Moeilike seisoen stuit sukses nie

Magda du Toit, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 12 Desember 2022

535

Koot Smit van die plaas Lynspruit naby Vryheid was vanjaar die wenner in die Groei vir Goud Nasionale Opbrengskompetisie se afdeling vir sojabone wat in KwaZulu-Natal verbou word. Hy het hierdie prestasie behaal met ’n opbrengs van 5,4 t/ha met die Don Mario-Agricol-variëteit DM6.8iRR. Dit is die tweede keer dat Koot aan die opbrengskompetisie deelneem, maar die eerste keer dat hy in die sojaboonafdeling meeding.

Volgens Koot was dit nie die maklikste seisoen wat hy al gehad het nie – hy sê dat dit ’n eiesoortige jaar met besondere uitdagings was. Hy voeg egter by dat hy dankbaar is oor die goeie reën. “Dit was ’n nat jaar en daar was tydperke wat ons bekommerd was oor die min sonlig. Wat die seisoen moeiliker as ander jare gemaak het, is die feit dat ons op kritieke stadiums gesukkel het om in die lande te kom. Ons kon nie spuit soos ons wou nie en moes lugbespuitings doen. Laat in die seisoen het dit nog baie gereën, wat dit weer moeilik gemaak het om te stroop. ’n Paar kolle was so nat dat ons eers twee weke later in die lande kon kom om te stroop.”

Hy verduidelik dat die baie reën laat in die vorige seisoen tog die voordeel gebring het dat hulle vanjaar vroeg kon plant sonder om bekommerd te wees oor beskikbare grondvog.

Wanneer Koot se opbrengs uitgewerk word in verhouding met die reën wat ontvang is, was dit 5,4 kg graan/mm reën. Die variërende insetkoste vir die gedeelte wat ingeskryf is, was R2 222/ton.

Dit is die vyfde jaar dat Koot hierdie variëteit plant en dit verteenwoordig tans ’n groot gedeelte van sy sojaboonaanplantings. Volgens hom het hy die gedeelte wat ingeskryf is presies dieselfde behandel as die res van die aanplantings. Hy meen die hoër opbrengs kan toegeskryf word aan die ideale omstandighede op die gedeelte waar die sojabone gedy het.

Koot en sy seun, Erasmus, in die sojaboonlande op Lynspruit.

Wisselbou werk
Koot plant mielies en sojabone in ’n wisselboustelsel. Hy plant twee jaar mielies op ’n land en volg dit dan op met sojabone. Hy plant sowat twee derdes mielies en een derde sojabone. Hy boer ook met bees en na stroop word die beeste op die lande gesit om die oesreste te bewei.

Wat grondbewerkings op die spesifieke blok betref, het hy voor plant ’n strookbewerking gedoen. “Op die sanderige gronde los ons die oesreste op die land om te keer dat die bogrond wegwaai. Ons sal dan so twee weke voor plant ’n algehele onkruidbespuiting doen. Ons volg ook ’n spoorverkeerstelsel op daardie sanderige lande. Met plant spuit ons vir snywurms en dan, afhangend van die onkruiddruk, sal ons weer ’n onkruiddoder so vier tot ses weke na plant toedien.”

Kunsmis word toegedien na gelang van elke land se behoefte. Die lande word driejaarliks op ’n rotasiegrondslag deeglik ontleed om die grondgesondheid te bepaal en kunsmis sal volgens die resultate van die grondontledings variërend op daardie lande toegedien word. Op die ander lande neem Agrison verteenwoordigende monsters volgens ’n gekarteerde ruitstelsel en hier word die kunsmis dan volgens die ontledings en behoefte breedwerpig uitgestrooi.

Koot hou van proewe plant om te sien hoe produkte op sy plaas onder sy eie bestuursbeginsels presteer. Hy plant sy eie proewe om vir homself inligting te genereer, maar plant ook proewe saam met Pioneer.

Hy vertrou voorts op die raad en inligting wat hy van sy saad-, kunsmis- en chemiese verteenwoordigers ontvang. “Die insetverskaffers se verteenwoordigers en landboukundiges beskik oor heelwat kennis en ek leer baie by hulle. Saam toets ons dan die oplossings wat hulle voorstel.”

Die fyn balans tussen goeie opbrengs en winsgewendheid is volgens Koot uiters belangrik. “Natuurlik kyk ek altyd hoe kostedoeltreffend ek my insette kan bekom en die boerdery kan bedryf, maar ek sal nooit kwaliteit inboet nie. Ek sal graag die kuns wil bemeester om elke seisoen die beste balans tussen opbrengs en wins te handhaaf.”

Hy sê dat hy daarop fokus om die basiese dinge wat in ’n boerdery gedoen moet word, deeglik en reg te doen. “Wanneer jy die basiese dinge reg doen, bou jy ’n goeie platform vir die res van die seisoen en vir jou boerdery se toekoms.”

Koot voel hy is nog nie gekwalifiseerd genoeg om raad aan ander jong produsente te bied nie, maar beklemtoon tog dat dit belangrik is om vrae te vra. “Ek skroom nie om raad by meer gesoute boere te vra nie. Dit is hoe ’n mens leer en hoe ’n mens knelpunte uit die weg kan ruim.”