’n Silwer randjie

Gepubliseer: 31 Augustus 2021

791

Beste Grootneef

Die roet en as van die onlangse plundertogte in die groen land van Natal het dalk gaan lê, maar baie vrae hang steeds in die lug. Hoe op aarde? Waarom? Is die vuur geblus of kan dit weer opvlam? En as dit weer gebeur, sal die gety dan weer gedraai kan word?

Ironies van die hartseer week in die Suidland was dat wet en orde in baie stede deur taxidrywers gehandhaaf is. Wie sou kon raai dat minibusse wat vir geen rooi verkeerslig skrik nie, ’n veiligheidsketting sou vorm om besighede en woonbuurte te beskerm!

Tussen al die chaos was daar ook een ligte oomblik. In een sentrum het ’n winkelbestuurder kopgehou en kookolie voor die drumpel van sy winkel uitgegooi. Die gevolg was dat die voornemende plunderaars gly-gly tot stilstand gedwing is. Om te kan plunder, wil ’n man vinnig in en uit – en die plas kookolie het hul planne behoorlik in die wiele gery. Die sosiale media het baie van die storie gehou en kookolie is terstond as ’n tsotsi repellent gedoop. Ou Neef, om te dink dat sulke tegnologie uit sonneblomme van die Vrystaat geproduseer word!

Jan Smuts het destyds gesê dat die ergste nooit in Suid-Afrika gebeur nie. Op ’n manier kon die Suidland se mense nog altyd van die afgrond wegstuur. Kom ons vertrou dat die middelgrond van rede ook nie nou in hierdie moeilike dae sal meegee nie.

Die vet weet, ou Neef! Tussen die groot C wat maai in die land en die plundertogte wat erger as mot en roes verniel, het ons goeie nuus so nodig – ’n silwer randjie om ons te laat moed skep. Ons land se silwer randjie is ’n waternimf met die vreemde naam van Tatjana. Die goud wat sy by die Olimpiese Spele in Tokio gewen het, was nie net vir haar nie, maar vir elkeen in hierdie droewige land. Net om te wys dat niks onmoontlik is nie. Buurman was so aan­gedaan dat hy terstond die nuutste aankomeling in sy gesin Tatjana gedoop het. Buurman sê Tatjana is nog jonk en spelerig, maar dat sy reeds albei sy pantoffels opgevreet het. Hy is egter vol moed dat Tatjana weldra die werf van enige ongedierte of plunde­raar sal kan skoonhou.

Ou Neef, in enige ander tydgleuf sou die opskrif van die berig nie veel aandag getrek het nie – dat ’n leeu ’n springbok gebyt het. Maar na die tweede toets tussen die Bokke en die Leeus was dit tog groot nuus. Die wêreld se rugbyringkoppe wat die voorval moes ondersoek, het egter plegtig verklaar dat dit nie die betrokke Leeu se intensie was om te byt nie. Maar soos oom Fanie altyd gesê het: “As die jakkals tjank, was die skoot raak.” Rassie se openbare uitleg van rugby se wette het beslis ’n paar tone raakgetrap. Dit het weer eens gewys hoe eenogig die rugby-owerstes is as dit by Bok-rugby kom. Nou wil die wêreld se rugby-indoenas vir Rassie aankla! Plaas maak hulle reg wat verkeerd is en skors bytende Leeus en beboet skeidsregters wie se powere beslissings die Bokke wedstryde kos. Buurman sê die Bokke moenie worry oor die ref nie – maak voor sag en slaan van agter af met daardie blitsige vleuels van ons.

En dit is hoe ons reis op aarde is. Vol donker wolke, maar as jy mooi kyk, ook met vele silwer randjies wat ons help om deur ’n storm te kom. Maar die onus is op elk om op die uitkyk daarvoor te wees. As jy net afkyk na die probleme wat oorbrug moet word, gaan jy die ligte oomblikke en die energie van silwer randjies soos ’n Tatjana, ’n plas kookolie en ’n loesing vir die Leeu-span miskyk.

Groete

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.