Dié basiese diensvoorwaardes geld vir plaaswerkers

Lynn Louw, besturende direkteur, Human RX
Gepubliseer: 1 Oktober 2023

1306

Deel 2

Produsente speel ’n belangrike en deurslaggewende rol in Suid-Afrika, maar dit is soms besonder uitdagend om ’n produsent te wees. Die meeste bedrywe is onder druk, maar benewens ekonomiese en kommersiële druk word produsente ook direk geraak deur klimaatsverandering en onvoorspelbare weer, gronderosie en verlies aan biodiversiteit asook wisselvallige markte. Dit alles terwyl hulle te midde van die stygende verbruikersaanvraag meer voedsel van hoër gehalte teen laer pryse probeer voorsien!

Daar word dikwels gesê dat werknemers ’n maatskappy se grootste bate is en dat die doeltreffendheid van die werkers direk aan die sukses van die besigheid gekoppel kan word. Dit is slegs waar indien werkers gemotiveerd, betrokke en winsgewend in diens is. ’n Goeie werknemer in die verkeerde posisie wat boonop swak bestuur word, is eintlik ’n las vir ’n besigheid in plaas van ’n bate.

Suid-Afrika het spesifieke arbeidswetgewing wat die reg tot billike arbeidspraktyke beheer: Sektorale Vasstelling 13 van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes verwys spesifiek na plaaswerkers in Suid-Afrika. Produsente het nie noodwendig die ondersteuning van ’n menslikehulpbron-span (HR-span) soos korporatiewe maatskappye nie en is dus dalk nie altyd vertroud met die moets en moenies van hierdie wetgewing nie.

In hierdie artikel word gefokus op ’n paar aspekte van Sektorale Vasstelling 13 en die Wet op die Uitbreiding van Sekerheid van Ver­blyfreg wat spesifiek betrekking het op plaaswerkers in Suid-Afrika.

Normale werksure
Normale werksure word beperk tot 45 ure per week. Dit beteken dat iemand wat vyf dae of minder in ’n week werk, nie meer as nege normale werksure per dag mag werk nie. Iemand wat meer as vyf dae in ’n week werk, mag nie meer as agt normale werksure per dag werk nie.

Oortyd
Oortyd verwys na enige ure wat bo en behalwe die normale 45 ure per week gewerk word. Voordat oortyd gewerk word, moet ’n ooreenkoms tussen die produsent en die werker bereik word wat bevestig dat die werker se ure van tyd tot tyd die normale werksure kan oorskry. As ’n plaaswerker oortyd werk, moet hy/sy 1,5 keer sy/haar normale loon betaal word. Alternatiewelik kan ’n ooreenkoms tussen die produsent en die werker bereik word dat hy/sy verlofdae of “tyd af” gegee word in plaas daarvan om vir oortyd betaal te word. Hierdie ooreenkoms moet skriftelik wees en dit is beter om dit aan die begin van die dienstydperk in die dienskontrak te stipuleer waar dit deur die werker onderteken word.

Sondae en openbare vakansiedae
Elke nou en dan, as gevolg van operasionele druk, gebeur dit dat daar van werkers verwag word om op ’n Sondag en/of openbare vakansiedag te werk. Die Wet op Basiese Diensvoorwaardes vereis dat ’n plaaswerker dubbel sy/haar normale loon ontvang indien dit nodig is om op ’n Sondag of ’n openbare vakansiedag te werk. Openbare vakansiedae waarna verwys word, is die amptelike openbare vakansiedae soos dit in die Staatskoerant aangekondig is. Dit verwys nie na godsdienstige of ander vakansiedae nie. Soos met oortyd, moet ’n ooreenkoms vooraf skriftelik tussen die produsent en die werker bereik word om te bepaal of en wanneer daar dalk op ’n Sondag/openbare vakansiedag gewerk moet word.

Nagwerk
Indien daar van ’n werker verwag word om tussen agtuur in die aand en vieruur in die oggend te werk, word dit as nagwerk beskou. Dit is belangrik om te verseker dat ’n werker na elke skof (hetsy dit ’n dag- of nagskof is) ’n rusperiode van twaalf ure tussen “skofte” ontvang. ’n Werker kan daarom nie gevra word om ’n normale dagskof sowel as ’n opeenvolgende nagskof te werk nie, aangesien daar nie ’n duidelike rusperiode van twaalf ure tussen die skofte is nie.

Indien nagwerk vereis word, moet vervoer vir die werker tussen die werksplek en huis beskikbaar wees. Dit kan óf ’n bestaande busdiens of taxiroete wees, óf die produsent moet spesiale vervoer reël as daar nie ’n bestaande vervoerdiens is nie. Werkers is geregtig op ’n addisionele 10% van hul normale loon as bykomende toelaag vir nagwerk. Dit is belangrik om dit duidelik in die dienskontrak aan die begin van die dienstyd­perk so te spesifiseer, aangesien dit deel vorm van vergoeding.

Behuising
Anders as die meeste ander lande, is die verskaffing van verblyf aan werkers ’n algemene verskynsel op Suid-Afrikaanse plase, al is daar geen wetlike vereiste om dit te doen nie. 10% van ’n plaaswerker se loon kan vir behuising afgetrek word, mits die werker se akkommodasie aan sekere basiese vereistes voldoen:

  • Die dak van die huis moet duursaam en waterdig wees.
  • Die huis moet glasvensters hê wat kan oopmaak.
  • Elektrisiteit moet binne die huis beskikbaar wees indien die infrastruktuur daarvoor op die plaas bestaan.
  • Veilige drinkwater moet binne die huis of in die nabyheid daarvan, nie verder as 100 m nie, beskikbaar wees.
  • ’n Spoeltoilet of putlatrine moet binne die huis (of nie verder as 100 m van die huis af nie) beskikbaar wees.
  • Die akkommodasie moet nie minder as 30 m2 wees nie.

Indien daar besluit word om geld vir behuising van die werknemer se maandelikse salaris af te trek, kan geen ander addisionele aftrekkings in hierdie verband gemaak word nie. Geen geld kan dan afgetrek word vir huur, elektrisiteit, water, ensovoorts nie. Die Grondwet van Suid-Afrika bepaal dat elke mens die reg tot geskikte behuising het. Dit beteken dat plaaswerkers se gesinne by hulle op die plaas mag woon, dat hulle besoekers, pos en ander kommunikasie mag ontvang en dat hulle grafte van gesins­lede op die grond mag hê (sowel as die reg om in die toekoms die grafte in stand te hou).

Laastens, volgens die Wet op die Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg, 1997 (Wet Nr. 62 van 1997), het plaaswerkers die reg om vir die res van hul lewens op die plaas te woon indien hulle al vir meer as tien jaar op die plaas woon en werk, gedurende hulle werksloopbaan op die plaas die ouderdom van 60 jaar of ouer bereik het, of as hulle ’n siekte of gestremdheid ontwikkel tydens hul indiensneming op die plaas wat hulle belemmer om ander geskikte werk te kry.

HumanRx is ’n HR-konsultasiemaatskappy wat besef dat alle maatskappye uniek is en nie noodwendig dieselfde HR-vereistes het nie, daarom bied hulle HR-oplossings volgens individuele kliëntbehoeftes. Marknavorsing het bewys dat daar ’n besliste behoefte in die produsentebedryf bestaan vir ’n HR-oplossing wat ’n eenvoudige benadering volg en die produsent bemagtig om sy/haar eie HR-aangeleenthede te bestuur. Hulle het dus ’n aanlyn arbeidsverhoudingegereedskapstel (HR Toolkit) ont­wikkel, wat al die nodige inligting bevat om produsente te ondersteun soos byvoorbeeld dienskontrakte, posbeskrywings, beleide, prosedures, vorms, template, inligtingsmateriaal soos WVF en werkersvergoeding, tutoriaalvideo’s, vinnige verwysingsgidse en ’n dissiplinêre kode.

Die einddoel van die produk is om produsente landswyd te bemagtig en te beskerm teen lang, uitgerekte CCMA-ver­rigtinge, duur prokureursfooie en vereffeningskoste vir werknemers as gevolg van onopsetlike onregverdige en/of onbillike arbeidsverhoudinge.

Sodoende kan produsente konsentreer op dit wat vir hulle die belangrikste is – die daaglikse bestuur van hul plaas – met die wete dat hulle HR-sake in orde is en dat daar ’n span HR-spe­sialiste agter hulle staan om te ondersteun wanneer dit nodig is of as hulle vrae het. Lees meer oor die praktiese toepassing van die Toolkit in die September-uitgawe van SA Graan/Grain of klik op die QR-kode om die artikel “Dissiplinêre sake op die plaas kan in ’n nagmerrie ontaard” te lees.

Enige navrae kan gerig word aan Lynn Louw by 072 184 6333 of lynn@humanrx.co.za. Vir meer inligting oor die Toolkit besoek humanrx.mykajabi.com en vir meer inligting oor HumanRx besoek www.humanrx.co.za.