February 2018

LOURENS DE KOCK, Graan SA Grondboonwerkgroep en WIKUS SNIJMAN, LNR-Graangewasse, Potchefstroom

Sedert die 2006/2007-seisoen is nasionale grondboonkultivarproewe in die grondboonproduksiegebiede van Suid-Afrika uitgevoer. Die laaste evaluering is gedurende die 2011/2012-seisoen uitgevoer, waarna die Elite-kultivarproewe op die been gebring is, waar internasionale lyne getoets word vir aanpassing by Suid-Afrikaanse toestande en lyne van die LNR.

‘n Inisiatief van die grondboonbedryf het in 2016/2017 die Suid-Afrikaanse grondboonkultivarevaluasie geïnisieer, waar plaaslik-geregistreerde kultivars van verskillende maatskappye, asook sommige teellyne van die LNR, in die grondboonproduksiegebiede van Suid-Afrika getoets is.

Inligting wat uit hierdie evaluasieprojek voortspruit, is van groot belang vir die grondboonbedryf aangesien produsente hierdie inligting benodig om kultivarkeuses uit te oefen, asook vir saadkwekers om kultivars te identifiseer wat goed presteer.

Die evaluasieprojek
Die belangrikheid van aanpasbaarheid, opbrengs en kwaliteit word uitgelig in die grondboonevaluasieproewe.

Geregistreerde kultivars word deur proefdata geëvalueer om te verseker dat die nuutste relevante data vir produsente en die bedryf beskikbaar is. Dit is belangrik om die verskillende kultivars in die belangrikste grondboonproduksiegebiede te evalueer, aangesien dit beter insig gee van die aanpasbaarheid oor verskillende seisoene. Hierdie data word gebruik om die Suid-Afrikaanse grondboonkultivarevaluasieverslag saam te stel.

Sedert die nasionale grondboonkultivarproeweprojek in 2012 tot ‘n einde gekom het, het die grondboonbedryf vergader om die evaluasieproewe weer in te stel om belangrike inligting te bekom wat saadkwekers en produsente benodig om ingeligte besluite te neem.

Tydens die Oktober 2016 Suid-Afrikaanse Grondboonforumverga­dering is ‘n werkgroep begin om die 2016/2017-aanplanting te koördineer en binne nege dae na inisiasie is die agt beskikbare proewe uitgestuur. Mnr Lourens de Kock (Graan SA Grondbone­werkgroep) het hom verbind as koördineerder vir hierdie projek.

Materiaal en metodes
Twaalf geregistreerde kultivars van drie maatskappye (LNR, Triotrade en Golden Peanut) en agt potensiële kultivarteellyne van die LNR is op agt verskillende lokaliteite getoets. Elk van hierdie lokaliteite het ‘n unieke klimaat en grondtipe, watverteenwoordigend is van die grondboonproduksiegebiede van Suid-Afrika.

Die proewe is in twee groepe verdeel: Besproeiing- (drie) en droëlandproewe (vyf). ‘n Volledige ewekansige blokontwerp is gebruik vir die proefuitleg. Drie herhalings, per proef, is gedoen. Elke proef het belangrike data beskikbaar volgens die gebied waarin dit geplant is, opgelewer. Standaard landboupraktyke is toegepas.

Plantdatums is tussen 15 November en 30 November. Prieska se plantdatum was 10 Desember en Delareyville en Schweizer-Reneke s’n laat in Desember.

Dit is krities om te voldoen aan voorgeskrewe plantdatums aange­sien afwyking vanaf daardie datums tot groot opbrengsverliese kan lei. Alle proewe is op 150 dae na plant geoes om eenvormigheid oor al die proewe heen te verseker.

Resultate
Die resultate per proef word in inkomste (R/ha) uitgedruk per kultivar (Tabel 1 tot Tabel 8). Die R/ton pitte is ‘n gerealiseerde prys volgens gradering. Let daarop dat die resultate slegs van die 2016/2017-seisoen is en dat opbrengste bo-gemiddeld hoog was gedurende hierdie seisoen as gevolg van goeie weersomstandighede.

By elke lokaliteit is die kultivars gerangskik van hoogste R/ha tot die laagste.

ARC-SelliePlus was die mees uitstaande kultivar, wat goed presteer het onder beide droëland- en besproeiingsomstandighede.

Publication: February 2018

Section: Focus on