Groot deurbraak vir sojaboonbedryf: Só werk die heffing

98

Die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye het op 22 Junie vanjaar ‘n statutêre heffing op sojabone goedgekeur, waarvolgens saadmaatskappye vergoed kan word vir hul prestasie in die sojaboonsaadmark. Die heffing wat ingesamel word, sal volgens saadmaatskappye se markaandeel aan hulle uitbetaal word.

Graan SA sien die goedkeuring en implementering van hierdie sojaboonteling-en-tegnologieheffing as ‘n groot deurbraak. Dit sal meebring dat ons produsente toegang tot die nuutste kultivars en tegnologie het, om sodoende met ander lande te kan kompeteer.

Waarom ‘n heffing op graan?
Vir baie lank het plaaslike sojaboonprodusente nie toegang tot die nuutste GMO-tegnologie en genetika verkry nie. Dit sal nou verander, aangesien die sojaboonbedryf nou ‘n manier gevind het om tegnologie- en kultivarontwikkelings te befonds.

Waar het die hindernis ontstaan?
Dit is wettig dat produsente ‘n deel van hul oes mag terughou om in die volgende jaar te plant. Volgens die Suid-Afrikaanse Nasionale Saadorganisasie (SANSOR) word 80% van soja-aanplantings met teruggehoue saad geplant.

Alhoewel dit alles wettig is, veroorsaak dit dat saadmaatskappye nie vergoed word vir die navorsing en ontwikkeling van nuwe tegnologie en kultivars nie. Dit verhoed daarom dat verbeterde sojaboonsaad en tegnologie die plaaslike mark betree.

Wanneer tree die heffing in werking en wat is die bedrae betaalbaar?
Die teling-en-tegnologieheffing op sojabone is vir twee jaar goedgekeur, met ingang 1 Maart 2019. Die heffing is R65/ton vir die eerste jaar en R80/ton vir die tweede jaar.

Hierdie waardes is bereken as 1,2% van die voorafgaande bemarkingsjare se gemiddelde sojaboonprys en sal betaalbaar wees as produsente hul sojabone verkoop.

Vir die eerste jaar se R65/ton is die gemiddelde prys van die 2015/2016-bemarkingsjaar vir sojabone gebruik – 1,2% van R5 495/ton = R65/ton.

Vir die tweede jaar se R80/ton is die gemiddelde prys van die 2016/2017-bemarkingsjaar gebruik (tot en met November 2016) – 1,2% van R6 647/ton = R80/ton.

Soos die heffing dus vorder (na hierdie tweejaar-termyn), sal die bedrag varieer afhangende van die tendens in die sojaboonprys ook na aanleiding van die vrystelling van nuwe tegnologie.

Deur wie word die heffing geadministreer?
Die sojaboonheffing sal deur die SA Cultivar and Technology Agency (SACTA) geadministreer word en volgens markaandeel aan saadmaatskappye uitbetaal word.

SACTA is ‘n nie-winsgewende maatskappy wat gestig is om saadheffings vir alle oopbestuifde gewasse te administreer. Koring- en garsheffings word alreeds vir ‘n tweede jaar deur SACTA vir hierdie doel ingesamel en uitbetaal.

SACTA bestaan uit ‘n raad van direkteure wat soos volg saamgestel is:

  • Twee verteenwoordigers van Graan SA;
  • twee verteenwoordigers van SANSOR;
  • twee verteenwoordigers van die Minister van Landbou;
  • een verteenwoordiger van Agbiz Grain (silo-industrie); en
  • een verteenwoordiger van die sojaboonverwerkingsbedryf.

As nie-winsgewende maatskappy word SACTA geadministreer deur L&L Landboudienste.

Hoe werk die uitbetaling?
Die teling-en-tegnologieheffing wat ingesamel word, gaan volgens saadmaatskappye se markaandeel in die sojaboonsaadmark uitbetaal word. Die saadmaatskappye met die grootste markaandeel behoort derhalwe die meeste voordeel hieruit te trek.

Die berekening van markaandeel kan gedoen word deur verskillende gewigte aan die volgende inligtingsbronne toe te ken:

  • Nuwe saadverkope;
  • lewerings per kultivar by verskillende silo’s en verwerkers; en
  • inspeksies in die belangrikste produksie-omgewings.

Dit is belangrik om kennis daarvan te neem dat SACTA se akte van oprigting bepaal dat die heffing aan die geregtigde saadmaatskappye uitbetaal moet word. Wat ook belangrik is om in ag te neem, is dat dié heffing volgens ‘n statutêre heffing ingesamel word. Hiervolgens word bepaal dat 20% van die heffing vir transformasieprojekte geallokeer moet word.

SACTA sal ook hierdie fondse bestuur en op meriete op ‘n projekbasis uitbetaal.

Wat is wie se verantwoordelikheid?
Dit is belangrik om kennis te neem dat dié statutêre heffing ‘n verpligte heffing is en ‘n beroep word op die sojaboonbedryf gedoen dat almal sal saamwerk.

Produsente se verantwoordelikheid
Produsente moet hul kultivars tydens lewering so akkuraat as moontlik rapporteer.

Leweringsinstansies se verantwoordelikheid
Dit is belangrik dat maatskappye wat gelewerde sojabone ontvang, goed moet boekhou van die hoeveelhede van die verskillende kultivars wat ontvang is.

Saadmaatskappye se verantwoordelikheid
Om nuwe saadverkope so akkuraat as moontlik aan SANSOR weer te gee.

Wat is die voordeel vir die bedryf?
Graan SA sien die goedkeuring en implementering van hierdie sojaboonteling-en-tegnologieheffing as ‘n groot deurbraak. Dit sal meebring dat ons produsente toegang het tot die nuutste kultivars en tegnologie ten einde met ander lande te kan kompeteer.

Daar is tegnologie beskikbaar, onder andere die Roundup Ready 2-tegnologie, wat die potensiaal het om onmiddellik ‘n meer as 10%-opbrengsverhoging vir produsente teweeg te bring.

Hierdie tegnologie sou nie na Suid-Afrika toe kon kom as die bedryf nie hierdie tipe befondsingstrukture tot stand gebring het nie.

In kort is die voordeel vir produsente:

  • Toegang tot die nuutste kultivars;
  • toegang tot die nuutste tegnologie;
  • nuwe toetreders tot die sojaboonsaadmark; en
  • beter kompetisie in die mark.

‘n Voorbeeld van ‘n skrale 10%-opbrengsverhoging (teen huidige pryse) sal R435/ton ekstra in ‘n sojaboonprodusent se sak beteken.

Die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) het ook onlangs in ‘n verslag bekend gemaak dat die investering in saad en saadtegnologie, wat moontlik gemaak word deur die teling-en-tegnologieheffing, ‘n addisionele jaarlikse inkomste vir die bedryf kan beteken. Hierdie berekening is gedoen op grond van die voordele afkomstig uit die heffings wat tans op gars, koring en sojabone van krag is, wat R1 miljard addisionele jaarlikse inkomste in die sojaboonbedryf teweeg gaan bring.