ERVARING en VISIE laat veeprogram gedy

Karina Muller, SA Graan/Grain-redaksie
Gepubliseer: 4 Junie 2024

137
Wimpie Rossouw is reeds vir 33 jaar in beheer van die veeprogram by NAMPO.

Drie dekades plus nog drie jaar – dit is hoe lank Wimpie Rossouw reeds die leisels by NAMPO se veekompleks en -program met besondere bekwaamheid vashou. As ’n mens die som maak, is dit bykans 60% van al die jare wat die Oesdag al aangebied word.

Boonop sien hy kans vir nóg, vertel die vriendelike man waar ons tussen sy bedrywighede deur gou in die Mediasentrum op NAMPO Park sit en koffie drink.

Rossouw, wat van Ottosdal kom, was self voorheen by vee- en saaiboerdery betrokke. Vanweë sy betrokkenheid met sy skaapstoet by plattelandse skoue, is hy gena­der om die vee-afdeling by die Oesdag te hanteer.

Sy eerste Oesdag aan die stuur van veesake was in 1991 toe veedemonstrasies nog gedoen is daar waar die gedenkmuur vandag staan.

Die opset was veel kleiner as deesdae. Rossouw onthou dat die Suiwelgenootskap ’n melkmasjien in bedryf gehad het waar die veekompleks vandag is. “Koeie is daar gemelk, die melk is gehaal en vandaar vir verversingsdoeleindes na die Fanie Ferreira-saal geneem.”

Deur die jare het hy met verskeie legendariese NAMPO-hoof­organiseerders saamgewerk, soos Giel van Zyl en Johan Loxton.

Begeerte
Hoewel vele veerasse reeds deel van NAMPO is, is dit Rossouw se “grootste begeerte” om hulle almal daar te sien.

Hy meen dit bied vir ’n rasgenootskap veel meer blootstelling om by NAMPO te wees as om ’n volbladadvertensie in ’n landboutydskrif te plaas, want “by die Oesdag is daar persoonlike interaksie met belangstellendes”.

Dit is meestal raskampioene wat by die Bloemskou aangewys is wat by NAMPO te sien is. ’n Jaarlikse hoogtepunt by die veekompleks is die interrasbeoordeling van grootvee wat gewoonlik op die laaste dag plaasvind. Rossouw vertel die interrasbeoordeling vind reeds vir die afgelope ses of sewe jaar plaas en bied ook ’n goeie opleidingsgeleentheid vir jonger beoordelaars.

Vanjaar se wenners was soos volg:
Manlike diere
Eerste plek: Colossal, ’n Sussex-bul van Huntersvlei Sussex in Viljoens­kroon.

Tweede plek: ’n Braunvieh-bul van die Eduan Braunvieh-stoet in Rhodes.

Colossal, ’n Sussex-bul van Huntersvlei Sussex in Viljoenskroon, het die eerste plek tydens die interrasbeoordeling behaal.
Hierdie Braunvieh-bul van die Eduan Braunvieh-stoet in Rhodes het die tweede plek ingepalm.

Vroulike diere
Eerste plek: ’n Santa Gertrudis van Sambrero Santas in Bothaville.

Tweede plek: ’n Charolais wat aan Andries Dreyer van Ventersdorp behoort.

Vee het vanjaar van so ver as die Oos-Kaap, Noord-Kaap en Limpopo gekom.

Die Santa Gertrudis van Sambrero Santas in Bothaville wat ’n eerste plek in die afdeling vir vroulike diere tydens die interrasbeoordeling behaal het.
Die tweede plek het gegaan aan hierdie Charolais wat aan Andries Dreyer van Ventersdorp behoort.

Nuut
Nog een van vanjaar se hoogtepunte was Droughtmaster se eerste deelname aan NAMPO. Hulle het, soos die ander genootskappe, goeie belangstelling van besoekers gekry.

Die daaglikse demonstrasies van vriesbrandmerk, ’n nuwe konsep, het heelwat belangstelling gelok. Só ook het die boerboele, miniatuurperdjies en -donkies Oesdagbesoekers se harte laat vermurwe. Rossouw vertel dat veral kinders en skoolgroepe die veekompleks geniet. “Dit sal goed wees as skole vir leerders die opdrag gee om elk ’n spesifieke ras te besoek en inligting daaroor in te win.”

Hy meen dit sal die opvoedkundige waarde van ’n besoek aan NAMPO Park verhoog as leerders navorsing doen oor ’n spesifieke ras en dit weer met medeleerders deel.

Deur die jare het verskeie items op die veeprogram verskyn en ander het weer verdwyn. Daar is byvoorbeeld nie meer perde of veeveilings by die Oesdag nie. “Ons wil graag bied wat ons besoe­kers wil sien; daarom is ons oop vir enige voorstelle om sodoende vernuwend te bly.”

Dit was die eerste jaar dat die Droughtmaster-ras by NAMPO uitgestal het.