February 2018

PIET LOMBARD en DR JOHANN STRAUSS, Wes-Kaapse Departement van Landbou

In die Wes-Kaap is daar verlede jaar probleme ervaar met die vestiging van kanola. Die ontkieming op sommige landerye was goed en egalig, terwyl daar op ander landerye baie swak en onegalige opkoms was, met groot kaal kolle waar geen opkoms was nie.

Neem in ag dat byna al die kanola geduren­de verlede jaar in droë grond geplant is en dat die saad vir weke aan hoë grondtemperature blootgestel is en na die eerste reën in Junie weer aan baie lae ontkiemingstem­perature blootgestel is.

Voor ons die frase, “saadprobleme by kanola” gebruik, moet ons eers na alle faktore kyk wat aanleiding kan gee tot swak vestiging van kanola.

Sekondêre dormansie
Die afgelope seisoen is gekenmerk deur ‘n lae persentasie ontkieming en ontkieming wat oor weke plaas gevind (Foto 1) het. Die verskynsel is nie nuut nie en het telkemale in die verlede voorgekom. Die skaal waarop dit in 2017 waargeneem is, oortref net bloot vorige waarnemings. Die verskynsel word onder meer toegeskryf aan sekondêre dormansie van kanolasaad.


Ontkieming van saad en sekondêre dormansie
Fase 1
Kanolasaad bevat 7% –  8% vog met plant. Tydens Fase 1 neem die saad vog op, terwyl die spoed van wateropname bepaal word deur grondvog en saadgrootte. Die saad swel en die saadhuid word taai.

Fase 2
Tydens die tweede fase versnel die meta­bolisme in die saad en bly die voginhoud baie dieselfde. Ensieme in die embrio word geaktiveer. Dit is vir die saad moontlik om in hierdie stadium groei en ontwikkeling te stop en sekondêre dormansie te ontwikkel.

Fase 3
Fase 3 is die tweede periode van vinnige vogopname en hierdie vogopname duur voort tot ‘n voginhoud van ongeveer 24% in die saad bereik word. Tydens hierdie fase bars die saadhuid oop en die saailingstadium begin. Die proses kan nie meer gestop word nie. Die saailing kan nie uitdroging in hierdie stadium van ontwikkeling hanteer nie.

Wat veroorsaak sekondêre dormansie?

  • Hoë grondtemperatuur verhoog die vlakke van dormansie. In studies is be­wys dat hoër vlakke van dormansie voorkom waar saad aan 20°C blootgestel word, as teenoor 12°C. Die laagste vlak van dormansie kom voor by 5°C.
  • Lae beskikbare grondvog speel ‘n belangrike rol.
  • Lae beskikbare grondvog en hoë temperature kan vlakke van dormansie ver­hoog. Waar dit egter saam voorkom, verhoog hierdie vlakke nog verder.
  • Sekondêre dormansie is ‘n kultivar­eien­skap. Kultivars reageer ook verskil­lend tussen seisoene, wat op ‘n sterk kultivar/omgewingsinteraksie dui.

Sekere kultivars se ontkieming was meer negatief geraak as ander. In die kultivar­proewe is gevind dat die ontkieming van sommige kultivars swakker was in die Suid-Kaap terwyl dit goed ontkiem het in die Swartland.

Effek van lae temperature op die ontkieming van kanola
Dit is ‘n erkende feit dat temperatuur die spoed en persentasie van ontkieming beïn­vloed. Volgens die Kanola Raad van Kanada (2013) is naby aan 100% ontkieming moontlik binne vyf dae tot 15 dae, afhangende van die grondtemperature.

Die optimum temperatuur vir kanola ontkieming is 15°C – 20°C (Alberta Agriculture, Food and Rural Development, 1980). Dit is ook waar dat by laer grondtemperature die persentasie ontkieming ook laer is. Baie lae grondtemperature het ‘n verleng­de periode van ontkieming en laer persentasie ontkieming tot gevolg. Met ‘n grondtemperatuur van 22°C is ontkieming vinnig (binne drie dae). By 10°C word 95% ontkieming na agt dae bereik en by <6°C is ontkiemingspersentasie baie laag (10% en laer) (Edwards, 2011 en Kanola Council of Canada, 2003).

Klimaat in 2017
Die grondtemperature gedurende verlede jaar was voor die aanvang van die eerste reën op 6 Junie daagliks bo 20°C, wat bevorderlik is vir die ontwikkeling van sekondêre dormansie (Grafiek 1). Direk na die reën het die grondtemperature gedaal tot so laag as 7,1°C tydens die proses van ontkieming, wat vestiging nadelig beïnvloed. Die afgelope seisoen was dus die “perfekte storm” – gelukkig is die kans op sulke uiteenlopende grondtemperature skraal.

Gevolgtrekking
Die probleme kan saamgevat word in swak ontkieming en stadige ontkieming wat oor weke plaasvind. Waar ontkieming oor ‘n periode van weke plaasvind, is die oorsaak waarskynlik sekondêre dormansie.

By swak ontkieming (met min saailinge wat later vestig) is die oorsaak moontlik te lae temperature of te min grondvog met die aanvang van Fase 3 van ontkieming.

Praktyke moet probeer vermy word waar saad vir lang periodes in warm, droë grond moet lê. Grond met baie min grondvog moet verkieslik ná reën geplant word om risiko van swak ontkieming te voorkom.

Belangrik
Produsente moet nie al die etikette op die sakke vernietig nie. Dit bevat die lotnommer van die saad, wat noodsaaklik is om saadkwaliteit voorplant te bevestig. Verskillende kultivars reageer ongelukkig altyd verskillend op omgewingsomstandig­hede, maar die saad moet nogtans aan ‘n minimum ontkiemings­vereiste voldoen.

Vir meer inligting, kontak mnr Piet Lombard by PietL@elsenburg.com.
Publication: February 2018

Section: Focus on