September 2017

Dr Maryke Craven, Marlene van der Walt en dr Jeanetta Saayman-du Toit, LNR-Graangewasse, Potchefstroom

“After a walk, Swiss engineer George de Mestral observed burs from common burdock (Arctium minusstuck to his woolen pants and his dog’s fur. A few years later he patented Velcro, an invention inspired by the weed.” Só het selfs onkruide ‘n nut en plek. Binne jou produksielande is egter nie een van hulle nie…

Onkruidbeheer beslaan ‘n magdom fasette wat ‘n groot uitdaging is om in ‘n enkele artikel aan te spreek. Tog is daar ‘n paar basiese beginsels wat ‘n uitstekende vertrekpunt vorm wanneer dit by die beheer van onkruide kom.

Onkruide is meer as net onooglik…
Dit is reeds alombekend dat die nadeel verbonde aan onkruide gesetel is in hul vermoë om met die gewas vir water, voedingstowwe, lig en koolstofdioksied te kompeteer. In ‘n land wat gekenmerk word deur wisselvallige reënval, word beskikbare vog beskou as een van die landboubedryf se kosbaarste natuurlike hulpbronne en moet dit dienooreenkomstig hanteer word.

Onkruide is die ongewenste “windpompe van die natuur”, wat beskikbare grondvog ongesiens eien. Sommige plantspesies is egter meer effektief wat hul waterverbruik betref en dit is veral die breëblaaronkruide en -gewasse wat spandabelrige water­verbruikers is.

‘n Mens vergeet egter gou dat onkruide, net soos enige gewas, belangrike voedingstowwe uit die grond onttrek. So het navorsing gewys dat ‘n digte stand van uintjies ongeveer 95,6 kg N, 1 kg P en 40,9 kg K per hektaar oor ‘n tydperk van ses maande opneem.

Kalium is veral belangrik by wortelontwikkeling en met ‘n verswak­te wortelstelsel kan geen plant optimaal produseer nie. Verdere studies het getoon dat mielieplante wat in kompetisie met onkruide verbou word, slegs ongeveer ‘n derde van die N, P en K beskikbaar gehad het, vergeleke met ‘n land waar die mielieplante verbou is in die afwesigheid van onkruide. Nodeloos om te sê dat die impak van onkruide ook sigbaar sal wees in die opbrengs wat verkry word.

In omgewings wat reeds waterbeperkend was, is gevind dat opbrengsverliese van 43% gely is wanneer onkruide eers 15 dae na- opkoms in mielieproewe beheer is, teenoor die 77% verlies wat gely is wanneer onkruide eers 30 dae na-opkoms beheer is.

Daar bestaan geen twyfel dat onkruide op meer as een wyse die opbrengs van gewasse kan “steel” nie. Min produsente het egter die finansiële vermoë om onbeperk onkruidbeheer gedurende die seisoen toe te pas en dit is krities dat wanneer dit wel toegepas word, dit korrek gedoen word.

Wanneer onkruidbeheer toegepas word, moet daar verder verseker word dat die gewas self nie ook op ‘n manier beskadig word nie. Deur slegs ‘n paar basiese beginsels toe te pas, kan ‘n beheerstrategie in plek geplaas word wat met tyd die impak wat onkruide en die invloed wat hul op die potensiële opbrengs het, te minimaliseer.

Kies die regte doder
Rakende die keuse van die mees geskikte doder, is kennis van die onkruidspektrum wat voorkom, belangrik. Die verandering in seisoene bring mee dat daar jaar na jaar dominante spesies voorkom. Navorsing het byvoorbeeld ook getoon dat met die skuif van konvensionele na bewaringslandbou (oftewel ‘n geenbewerkingstel­sel) die spektrum verskuif het na ‘n oorheersende spektrum van grasse wat uiters effektief deur voor-opkomsdoders beheer kan word.

Vir laat-kiemende grasse is daar ook onlangs heelwat doders op mielies geregistreer. Neem kennis van die probleem onkruide en kies doders wat spesifiek geregistreer is vir die onkruidspesies wat voorkom.

Pasop vir “nog ‘n bietjie slaap, nog ‘n bietjie sluimer
Daar is ‘n paar slaggate wat produsente moet probeer vermy wanneer dit by onkruidbeheer kom. Die eerste en mees algemene slaggat waarin produsente trap, is om onkruide wat reeds te groot is, te probeer beheer (Foto 1a en Foto 1b).

Jonger plantmateriaal het makliker deurdringbare kutikulas (opperhuide), terwyl dit verder ook meer metabolies-aktiewe weefsel bevat wat beduidend meer kwesbaar is. Produsente moet die etiket rakende die groeistadia van onkruide waar dit effektief beheer sal word, asook die aanbevole dosisse wat vereis word, raadpleeg.

Deur die spesifieke onkruiddoder buite hierdie aanwysings aan te wend, sal minder effektiewe of geen beheer verkry word nie. Voor-opkomsbeheer bly egter beter as na-opkomsbeheer. Voor-opkomsdoders het grondwerking en skakel vroeë kompetisie uit, wat van kardinale belang is vir optimale opbrengs.

Wat jy ingedagte moet hou wat grond-pH betref
Grond-pH is belangrik by voor-opkomsdoder-toediening weens die nawerkingseffek wat sulke doders het. Met die regstelling van suurgronde deur middel van bekalking, moet in ag geneem word dat sekere grondtoegediende onkruiddoders by ‘n hoër grond-pH stadiger gehidroliseer word en sodoende ‘n nadelige invloed op nawerking het.

Wisselboustelsels kan hierdeur geraak word deurdat die opvolg­gewas nadelig beïnvloed word. Dit is veral ‘n potensiële gevaar waar mielies afgewissel word met breëblaar- en peulgewasse.

Vergewis jou van die regte dosis
Om voort te bou op die tema van aanbevole dosis, moet produsente besef dat die hoofdoel moet wees om die onkruid dood te maak, sonder om die gewas te beskadig (Foto 2).

Die vermoë van die gewas om ongedeerd deur die proses te kom, hang af van sy vermoë om die onkruiddoder te metaboliseer of te detoksifiseer. Wanneer té hoë dosisse aangewend word, oorskry dit die vermoë van die gewas om die onkruiddoder te metaboliseer of te detoksifiseer en kan skade voorkom.

Daarteenoor word heelwat beheerprobleme aan die toediening van té lae dosisse toegeskryf. Weer eens moet die etikette deeglik bestudeer word – veral rakende die grondbeperkings en grond­aanbevelings. Só bepaal die kleipersentasie van die grond byvoorbeeld die dosis wat met voor-opkomsdoders toegedien moet word.

Die belang van water
Om effektief te werk, moet enige onkruiddoder sy teiken-area bereik. Met voor-opkomsdoders is dit die ontkiemende onkruid in die grond, terwyl na-opkomsonkruiddoders die aktief-groeiende onkruidplantjie se blare moet bereik.

‘n Onkruiddoder wat water vereis om geaktiveer te word, sal nie werk as daar nie genoegsame reënval of besproeiing plaasgevind het nie. Die beplanning rondom die toediening van voor-opkomsdoders moet só geskied dat genoegsame vog binne vier dae die grondproiel sal binnedring.

Gewoonlik is ongeveer 10 mm tot 20 mm reën of besproeiing net voor of net na toediening voldoende om effektiewe beheer te ver­seker. Indien voor-opkomsdoders op droë grond gespuit word of geen reënval of besproeiing plaasvind na toediening nie, sal die effektiwiteit van die onkruiddoder beduidend laag wees en swak onkruidbeheer sal verkry word.

Met na-opkomsonkruiddoders is dit weer noodsaaklik om te let op hoe lank dit die middel neem om “reënvas” te wees. In meeste gevalle sal reën of besproeiing wat binne ses tot agt ure na toediening voorkom, die doder van die blare afwas. Daar is egter doders wat binne ‘n korter tydperk reeds reënvas is. Verder moet met na-opkomsonkruiddoders gelet word op strem­ming – indien enige – waaronder die onkruide verkeer wat moontlik ‘n effek kan hê op die effektiwiteit van die doder.

Onkruide wat onder stremming verkeer, skakel sekere fisiologiese prosesse gedeeltelik af wanneer vog beperkend raak.

Plante wat onder stremming verkeer, sal minder van die onkruiddoder opneem of die doder nie vervoer na die kritiese area binne die plant nie, wat sal lei tot oneffektiewe beheer.

Kundiges noem ook dat die humiditeit tydens spuit ‘n rol speel in hoe vinnig die doder vanaf die onkruidblare verdamp (dit is die leeftyd van die druppels). By lae humiditeit sal kleiner druppels vinniger verdamp as groter druppels.

Druppelgrootte, asook vereiste spuitvolumes, kan varieer na gelang van koel of warm weer, asook die humiditeitsvlakke wat er­vaar word. Produsente moet relevante adviseurs kontak om seker te maak dat hulle die beste beheer vir heersende klimaatsomstandighede sal kry.

Dit sal produsente verder baat om water wat hul gebruik vir meng vir pH, ioon-inhoud en suiwerheid te laat toets omdat sekere onkruiddoders, soos glifosaat, spesifieke vereistes het vir effektiewe werking. Waar nodig, moet ‘n geskikte buffer en/of ammoniumsul­faat by die tenkmengsel gevoeg word.

Temperatuur
Buiten van wat reeds genoem is rakende temperatuur en verdam­ping van druppels, bepaal temperatuur ook die tempo van opname, asook die degradering van onkruiddoders.

Oor die algemeen word aanvaar dat opname en degradering teen ‘n vinniger tempo by hoër temperature plaasvind, terwyl laer temperature die teenoorgestelde effek sal hê. Temperatuur slot egter ook in by ander omgewingsfaktore wat produsente in gedag­te moet hou.

Daar is oor die algemeen drie prosesse of faktore betrokke by die degraderingsproses van onkruiddoders, naamlik chemiese degradering (deur oksidasie, reduksie en hidrolise), foto-dekom­posisie (foto-afbreek – wanneer chemiese bindings verbreek word weens opgewekte elektrone wat lig geabsorbeer het) en laastens deur biologiese afbreking.

‘n Groot aantal onkruiddoders word deur mikrobiese aktiwiteite in die grond afgebreek. Enige faktore wat daarom ‘n negatiewe effek op die aktiwiteit van die grondmikrobes het, kan die proses van afbreking vertraag. Dit lei daartoe dat opvolggewasse beskadig word deur onkruidresidu wat nie ten volle afgebreek is nie.

Omgewingsfaktore soos lae pH, droogtetoestande of gronde met natuurlike lae grondmikrobe-aktiwiteite sal die risiko van residu-oordrag verhoog.

In dieselfde asem moet genoem word dat verhoogde mikrobiese aktiwiteit weer moontlik daartoe kan lei dat die effektiwiteit of lewensduur van die onkruiddoder verlore gaan of verkort word weens die vinnige afbreek deur middel van grondmikrobes. Nat, warm grond met deurdrenkende reën oor verlengde periodes kan bydra tot voortydige verlies van residu-aktiwiteit.

Tenkmengsels
Kundiges noem dat moeilik-beheerbare onkruide (weens toleransie of weerstand) beheer kan word deur die aktiewe bestanddeel af te wissel, of doders met verskillende aktiewe bestanddele te meng sodat meer as een teikenarea in die plant bereik word.

Etikette moet egter deeglik bestudeer word om seker te maak dat die spesifieke middels geregistreer is om saam in tenkmeng­sels gebruik te word. Deur iets by die tenkmengsel te voeg wat nie duidelik aangedui is as verenigbaar nie, kan produsente vir hulself groot probleme op die hals haal, omdat daar dan buite registrasie toegedien word.

Geen eise kan ingestel word weens gevolglike skade wat so opgedoen is nie.

Die rol van bymiddels
Bymiddels (adjuvants) is middels wat die aktiewe bestanddeel in onkruiddoders ondersteun of modifiseer sodat die doder optimaal kan funksioneer. Dit is belangrik om te verstaan dat alle bymiddels nie dieselfde is nie en dat hulle kan verskil wat die funksie waar­voor hul ontwikkel is, betref.

Sommige onkruiddoders bevat reeds sodanige middels, terwyl ander vereis dat ‘n addisionele middel bygevoeg moet word. Die gebruik van aanbevole bymiddels saam met na-opkoms­onkruiddoders is krities om penetrasie en verspreiding te verhoog.

Kenners maan egter teen die lukrake gebruik van bymiddels. Die byvoeging van ‘n lukrake bymiddel kan lei tot byvoorbeeld oormatige verspreiding van die doder en sodoende die aktiewe bestand­deel verdun en/of die verdampingstyd verkort. Die doeltreffendheid van die doders word onwetend verlaag.

Weer eens moet die etiket geraadpleeg word om seker te maak dat die korrekte bymiddel by die gekose onkruiddoder gevoeg word.

Die groot taboes…
Moenie die uitwas van die spuit en tenk na elke bespuiting afskeep nie. Só ‘n blaps het menige produsent al baie duur te staan gekom.

Kundiges noem dat alle filters en spuitstukhouers uitmekaar gehaal moet word om te kyk of dit werklik skoon is. Net so moet die tenk ondersoek word vir enige residu wat dalk daarbinne vassit. Daar word voorgestel dat die tenk ten minste twee maal met vars water skoongemaak word.

Onthou:

  • Moenie produkte toedien wat nie geregistreer is vir die gewas wat geplant is nie.
  • Moenie spuit wanneer omgewingstoestande ongunstig is nie.
  • Moenie nalaat om jou spuit gereeld te kalibreer nie en vermy oorvleueling tydens spuit.

‘n Laaste gedagte
Effektiewe onkruidbeheer is in ‘n groot aantal gevalle afhanklik van beide die aktiwiteit van die onkruiddoder en die ontwikkeling van ‘n blaredak deur die gewas self. Die skadu-effek wat deur die blare­dak teweeggebring word, kan die groei van onkruide wat later ontkiem, strem.

Enige faktore wat derhalwe die vorming en behoud van die blaredak benadeel, sal ook die effektiewe beheer van onkruide nadelig beïnvloed.

Produsente is welkom om die onkruidwetenskaplikes by LNR-Graangewasse by 018 299 6100 te kontak rakende enige verdere navrae.

 

Publication: September 2017

Section: Focus on