Wintergraan – so lyk saadpryse in 2021

Gepubliseer: 25 Februarie 2021

2694
Corné Louw
senior ekonoom, Graan SA
corne@grainsa.co.za

Saad as produksie-inset vir wintergraanproduksie is nie noodwendig die produsent se duurste inset nie, maar wel moontlik die belangrikste. Die koringbedryf in Suid-Afrika is onder druk. Hektare onder koring, veral in die noorde van die land, is besig om te kwyn en nuwe hoë-opbrengskultivars is nodig om die bedryf weer ’n hupstoot te gee.

Die wintergraansaadbedryf beleef tans ’n kritieke tydperk. Daar is ’n uitste­kende voorteelprogram vir koring in plek en die teling-en-tegnologieheffing vir gars, koring en hawer is al in sy vyfde jaar om telers te vergoed vir hulle aandeel in die saadmark. Produsente wag angstig vir nuwe kultivars met ’n hoër opbrengs om die mark te betree. Gedurende die afgelope drie jaar is 19 nuwe koringkultivars geregistreer, waarvan vier vir die Wes-Kaap, tien vir besproeiingsgebiede en vyf vir die noordelike droëlandgebiede.

Kultivarkeuse is van deurslaggewende belang om produksierisiko tot ’n minimum te beperk. Vervolgens word die jongste saadpryse van kommersieel beskikbare koring- en garskultivars met produsente gedeel, sowel as wenke om seker te maak die beste word uit die saad geput.

Alle maatskappye wat koring- en garssaad bemark, is genader om deel te neem aan die prysvergelykings. Kaap Agri het aangedui dat hulle nie aan die opname wil deelneem nie.

Saadpryse
Wintergraansaadpryse vir 2021 word in rand in Tabel 1 tot Tabel 5 aangetoon. Daar is altesaam elf koringkultivars vir die noordelike droëlandproduksiegebiede en 17 besproeiingskultivars beskikbaar, terwyl daar agt verskillende kultivars kommersieel vir die Wes-Kaap beskikbaar is. Daar is ook ses garskultivars waaruit produsente in die Wes-Kaap kan kies.

Noordelike produksiegebiede

Wes-Kaap

Koringsaadpryse het in 2021 op ’n gemiddelde basis met 6,5% gestyg. Sommige kultivars het tot 21,21% duurder geword, terwyl ander maatskappye se pryse in geheel met slegs 0,7% toegeneem het. Interessant genoeg kos koringsaad in die noordelike produksie-areas gemiddeld R417 per 25 kg-sakkie, terwyl saad in die Kaap gemiddeld R441 per 50 kg-sakkie kos. Garssaadpryse het op ’n gemiddelde basis met 1,7% gedaal.

Die inligting in die tabelle neem nie kortings vir vroeë bestellings en grootmaataankope in aanmerking nie. Dit is belangrik om self navraag by die saadmaatskappye te doen om te verseker dat die beste moontlike prys beding word.

Kultivarkeuse
Die volgende belangrike riglyne behoort gevolg te word by die maak van kultivarkeuses:

  • Plant ’n pakket van kultivars om risiko’s ten opsigte van agronomiese eienskappe, plaag- en siekteweerstand, valgetal en gradering te versprei.
  • Moet nie ’n staatmakerkultivar summier met ’n nuwe of onbe­kende een vervang nie. Plant die nuwe of onbekende kultivar eers op ’n kleiner skaal aan en maak seker dat dit aan persoonlike vereistes voldoen.
  • Raadpleeg die LNR-Kleingraan se handleidings vir wintergraanverbouing en verseker dat die kultivar onafhanklik geëvalueer en volgens eienskappe wat op die plaas be­langrik is, presteer. Sien ook die SA Graan/Grain-kultivarbylaag, waarin die resultate van die Nasio­nale Kultivarevaluasieprogram deur die LNR-Kleingraan gepubliseer is.
  • Raadpleeg die betrokke kundiges indien inligting ontbreek of onsekerheid bestaan. Waak daarteen om ’n ongetoetste kultivar aan te plant.

Saadkwaliteit is deurslaggewend
Saad van goeie kwaliteit verbeter die kans op die suksesvolle vestiging van die gewas en ’n goeie oes. Koringsaad kan volgens kwaliteit in drie kategorieë verdeel word, naamlik:

  • Gesertifiseerde saad
    Hoëkwaliteitsaad waarvan belangrike eienskappe soos kiemkragtigheid en suiwerheid teen relatief streng norme deur saadmaatskappye gewaarborg word. Indien produsente probleme met gesertifiseerde saad ondervind, kan ’n saak uitge­maak word wanneer ’n eis ter sprake kom. Dié tipe saad word deur erkende saad- en landboumaatskappye verskaf.
  • Kommersiële saad
    Dit is saad van aanvaarbare tot goeie kwaliteit wat aan sekere vereistes van die Plantverbeteringswet voldoen. Die kwaliteitsvereistes is egter nie so streng soos vir gesertifiseerde saad nie. In die geval van ’n saadprobleem sal ’n produsent hom tot die Registrateur van die Plantverbeteringswet kan wend. Dié tipe saad word ook deur erkende saadmaatskappye en landbou­besighede verskaf.
  • Teruggehoue saad
    Teruggehoue saad is graan wat deur produsente uit die vorige oes teruggehou is om as saad in die volgende seisoen te dien. Dit is wettig, solank die graan nie as saad verkoop word nie. Produsente loop egter produksie- en opbergingsrisiko’s indien teruggehoue saad gebruik word. Moontlike probleme sluit in die muf van saad indien dit te klam gestoor word, kalanderskade indien dit nie berook word nie en swak ontkiemingsvermoë indien dit teen te hoë temperature geberg word.

’n Produsent het geen eis of regsgronde ten opsigte van saadkwaliteit (en algemene prestasie van die kultivar) indien teruggehoue saad geplant word nie. Indien saad opgeberg word, behoort die saad volgens voorskrifte vir opberging skoongemaak, skoon en suiwer gehou, gedroog asook koel en droog opgeberg word. Beroking om kalan­ders en ander graaninsekte te beheer, is noodsaaklik en dit moet veilig teen rotte en muise geberg word. Ontkiemings- en suiwerheidstoetse moet gedoen word voor aanplanting en die saad moet met geregistreerde plaagdoders teen saadgedraagde siektes behandel word.