Nuwe tegnologie vir sojabone op pad

1198

August 2017

Leonard Oberholzer, tegnologie-ontwikkelingsbestuurder: Suid-Afrika, Monsanto

Die uitstekende waarde wat biotegnologie na soja- en mielieprodusente in Suid-Afrika gebring het, het gelei tot verdere behoeftes in die sojaboonbedryf. Met die huidige uitbreiding van sojaboonaanplantings in die land, het dit tot gevolg dat die gebruik van nuwe biotegnologie in soja-bone groot waarde na die mark toe kan bring.

Roundup Ready-sojabone word reeds vir meer as tien jaar in Suid-Afrika gebruik en daar is min hektare wat sonder dié tegnologie verbou word. Die beheer van breëblaaronkruide in sojabone was ‘n groot probleem voordat Roundup Ready-sojabone op die toneel verskyn het.

Na deeglike oorweging het Monsanto Suid-Afrika goedkeuring ver­kry om die volgende generasie biotegnologieprodukte in Suid-Afrika te toets. Die daarstelling van die teling-en-tegnologieheffing wat op die been gebring is, het ook ‘n groot bydrae tot hier­die goedkeuring gelewer.

Die nuwe geen-pakket bestaan uit twee gedeeltes. Dit bestaan uit ‘n onkruiddodergedeelte wat die tweede generasie Roundup
Ready-geen insluit. Hierdie geen is meer effektief as die vorige een en verskaf uitstekende verdraagsaamheid van die gewas gemeet teen Roundup-onkruiddoder.

Die tweede gedeelte van die geenpakket bestaan uit ‘n geen wat die Afrika bolwurm beheer. Op hierdie stadium word ‘n groot aantal insekdoders toegedien om die Afrika bolwurm te beheer. Hierdie geen staan bekend as “Intacta” en sal baie waarde toevoeg indien dit effektief aangewend kan word.

Hierdie nuwe gene word onder streng gereguleerde toestande getoets – dit is ‘n voorvereiste vir deregulering vir kommersiële verbouing. Die regulatoriese proewe sal in die 2017-seisoen herhaal word. Voorlopige resultate van die huidige seisoen lyk besonder positief.

Produsente en die bedryf is baie opgewonde oor die nuwe tegnologie wat op pad is. Registrasiedokumente vir die geen-pakket sal hopelik teen einde 2018 ingedien word. Kommersiële beskikbaarheid sal afhang van hoe vinnig die regulatoriese goedkeuringsproses verloop en hoe vinnig die tegnologie deur saadverskaffers beskikbaar gestel kan word.

Publication: August 2017

Section: Focus on