Wegbreeksessies in ’n neutedop

Gepubliseer: 17 April 2020
SA Graan/Grain-redaksie

655

Verskeie belangrike bedryfsaangeleenthede is tydens die jaarlikse wegbreeksessies by Kongres 2020 bespreek. Hier volg punte wat deur die Redaksie opgemerk is.

Mielies
Oesversekering: Graan SA, die Suid-Afrikaanse Versekeringsvereniging (SAIA) en die Wêreldbank het voorstelle rakende oesversekering aan die Tesourie gemaak. Hierdie voorstelle word nou in samewerking met die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling geëvalueer.

Markgeleenthede: Graan SA fokus daarop om die binne- en buitelandse mark uit te brei en om plaaslike verwerking te vestig. Die pluimveemeesterplan geniet hoë prioriteit by die regering.

Wat die buitelandse mark betref, is Suid-Afrika na afloop van inspeksies by hawes en silo’s gereed om na China uit te voer. Korea se ongemak met chemiese residuvlakke is weerlê, nadat Graan SA saam met die Suid-Afrikaanse Vereniging van Graan- en Oliesaadhandelaars (Sacota) ’n wetenskaplike aangestel het om studies te doen. Kenia se GMO-beleid maak dit moeilik om daarheen uit te voer, maar weens die sprinkaanplae is daar tog ’n moontlikheid vir die uitvoer van witmielies. Uitvoere vind wel plaas na Zimbabwe, maar nog nie op verwagte vlakke nie. Die Suid-Afrikaanse Graan­inligtingsdiens (SAGIS) se syfers toon wel vertroue in die mark.

Liggingsdifferensiaal: Die vergadering is dit eens dat die inligting rondom die berekening van die basis gepubliseer moet word en dat Graan SA by hulle standpunt bly dat Randfontein nie die regte leweringspunt is nie en dat dit ’n nulsone moet wees.

Navorsing: Die bedryf en die Mielieforum het versoek dat Graan SA en die Suid-Afrikaanse Nasionale Saadorganisasie (SANSOR) se betrokkenheid by die mieliekultivarproewe moet versterk. ’n Nuwe konsortium is gestig waarbinne verskillende rolspelers betrek is en die eerste seisoen se proewe is aangeplant.

Dieselrabat: Corné Louw (ekonoom, Graan SA) is tans besig om kommentaar voor te berei vir inhandiging. Deel van die voorstel is dat die logboek elektronies gedoen word. Finale uitsluitsel sal in die SA Graan/Grain-tydskrif gepubliseer word.

Wintergraan
Gradering: Terugvoer is gegee oor die graderingsverandering wat sedert 1 Oktober 2019 in werking is. Ruan Schutte (ekonoom, Graan SA) verduidelik hoe die prysverskille werk en hoe die premies vir die verskillende graderings bereken word.

Kwotas en tariewe: Graan SA is tans in gesprek met verskeie rolspelers vir die daarstel van ’n nuwe stelsel. Een van die voorstelle is dat kwotas een keer per maand afgekondig word. Daar word ook gekyk hoe tariefvrye koring meer regverdig hanteer kan word.

Vrystellingskriteria: Die voorsitter van die wegbreeksessie, Richard Krige, noem dat die kriteria vir vrystelling verslap word indien ’n kultivar aan die opbrengs- en kwaliteitsvereistes voldoen. Dit word gemeet en getoets teenoor ’n verwysingskultivar. Twee jaar se data moet voorgelê word in die besproeiingsareas en drie jaar vir droëlandverbouing.

Kanola: Genoegsame saad vir planttyd en prysformulering was twee van die kwelpunte by dié bespreking.

Hawer: Die vergadering vra vir ’n statutêre heffing op plaaslike asook ingevoerde hawer.

Tekorte aan chemikalieë: Sekere chemikalieë kan moeilik bekombaar wees weens logistieke probleme as gevolg van die koronaviruspandemie. Graan SA sal die moontlike tekort aan Clethodim, Tebuconazole, Dimethoate en Trifluralin ondersoek.

Grondbone
Markdeursigtigheid: ’n Voorlegging deur RCL Foods het getoon dat die maatskappy die afgelope paar seisoene tot 80% van sy grondbone invoer weens swakker plaaslike oeste. Die vergadering versoek dat Graan SA-produsente, in samewerking met die Suid-Afrikaanse Grondboonforum (SAGF), ontmoetings reël tussen die verwerkers en kopers om meer deursigtigheid in die plaaslike markstrukture te bespreek.

Teling-en-tegnologieheffing: Die algemene gevoel by die wegbreeksessie is dat die heffing die teling van grondboonkultivars sal stimuleer. Die voorstel van R46/ton is goedgekeur, mits dit duidelik in die aansoek aangedui word dat dit “per ton pitte” gelewer betaalbaar is en nie op “peule” gelewer nie.

Inligtingsdae: Daar is besluit dat die inligtingsdae weer in 2020 aangebied moet word, maar dat meer verwerkingsaanlegte, ontwikkelende produsente en eindaankopers betrek moet word.

Sojabone
Die wegbreeksessie beveel aan dat daar vir die volgende twee jaar met die huidige metodiek van die teling-en-tegnologieheffing voortgegaan word. ’n Statutêre aansoek op 1,2% van die sojaboonprys word ondersteun.

Diagnostiese dienste: Graan SA se navorsingsafdeling het ’n ooreenkoms met die Universiteit van Pretoria bereik om diagnostiese dienste teen ’n gesubsidieerde fooi aan graan- en oliesadeprodusente te lewer. Navrae hieroor kan aan Graan SA se navorsingsafdeling gerig word.

Liggingsdifferensiaal: Dr Raphael Karuaihe (JSE) lewer ’n voorlegging oor die voorgestelde liggingsdifferensiaal op sojabone. Die vergadering besluit eenparig dat hulle nie ’n differensiaal op sojabone kan ondersteun indien dit op dieselfde wyse as die mieliedifferensiaal geïmplementeer word nie. Hulle vra dat Dr Karuaihe Graan SA se versoek met die JSE-advieskomitee sal bespreek.

Sonneblomme en sorghum
Gerhard Keun van die Olie- en Proteïensade Ontwikkelingstrust (OPOT) en die Oliesade-advieskomitee het die werkgroep oor die werksaamhede en navorsingsprioriteite ingelig. Hy meld dat Sclerotinia en Alternaria twee fokusareas vir die komende jaar is.

’n Sonneblomwaardekettingstudie deur die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) behoort knelpunte in die sonneblombedryf te identifiseer wat OPOT met prioritisering kan ondersteun.

Kweleabeheer: Graan SA het befondsing by die Sorghumtrust gekry vir ’n projek om kweleabeheer te versterk. Die doel van die projek is om die huidige stand van kweleas en bestuurstrategieë te bepaal.

Alternaria: Produsente spreek kommer oor Alternaria op sonneblom uit en versoek dat dr Godfrey Kgatle produsente met Alternaria-probleme bystaan.

Sorghum: Sorghumkwaliteitsanalises deur die Suider-Afrikaanse Graanlaboratorium (SAGL) sluit analises van plaaslik geproduseerde sorghum sowel as inligting van ingevoerde sorghum (Maart 2019 tot Februarie 2020) in. 64,5% van die plaaslike sorghumoes is as klas GM gegradeer, terwyl 35,5% klas GH is. Daar is ’n verskil in variasie tussen die minimum en maksimum waardes vir proteïene, stysel, hekto­litermassa en duisendkorrelmassa tussen plaaslike en ingevoerde sorghum. Verwerkers verkies ’n produk van konsekwente kwaliteit.

Die Departement van Wetenskap en Innovasie het ’n uitvoerbaarheidstudie oor die sorghumwaardeketting in Suid-Afrika geïnisieer en Graan SA is as lid op die bestuurskomitee aangestel. Die projek behoort teen Junie/Julie 2021 afgehandel te wees.