiestelsel vir sonneblom in wisselbou met mielies, enigeen van die Arg40K of die plaaspraktyk, beide teen 40 000 plante/ha, oorweeg word.
- Hoewel sojabone in die proewe as ‘n wisselbougewas ingesluit was, word dit uit ‘n ekonomiese oogpunt nie op Leeuwkuil oorweeg nie.
- Op die medium getekstureerde (15% – 20% klei), diep gronde in die koel, humiede omgewing van Manjoh Ranch (Nigel):
- Sou die keuse vir ‘n produksiestelsel vir mielies, in wisselbou met sojabone, op die Argentynse stelsel van 54 000 plante/ha tot 64 000 plante/ha met ‘n 52 cm-rywydte val. Die toename in opbrengs met ‘n toename in plantestand is veral opvallend – ‘n sterk oorweging om die Argentynse stelsel met sy hoë plantdigthede te ondersteun.
- Sou die keuse van ‘n produksiestelsel vir sojabone, in wisselbou met mielies, ‘n Argentynse stelsel wees, waar ‘n kortseisoenkultivar teen 250 000 plante/ha met ‘n 52 cm-rywydte verbou word.
‘n Finale opmerking
Die Argentynse stelsel kom die hoofbeginsels van bewaringslandbou na en moet as sulks ‘n regmerkie kry. Indien die plaaspraktyke van die drie lokaliteite weer ontleed word, kan die afleiding gemaak word dat dié beginsels in die behoud van stoppeldeklae, minimum grondversteuring en wisselbou – miskien met plaaslike aanpassings – wel toegepas is.
Publication: June 2018
Section: On farm level