Nagraadse rigtings steeds in aanvraag

Gepubliseer: 3 Junie 2021

32
Karina Muller,
SA Graan/Grain-
medewerker

Wêreldwye statistiek bevestig dat die landbou­sektor ’n uitnemende werkverskaffer met ’n wye reeks vertakkinge en spesialisvelde is. Die vraag is egter of daar werklik in Suid-Afrika nog goeie werksgeleenthede in die landbou vir persone met nagraadse kwalifikasies bestaan.

Na aanleiding van gesprekke met verskeie kenners en belanghebbendes in hierdie veld, is die antwoord hierop ’n onomwonde “ja”.

Edward Webb, professor in veekunde aan die Universiteit van Pretoria, meen heelwat studente in die landbouwetenskappe gaan studeer nagraads in die VSA, Europa en Australië. “Ek raai egter aan dat hulle in Suid-Afrika studeer as hulle werklik ’n verskil in Afrika wil maak, aangesien omgewingseffekte ’n betekenisvolle impak op uitkomste het.”

Hy meen voorts dat die standaard van nagraadse studie in Suid-Afrika besonder hoog is – eksterne eksaminators uit die buiteland (met bewese navorsingsrekords) word gebruik. Juis om hierdie rede “druk” studieleiers nagraadse studente harder. Die gevolg is dat Suid-Afrikaanse landboustudente met nagraadse kwalifikasies besonder hoog in die buiteland aangeslaan word.

Wat wel kommerwekkend is, is dat plaaslike befondsing vir landbouwetenskappe beperk is. “Dit is merendeels merietebeurse van universiteite self. Daar is wel beurse in die bedryf beskikbaar, maar gewoonlik is daar ’n klousule wat bepaal dat navorsings­resultate vir ’n jaar teruggehou moet word voordat dit gepubliseer word, om die beursvoorsiener ’n voorsprong in die mark te gee.”

Meer beurse is in ’n land soos die VSA beskikbaar, omdat dáár ’n groeiende neiging onder jongmense is om nie verder te studeer nie en ook omdat die meeste Amerikaanse universiteite ’n beleid het om sowat 10% studente uit die Derde Wêreld te befonds.

Werksgeleenthede
Dit is belangrik om in ag te neem dat landbouwetenskappe verskeie vertakkinge het. Sekere rigtings is meer gesog as ander. So is agronomie, landbou-ekonomie, veekunde en plantpatologie besonder gewild.

Volgens prof Webb kry studente wat met ’n BScAgric-graad afstudeer, maklik in Suid-Afrika werk. So ook word dié met ’n MScAgric-kwalifikasie vinnig in die arbeidsmark opgeraap en hul salarisse is dikwels so goed dat hulle nie ’n rede sien om vir ’n PhD-graad in landbouwetenskappe in te skryf nie. Studente met grade asook dié met nagraadse kwalifikasies kry geredelik werk waar hulle dit wil hê. Dit is in teenstelling met persone met landboudiplomas wat dikwels moet neem wat beskikbaar is – wat weer tot ’n groot omset in hierdie poste lei.

FarmingPortal het in 2019 berig dat meer as 50% van alle landbouberoepe in die hoofstede van die wêreld gesetel is.

Dit is ook so dat mense met B-grade hul werk so geniet dat hulle nie verdere grade wil behaal nie. SA Graan/Grain het met Karlin Nel, ’n wynmaker uit die Paarl-omgewing gesels wat sê dat sy nagraadse studies oorweeg het, maar toe besef het dat sy dan óf in die akademiese wêreld óf in ’n navor­singslaboratorium sou beland. “Ek wil in die wingerde en by die wynmaakproses betrokke wees; nêrens anders nie.”

Arno van Vuuren, bestuurder: Landboubestuursdienste by NWK, meen daar is altyd ’n vraag na agronome (akkerboukundiges), grondkundiges en landbou-ekonome, terwyl geleenthede vir mense met nagraadse kwalifikasies in veeweiding “knap” is. Dierevoer- en dieregesondheidsondernemings soek ook in ’n mindere mate na mense met nagraadse kwalifikasies in groot- en kleinveekunde.

Dit is veral saad-, kunsmis- en chemiese maatskappye wat agronome en grondkun­diges in diens neem, terwyl landbou-ekonome meestal by banke, die finansiële afdelings van landbou-ondernemings en by graan­bemarkers of -verhandelaars geholpe raak.

Kunsmismaatskappye neem veral mense met BScAgric-grade as agronome, gewas­kundiges en navorsers in diens, hoewel daar ook geleenthede vir persone met hoër kwalifikasies bestaan. Dit is raadsaam dat hierdie mense oor ervaring in die bedryf beskik.

James Wickens, besturende direkteur van United Seeds wat saadkweking en -teling doen, sê hulle kyk na nagraadse kwalifikasies én toepaslike ervaring wanneer hulle aanstellings maak. Uiteraard word die persoon met die beste kwalifikasies en ondervinding aan­gestel. Volgens hom is die grootste tekort tans aan landboubemar­kers. “Daar is feitlik geen jongmense in hierdie veld nie. Hier is ’n kwalifikasie in landbou en bemarking noodsaaklik.”

John Odendaal, bemarkingsbestuurder van Pannar, meen die uitdaging vir gegradueerdes asook dié met nagraadse kwalifikasies, is om daardie eerste werk te kry en ondervinding op te doen. “Sodra ’n persoon toepaslike ervaring het, raak dit al makliker om werk te kry.”

Benewens die toepaslike kwalifikasies en ondervinding, speel karakter- en persoonlikheidseienskappe soos betroubaarheid, kommunikasievaardighede, integriteit, selfwerksaamheid en selfgedre­wendheid ook ’n rol in die aanstelling van personeel.

Persone met nagraadse kwalifikasies in landbouwetenskappe raak egter nie sommer geholpe by landboubesighede nie. Cobus Booysen, bestuurder: Menslike Hulpbronne by KLK in Upington, verduidelik dit so: “Soos in ons geval, is landboubesighede hoofsaaklik kleinhandelsgerig en mense wat in daardie rigting gekwalifiseerd is, is meer in aanvraag in hierdie bedryf.”

Arno meen die werksgeleenthede in die Suid-Afrikaanse landbousektor is bevredigend. Daar is beslis nie ’n “pertinente stroom mense” met nagraadse kwalifikasies wat hul heil in die buiteland gaan soek nie.

Dit blyk voorts uit gesprekke met betrokkenes dat ’n meestersgraad die minimum kwalifikasie is wanneer ’n persoon besluit om in die buiteland te gaan wortelskiet.

Stiefkind
Ongelukkig gebeur dit dikwels dat universiteitsbesture op landbouwetenskappe “neerkyk”. “Dit is betreurenswaardig – dit is amper asof neergesien word op ons en meer gewilde rigtings bevorder word sodat die universiteit ’n merieteposisie in die rangorde kan behou,” sê prof Webb.

“Ander vakgebiede, soos inligtingstegnologie, ingenieurswese en ander biologiese rigtings beweeg in die landbourigting in, maar terselfdertyd word landbouwetenskappe deel van groter fakulteite soos natuurwetenskappe, wat die befondsing, fokus en sigbaarheid noemenswaardig benadeel.”

’n Mening uit die bedryf
Karlin Nel is ’n wynmaker by Vrede en Lust. Sy het in 2014 ’n BSc-graad in wyn- en wingerdkunde aan die Universiteit Stellenbosch verwerf.

Hier is haar siening oor nagraadse kwalifikasies in landbou:

  • As jy van die akademie of navorsing hou, gaan dan vir verdere grade, maar besef dat jy vir twee tot drie jaar nie noodwendig ervaring in die bedryf gaan opdoen nie. Maak seker dat jy weet wat jou doelwit is, of jy daarin belangstel en hoe bevorderlik dit gaan wees.
  • Indien jy ’n passie vir die bedryf het en so gou as moontlik ervaring op ’n groter skaal wil opdoen – gaan soek werk nadat jy jou graad verwerf het.
  • Van my vriende het nagraads in wingerdkunde, hortologie of grondkunde studeer. Uiteindelik werk ons almal nou saam in die bedryf en trek hulle nie noodwendig voordeel uit hul nagraadse studies nie.