January 2018
JOLANDA NORTJÉ, laboratoriumbestuurder, Suider-Afrikaanse Graanlaboratorium NPC
1,910 miljoen ton koring is tydens die 2016/2017-seisoen verbou. Hierdie syfer is 32,6% meer as in die vorige seisoen wat erg onder droogte gebuk gegaan het. Die Wes-Kaapse winterreënvalstreke het 57,5% tot die totale oes bygedra. Die Vrystaatse produksiesyfer was in die afgelope vier seisoene die hoogste.
Die area gebruik vir koringaanplantings het met 5,4% toegeneem tot 508 365 ha. Opbrengs het gewissel van 2,80 t/ha in die Vrystaat tot 7,60 t/ha vir besproeiingskoring in die Noord-Kaap. Die nasionale gemiddelde opbrengs het toegeneem van 2,99 t/ha in die vorige seisoen tot 3,76 t/ha.
Volgens SAGIS-syfers, is 688 161 ton koring tot en met 28 Julie 2017 vir plaaslike gebruik ingevoer. Hierdie syfer verteenwoordig 40% van die hoeveelheid koring wat in die ooreenstemmende tyd verlede jaar ingevoer is. Die grootste hoeveelheid koring is vanaf Duitsland ingevoer, gevolg deur die Russiese Federasie en die Tsjeggiese Republiek. Gedurende die 2015/2016-seisoen is ‘n totaal van 2,063 miljoen ton koring ingevoer.
Besoek gerus die Suider-Afrikaanse Graanlaboratorium (SAGL)-webwerf vir meer inligting rakende die kwaliteit van ingevoerde koring oor seisoene heen.
Kwaliteitsoorsig
‘n Totaal van 337 koringmonsters, wat 24 van die graanproduksiestreke verteenwoordig, is deur SAGL ontvang en vir hierdie opname ontleed. 316 monsters is deur kommersiële graanopbergers geneem en ingestuur en 21 monsters het direkte lewerings aan koringmeulens verteenwoordig.
Die monsters is gegradeer volgens die nuutste nasionale graderingsregulasies, soos gepubliseer in die Staatskoerant, Goewermentskennisgewing Nr. R. 64 van 29 Januarie 2016. Graad B1 is aan 39% van die monsters toegeken, Graad B2 aan 27%, Graad B3 aan 10% en Graad B4 aan 8% daarvan. Utiliteitsgraad en klas ander koring het onderskeidelik 14% en 2% van die monsters verteenwoordig.
Van die monsters afkomstig uit die Vrystaat is 71% as Graad B1 gegradeer, teenoor die 52% in die vorige seisoen. Van die besproeiingsareas se monsters is 52% as Graad B1 gegradeer (60% verlede seisoen). Graad B1 het 22% van die suidelike produksiestreke (winterreënvalgebied) se monsters verteenwoordig vergeleke met die 37% van die vorige seisoen.
Die meerderheid van monsters wat na utiliteitsgraad afgegradeer is, was as gevolg van óf die persentasie sifsels óf die persentasie ander graan en ongedorste are, tesame met die persentasie gesamentlike afwykings, wat die maksimum toelaatbare vlakke vir grade B1 tot B4 oorskry het. Sien Tabel 1.
Sifsels beteken alle materiaal wat deur die 1,8 mm standaard gleufsif gaan, terwyl ‘n goed gemengde monster van minstens 500 g (maar nie meer as 800 g nie) gesif word met 50 stote heen en weer, beurtelings weg en terug van die gradeerder. Dit is baie belangrik dat die siftoets op ‘n stewige, gladde oppervlak uitgevoer word en dat die sifbeweging in dieselfde rigting as die lengte-asse van die sifopenings plaasvind.
Ander graan, per definisie, beteken korrels of stukkies korrels van gars, hawer, korog (triticale), mielies, rog en sorghum. Are en gedeeltes van are van koring, gars, korog en rog wat nog korrels bevat wat ten volle met blomkaffies bedek is, word gesien as ongedorste are. Sien Foto 2. Die meerderheid van monsters wat die maksimum toelaatbare vlak vir ander graan en ongedorste are oorskry het, was afkomstig vanuit die winterreënvalgebied.
Die nasionale gemiddelde heelkoringmeel-proteïeninhoud van 12%, is die tweede hoogste gemiddeld sedert die 2010/2011-seisoen en 0,8% laer as die 12,8% van verlede seisoen, wat die hoogste gemiddeld sedert die 2004/2005-seisoen was. Die tien jaar geweegde gemiddeld is 11,8%. Proteïeninhoud word oor die algemeen beïnvloed deur die omgewing (grond en klimaatstoestande) waar die koring aangeplant is, sowel as die kunsmisbehandeling.
Die produksiestreke in die Vrystaat het die hoogste gemiddelde proteïeninhoud gerealiseer, naamlik 14,3%, gevolg deur die besproeiingstreke met 12,3% en die winterreënvalstreke met 11,4%. Die meelproteïengemiddeld was hierdie seisoen 11,2% in vergelyking met die 11,8% van verlede seisoen. Proteïeninhoud word op ‘n 12% vogbasis gerapporteer.
Gemiddeld was die hektolitermassa 81,5 kg/hl, wat effe hoër is as die 81,1 kg/hl van verlede seisoen. Die sewe jaar gemiddeld van monsters waarvan die hektolitermassa met behulp van die Kern 222-instrument bepaal is, is 80,6 kg/hl. Die hektolitermassa van slegs 4% van die monsters was laer as die minimum vereiste vir graad 1, naamlik 77 kg/hl. Drie van hierdie monsters het hul oorsprong in die winterreënvalstreke gehad, een elk in die besproeiingstreke van die Noord-Kaap sowel as Noordwes Provinsie en die oorblywende agt monsters in die Vrystaatstreke.
1 000 korrelmassa, gerapporteer op ‘n 13% vogbasis, het toegeneem van 36,8 g verlede seisoen tot 38,6 g hierdie seisoen, wat goed ooreenstem met die 38,8 g van 2014/2015. Die gemiddelde persentasie sifsels van 1,86% is hoër as dié van verlede seisoen en ook die hoogste sedert die 2003/2004-seisoen.
Die valgetal was gemiddeld 356 sekondes. Slegs vier monsters in totaal het valgetalwaardes laer as 250 sekondes gehad en van hierdie was twee monsters se valgetalle laer as 220 sekondes (minimum vir grade B1 tot B3). Hoë persentasies uitgeloopte korrels is by die twee monsters waargeneem, met valgetalwaardes onder 220 sekondes. Al vier monsters was afkomstig vanuit die Vrystaatstreke. Alle valgetalwaardes word aangepas vir die hoogte bo seevlak waarby die analise uitgevoer word. Suid-Afrika ervaar oor die algemeen minimale probleme met lae valgetalwaardes – tensy laat reënval kort voor of tydens strooptyd voorkom.
Die gemiddelde mixogrampiektyd van 2,7 minute was dieselfde as verlede seisoen en effe laer as die tien jaar-gemiddeld van 2,9 minute. ‘n Piektyd van tussen 2,5 en 3,5 minute word oor die algemeen deur Suid-Afrikaanse bakkers verkies. Die mixogrampiektyd of -mengtyd is ‘n aanduiding van die hoeveelheid tyd benodig om die deeg tot by die punt van optimale ontwikkeling te vermeng.
Deeg wat optimaal ontwikkel is, het die perfekte balans tussen uitrekbaarheid en kohesiwiteit en lewer die beste kwaliteit brood. Onder- en oorvermengde deeg lei tot swak kwaliteit brood, wat die volume sowel as die krummelstruktuur en tekstuur betref.
Die gemiddelde ekstraksie, verkry met die Bühler MLU 202-laboratoriummeule, was 72,5% in vergelyking met die 73,4% van die vorige seisoen. Die meelkleur, bepaal op beide die Kent Jones- en Minolta CM-5-instrumente, het goed ooreengestem met vorige seisoene. Die as-inhoud van die meel, bereken op ‘n droë basis, was effe laer as in 2015/2016.
Beide die nat (30,7%) en droë (10,5%) glutenwaardes gerapporteer op ‘n 14% vogbasis, was laer as dié van verlede seisoen, wat te wagte is aangesien die proteïeninhoud laer is. Die verhouding tussen die nat gluteninhoud en totale proteïeninhoud is gewoonlik tussen 2,5 – 2,8 tot 1. Die nasionale 2016/2017-waarde is 2,7. Glutenindekswaardes het gevarieer van 63 tot 99, met ‘n gemiddeld van 94. Hierdie indeks verskaf ‘n aanduiding van die glutensterkte (hoe hoër, hoe beter) en word nie beïnvloed deur die proteïeninhoud nie.
Reologiese deegeienskappe, bepaal met behulp van die farinograaf-, alveograaf-, ekstensograaf- en mixograaf-instrumente word gebruik om die gedrag van deeg tydens vermenging en prosessering, asook die invloed van die eienskappe op die kwaliteit van die finale produk, te voorspel. Wanneer daar na koringkwaliteit verwys word, word daar na die proteïenkwaliteit – en dus indirek na die glutenkwaliteit – verwys. Gluten is die proteïenfraksie wat die deeg- en bakeienskappe van koringmeel bepaal. Die reologiese eienskappe hierbo genoem, hou verband met die kwaliteit van die gluten en die glutennetwerk, wat ontwikkel word tydens die meng van deeg.
‘n Swak kwaliteit deeg ontwikkel vinnig en het ‘n lae energie-insetbehoefte, terwyl ‘n sterk kwaliteit deeg langer neem om te ontwikkel en ‘n hoër energie-inset benodig. Goeie kwaliteit word gekenmerk aan hoër waterabsorpsies (as gevolg van beter waterbindingsvermoë), langer mengtye en stabiliteite op die farinogram en hoër sterktes op die alveogram en ekstensogram. Die rekbaarheid van die deeg moet ook genoegsaam wees om ‘n goeie broodvolume te verseker.
Farinogramwaterabsorpsie (14% vb) was 60,1%, – effens laer as in 2015/2016. Die ontwikkelingstyd van 5,2 minute was 0,6 minute korter. Die stabiliteit (8,3 minute) het goed vergelyk en was 0,3 minute langer. Die alveogramsterkte was 37,0 cm2 en die
P/L-waarde 0,57.
Die sterkte vergelyk goed met die vorige seisoen, alhoewel dit effe laer is. Die rekbaarheid (L-waarde) het toegeneem, terwyl die stabiliteit (P-waarde) effens afgeneem het. ‘n Kombinasie van dié faktore verklaar die verlaging in die P/L-waarde vergeleke met verlede seisoen se gemiddelde waarde.
Die gemiddelde ekstensogramsterkte was 99 cm2 in vergelyking met die 105 cm2 van verlede seisoen. Beide die maksimum hoogte en rekbaarheid het goed ooreengestem met dié van die 2015/2016-seisoen. Die 100 g-bakevaluasie het getoon dat die verhouding tussen die broodvolume en proteïeninhoud uitstekend is. Al die gemiddeldes waarna in hierdie artikel verwys word, is geweegde gemiddeldes.
40 monsters, geselekteer om die verskillende produksiestreke, asook grade, te verteenwoordig, is getoets vir die teen-woordigheid van mikotoksienresidu met behulp van ‘n UPLC-MS/MS-instrument en ‘n SANAS ISO/IEC 17025-geakkrediteerde multi-mikotoksienmetode.
Vier monsters het positief getoets vir deoksinivalenol (DON)-residu. Die gemiddeld van hierdie vier positiewe waardes was 289 µg/kg, met die hoogste waarde gemeet 501 µg/kg. Hierdie vlakke is egter steeds aansienlik laer as voorgeskrewe nasionale (Goewermentskennisgewing Nr. 987 van 5 September 2016) en internasionale maksimumvlakke.
Dit is belangrik dat die monitering van mikotoksienvlakke jaarliks gedoen word, aangesien die teenwoordigheid en vlak van verteenwoordiging van swamme en mikotoksiene van seisoen tot seisoen kan verskil.
Die bepaling van aminosuurprofiele, wat 18 verskillende aminosure insluit, is hierdie seisoen vir die eerste keer as deel van die opname ingesluit. Die profiele van 40 monsters, wat verskillende grade en produksiestreke verteenwoordig, is bepaal. Aminosure is die boublokke van proteïene en is uiters noodsaaklik vir die goeie gesondheid van beide mens en dier. Vir meer besonderhede oor die resultate word lesers verwys na die 2016/2017-koringoeskwaliteitverslag.
Die resultate van die 19de jaarlikse koringoeskwaliteitsopname is beskikbaar op die SAGL-webtuiste (www.sagl.co.za). Die 2016/2017-koringoeskwaliteitsverslag is ook elektronies in ‘n PDF-formaat beskikbaar.
Publication: January 2018
Section: Relevant