August 2017
Valerie Cilliers, SA Graan/Grain medewerker
Ons lewe in ‘n vinnig-veranderende wêreld en die rol van die vrou moet toenemend daarby aanpas. Met dié dat Vrouemaand in Augustus gevier word, val die kollig opnuut op die plek van die vrou in die samelewing. Ook in die landbousektor is daar ‘n besef dat vroue ‘n rol te speel het en dat daar formidabele vroue is wat reeds hul merk gemaak het.
Tydens hierdie jaar se NAMPO Oesdag was die rol van die vrou in landbou juis ter sprake tydens een van die Nasie in Gesprek-programme wat regstreeks uitgesaai is.
In gesprek met RSG-aanbieder, me Suzanne Paxton, was drie van die land se voorste vrouelandbou-kenners: Dr Liesel Foster (van Dr LA Foster Boerdery), me Gloria Serobe (stigter en uitvoerende direkteur van Wiphold) en me Lindie Stroebel (algemene bestuurder van die Produce Marketing Association in Suider-Afrika). Die gesprek het die belangrike rol van vroue in die landboubedryf ondersoek en gevind dat vroue min het om voor terug te staan.
Dr Liesel Foster
Dit is veral dr Foster wat die gehoor vinnig oortuig het dat ‘n vrou baie suksesvol in boerdery kan wees. Sy is die jongste van vier dogters en die vierde geslag om op hul familieplaas op Zastron te boer.
Sy het landbou studeer en haar doktorsgraad daarin behaal. As beesprodusent vertel sy dat sy nooit terugdeins vir harde, fisiese werk nie en sy moet gereeld inspring om te help met die brandmerk of onthoring van haar Drakensberger-stoet. Sy meet haar sukses nie net aan die toekennings wat sy ontvang het nie, maar ook aan die vreugde wat die werk op die plaas haar bied.
Op die vraag waarom sy besluit het om juis landbou te studeer, was haar antwoord: Die liefde vir die grond. “Daar is iets baie besonders daaraan as een geslag ‘n ekonomies-volhoubare boerdery aan die volgende geslag kan oorgee. Ek wou nie dat die erfenis by ons generasie stop net omdat daar nie ‘n seun is nie. Ek wou dit opneem en verder vat,” vertel sy.
Dr Foster, wat ook ‘n lektor is, sê sy het van kleins af in landbou-kringe beweeg en die feit dat die sektor deur mans oorheers word, haar nog nooit gepla het nie.
Gloria Serone
Iemand wat moes baklei vir haar plekkie in die son, is Serone, die stigter en uitvoerende direkteur van Wiphold, ‘n SEB-maatskappy wat al vir 23 jaar deur vroue bedryf word.
“Vroue betree die besigheidswêreld totaal ongenooid. Ons neem grondgebied in waar ons nie altyd welkom is nie. Ons as vroue moet nie terugstaan as dit moeilik gaan nie, ons kan dit maar verwag. Die vraag is hoe ernstig ons is om ons merk te maak,” sê sy. Serobe glo ook dat landboubesighede hulself in die voet skiet deur nie vroue in diens te neem nie.
Wiphold, wat van die staanspoor af in mynbou sake gedoen het, het sowat drie jaar gelede die landbousektor betree en is vandag
die tweede grooste mielieprodusent in die Oos-Kaap. Serobe vertel dat een van die grootste uitdagings vir landbou in landelike gebiede die afwesigheid van titelaktes is.
Die maatskappy het gou besef dat hulle nie op die regering kan wag om hierdie brug te oorkom nie. “Ons het gemeenskaplike
grond van sowat 2 000 ha omskep in kommersiële landbougrond. Ons deel die opbrengs met die inwoners en aandeelhouers en betaal huur aan die ‘eienaars’ wat grotendeels uit vroue bestaan.”
Serobe erken dat daar veral in sektore soos mynbou en landbou die persepsie bestaan dat vroue nie daar hoort nie.
“Wiphold het eers na sowat tien jaar se bestaan en suksesse deurgebreek en ons word nou gereken as ‘n belangrike rolspeler
met vennote soos Nedbank en Ou Mutual wat ons ondersteun.”
Lindie Stroebel
Stroebel is ‘n landbou-ekonoom met boerdery in haar bloed. Sy het op ‘n plaas grootgeword en daar is op skool van haar gesê dat sy ‘n goeie produsent sou wees as sy maar net ‘n seun was. Tog staan sy nie vir enige man terug nie en haar bydrae in die landboubedryf is onmiskenbaar.
Sy meen dat die kombinasie van mans en vroue in die raadsale ‘n wenresep is. Haar geheim, sê sy, is selfvertroue. “Jy kan nie in die raadsaal van ‘n groot maatskappy instap en soos ‘n klein dogtertjie voel nie. Jy moet weet wat in jou steek en jou persepsie moet wees dat ander dit ook in jou raaksien.”
Sy glo dat vroue ‘n belangrike rol in besluitneming moet speel. “Verbruikers is hoofsaaklik vroulik. Dit is die teater van die produk wat tot die verbruiker spreek en vroue is intuïtief en emosioneel ingestel op hierdie aspek van produksie.”
Sukses
Dr Foster meen ook dat die emosionele en koesterende eienskappe van ‘n vrou bydra tot hul sukses in boerdery. Sy glo dat vroueprodusente byvoorbeeld meer empatie met diere het. “Vroueprodusente se aanvoeling is dikwels in die kol,” sê sy.
Al drie vroue is dit eens dat hulle deur harde werk en volhoubare sukses hul pad in hierdie sektor, wat deur mans oorheers word,
moes vind. Dr Foster vertel dat sy die respek van manlike kollegas gewen het toe sy haar doktorsgraad in landbou behaal het. “Alhoewel ek nooit teruggestaan het – ten spyte van ander se persepsies – nie, het ek nadat ek my studies voltooi het, ‘n noemenswaardige verskil beleef in hoe ek gereken word in landboukringe.”
Uitnemendheid is volgens Serobe ‘n voorvereiste om deur te breek in ‘n manswêreld. “Wanneer jy ‘n kans gegun word, of dit nou deur ‘n vrouebemagtigingsprogram of ‘n erfporsie is, moet jy die harde werk doen. ‘n Goeie werksetiek gaan verseker dat jy ‘n rolspeler word in die bedryf en nie net nog ‘n vrou in ‘n manswêreld is nie. Dit is so dat ons as vroue supersuksesvol moet wees om raakgesien te word.”
Geslagsdiskriminasie
Hoe oorkom ons as ‘n land geslagsdiskriminasie? Serobe glo dat dit alles by opvoeding begin. “Ons seuns moet weet dat vroue magsposisies kan beklee. Die moontlikheid bestaan dat hulle dalk self eendag aan ‘n vrouebestuurder of -direkteur gaan rapporteer. Dit moet nie vir hulle vreemd wees nie.”
Stroebel glo dat jong meisies vandag ‘n voorsprong bo vorige geslagte het. “Vandag se generasie het gelyke kanse en toegang tot inligting. Meisies moet weet dat hulle tot alles in staat is en nie terug hoef te staan nie. Ek dink daardie boodskap word reeds tot ‘n groot mate oorgedra.”
Dr Foster se raad aan vroue is om hul vrouwees te koester. “Wees trots daarop om ‘n vrou te wees. Jy is nie daar om met mans te kompeteer nie; hulle is jou kollegas en jy het ‘n baie groot bydrae om te lewer.”
Vir Stroebel gaan dit oor geleenthede. “Vroue moet hul hande met selfvertroue opsteek en elke geleentheid aangryp,” sê sy. Sy vertel dat onlangse studies in Amerika daarop wys dat maatskappye met ‘n vrou aan die stuur 30% groter opbrengste lewer. “Vroue moet in hulself begin glo. Dit is baie keer ons eie onsekerheid wat deure vir ons toemaak. Dit is ons eie persepsie van hoe ons kollegas ons sien, wat ons soms pootjie.”
Bemagtiging
Word daar genoeg gedoen om vroue te bemagtig? Serobe is van mening dat die regering goed vaar as dit by die bemagtiging van vroue kom, maar dat besighede en landbou effens swakker daar uitsien. Dr Foster glo dat daar genoeg geleenthede vir vroue in landbou is en dat dit grotendeels van vroue self afhang of hulle hierdie geleenthede aangryp al dan nie.
“Voedselsekerheid lê ons as vroue en moeders baie na aan die hart,” sê Serobe. Dit maak daarom sin dat meer vroue by hierdie sektor betrokke raak. “Daar is vandag meer aanvaarding vir vroue in die landbou en mynboubedryf, maar ons het nog ‘n lang pad om te stap,” vertel sy.
Om na die volledige episode te kyk, gaan na www.nasieingesprek.co.za waar jy ook die Nasie in Gesprek-toep kan aflaai. Die reeks is ook via YouTube beskikbaar
Publication: August 2017
Section: Relevant