January 2017

Blaarsiektes op mielies: Wat hou die nuwe seisoen in?

RIKUS KLOPPERS, senior navorsingsbestuurder en VICKY COETZEE, plantpatoloog, DuPont Navorsing

In ‘n ideale omgewing is dit moontlik om te voorspel hoe die seisoen gaan lyk en watter probleme om te verwag. Die voorkoms van peste en plae is totaal en al afhanklik van hoe die omgewingstoestande gaan lyk tydens die kritiese groeistadia van die gewas.Blaarsiektes op mielies: Wat hou die nuwe seisoen in?

 

Die siektedriehoek (Figuur 1) illustreer hierdie beginsel die beste, waar ‘n siekte slegs kan voorkom met oorvleueling van al drie die faktore, naamlik die gasheer, patogeen en geskikte omgewingstoestande.

Dit alles ontwikkel in tyd en dit bepaal wanneer die infeksie plaasvind, hoe vinnig die siekte vestig, die epidemie ontwikkel en wat die uiteindelike skade sal wees. Daar is heelwat modelle wat die voorkoms en ontwikkeling van sekere blaarsiektes op verskeie gewasse kan voorspel en selfs wanneer om beheermaatreëls toe te pas al dan nie.

Daar is nie nuwe blaarsiektes in Suid-Afrika wat die produsent onkant behoort te vang nie. Dit is gewoonlik eerder die voorkoms van siektes in areas waar dit voorheen minder van belang was, wat verras. Dit is dikwels die direkte gevolg van klimaatstoestande wat verander. Daarom is dit belangrik dat produsente die bekende blaarsiektes op mielies kan herken en ook weet wanneer ‘n mens kan verwag om dit te sien.

Blaarsiektes op mielies: Wat hou die nuwe seisoen in?

Slegs die regte diagnose van ‘n siekte sal bepaal of die beheerstrategie suksesvol sal wees of nie. Een van die algemeenste foute wat produsente steeds maak, is byvoorbeeld om swamdoders op siektes wat deur virusse, bakterieë of selfs fisiese skade (sonbrand en windskade) veroorsaak word, toe te dien.

Dit lei gewoonlik tot groter skade as gevolg van onnodige insetkostes wat aangegaan word en die uiteindelike opbrengsverlies weens die werklike probleem (wat nie korrek aangespreek word nie).

Grysblaarvlek, bakteriese streep- en sonbrandskade word soms deur die ongeoefende oog verwar. Die beheer van die probleme is baie verskillend, of in sommige gevalle geensins moontlik nie. ‘n Baie goeie plaaslike verwysingshulpmiddel sal die produsent ondersteun om siektes te herken en dan die regte bestuursbesluite te maak.

Pannar Saad se gratis slimfoontoepassing, Sprout (Figuur 2), is een só ‘n voorbeeld waarin die belangrikste siektes wat op mielies in Suid-Afrika voorkom, opgesom is met ‘n kort beskrywing daarnaas. Dit stel die produsent in staat om sy plaaslike landboukundige of chemiese verteenwoordiger beter oor die betrokke siekte in te lig sodat die korrekte aanbeveling gemaak kan word.

Blaarsiektes op mielies: Wat hou die nuwe seisoen in?

Blaarsiektes op mielies: Wat hou die nuwe seisoen in?

Vóór dit sal voorkom, het die belangrikste mielieblaarsiektes unieke behoeftes in terme van omgewingstoestande. Verder bepaal die fisiologiese groeistadium van die plant ook wanneer sekere siektes hulle verskyning sal maak.

Die belangrikste mielieblaarsiektes waarvoor die produsent dié seisoen op die uitkyk kan wees, is saamgevat in Tabel 1 en die groeistadia waarna verwys word, is in die diagram (Figuur 3) geïllustreer.

Blaarsiektes op mielies: Wat hou die nuwe seisoen in?

Die algemeenste blaarsiekte wat in meeste mielieproduserende areas van Suid-Afrika voorkom, is noordelike mielieblaarskroei (witroes) (Foto 1). Die siekte word veroorsaak deur die swam Exserohilum turcicum.

Omgewingstoestande wat die siekte bevorder, is matige (18°C – 27°C), vogtige toestande en lang douperiodes. Die swam oorleef op mielieblaarreste en meervoudige sekondêre infeksies vind ge durende die seisoen vanuit bestaande letsels plaas.

Die letsels word gewoonlik eerste op die onderste blare opgemerk en soos spore onder gunstige toestande uit hierdie letsels vrygestel word, infekteer dit die blare boontoe en kom ‘n mens die effek teë waar die siekte in die plant opkruip.

Bruinroes (Foto 2) word gewoonlik eerste in die seisoen op die jong mielie plante waargeneem. Die siekte word veroorsaak deur die swam Puccinia sorghi. Omgewingstoestande wat die siekte be vorder, is matige temperature (16°C – 25°C) en vogtige toestande (>95% humiditeit). Bruinroesinfeksie word bevoordeel deur dou/mis toestande – veral gedurende die nag wanneer spore op die blaar oppervlak ontkiem en die blaar deur die huidmondjies penetreer.

Vroeë tekens van roesinfeksie is sowat vyf dae na infeksie as klein vlekkies op die blare sigbaar en dan ontwikkel volwaardige roespuisies (tien tot 14 dae) (Foto 2) waaruit spore vrygestel word. By vrystelling kan dit oor groot afstande deur die wind versprei word. Hierdie spore kan selfs dieselfde plant dadelik, binne dieselfde seisoen, weer infekteer.

Nog ‘n belangrike mielieblaarsiekte is grysblaarvlek (Foto 3) wat deur die swam Cercospora zeina veroorsaak word. Omgewingstoestande wat die siekte bevorder, is matige tot hoë temperature en hoë humiditeit (>95%).

Die siektesimptome word veral rondom blomtyd sigbaar – alhoewel dit onder hoë siektedruktoestande vroeër reeds waargeneem kan word. Dit is ‘n blaarsiekte wat veral in KwaZulu-Natal en die oostelike Hoëveld voorkom, waar mis en/of hoë humiditeit en hoë temperature heers.

Daar bestaan ook ‘n mate van ‘n wanpersepsie dat die spore van die swam slegs luggedraagd is en met die wind en reën versprei. Spore kan wel met die wind versprei, maar dit is sekondêre spore wat later in die seisoen van een aanplanting tot die volgende kan versprei – en gewoonlik oor korter afstande.

Die werklike bron van die siekte is egter plantreste van die vorige seisoen waarin die swam oorleef en sodra die toestande gunstig word in die nuwe seisoen, word spore vrygestel wat die onderste blare van plante infekteer.

Hierdie letsels produseer nuwe spore wat weer namate die groeiseisoen vorder, vrygestel word en met reënspatsels en wind versprei na nuwer blare hoër op in die plant. Dit is veral grysblaarvlek wat dikwels met sonbrand/droogtestemming (Foto 4) verwar word. Nodeloos om te sê dat droogteskade nie beheerbaar is nie en dat die onnodige toediening van ‘n swamdoder die produsent ‘n dubbele terugslag toedien. Nie een van hierdie bogemelde swamblaarsiektes is saadgedraagd nie.

Bakteriese blaarstreep (Foto 5) is ‘n siekte wat veral in die westelike produksieareas voorkom en hierdie simptome word met dié van grysblaarvlek verwar. ‘n Bakteriese siekte kan nie met swamdoders beheer word nie en só ‘n bespuiting kan ‘n duur fout wees – sonder enige resultaat.

Mieliestreepsiekte (Foto 6) word deur die mieliestreepvirus veroorsaak. Dit is ‘n komplekse siekte, waar die virus deur ‘n bladspringer oorgedra word. Die omgewingstoestande affekteer die voorkoms, oorlewing en verspreiding van die bladspringer – wat die voorkoms en intensiteit van die siekte bepaal.

Soos in die geval van bakteriese siektes kan mieliestreepvirus nie met ‘n swamdoder beheer word nie. Beheer van mieliestreepvirus kom neer op ‘n kombinasie van maatreëls om die risiko van die siekte te verminder of te beperk. Alhoewel insekdoders as saadbehandelings effektief is en voorkom dat die bladspringers op jong plante voed en die virus oordra, is dit geensins ‘n waarborg of ‘n kitsoplossing vir die siekte nie.

Bestuursriglyne

Algemene bestuursriglyne vir die risikobestuur van mielieblaarsiektes sluit in:

  • Plant weerstandbiedende mieliebasters.
  • Plant ‘n mieliepakket en moenie net konsentreer op een vatbare baster met ‘n hoë opbrengspotensiaal nie.
  • Bewerking en wisselbou om siektedruk te verlaag.
  • Bewaringsbewerkingspraktyke met al die voordele wat dit bied, bevorder ongelukkig die oorlewing van blaarsiektes soos grysblaarvlek en noordelike mielieblaarskroei, aangesien die swamme hoofsaaklik in die mielieplantreste oorleef. Siektebeheer in ‘n bewaringsbewerkingstelsel is krities, om die werklike voordele daarvan te kan geniet.
  • Die oordeelkundige gebruik van geregistreerde swamdoders in ‘n goeie swamdoderspuitprogram kan die meeste van die swamsiektes op blare effektief beheer.
  • Die ekonomiese regverdigbaarheid van ‘n duur chemiese inset is egter belangrik en faktore soos die mielieprys, opbrengspotensiaal en siektevatbaarheid van die baster en risiko van siekte in sekere areas is van groot belang. Moenie onoordeelkundig spuit nie. Dit is belangrik om te onthou dat die primêre doel van swamdoderbespuitings siektebeheer is. Dit beskerm genetiese opbrengspotensiaal en verbeterde staanvermoë is sekondêr en ‘n bonus.
  • ‘n Geïntegreerde beheerstrategie van al die bogemelde is die beste benadering tot risikobestuur.

Daar is heelwat ander blaarsiektes waaraan nie in hierdie artikel aandag gegee word nie, omdat hulle minder algemeen of sporadies voorkom. Dit beteken egter nie dat dit nie groot op brengsverliese onder die regte toestande kan veroorsaak nie. Dit is raad saam om steeds ‘n goeie bron of kenner te raadpleeg as verdagte simptome waargeneem word, sodat betyds opgetree kan word.

Publication: January 2017

Section: On farm level