June 2017
DR GODDY PRINSLOO, LNR-Kleingraan, Bethlehem
Die woord “virus” word as ‘n swaard of ‘n vloekwoord beskou – nie net in menslike terme nie, maar des te meer in terme van landbougewasse. Dit is hoofsaaklik weens die feit dat wanneer plante met ‘n virus besmet is, daar niks aan die saak gedoen kan word nie.
Baie is al geskryf oor die gars geel dwergvirus (barley yellow dwarf virus of BYDV), maar steeds bly dit ‘n probleem by koring – veral in besproeiingsgebiede. Dit kom wêreldwyd op kleingrane soos gars, koring en hawer voor. Mielies en talle grasse kan ook as gashere dien, hoewel hulle meestal nie tekens of simptome toon nie. Die intensiteit van die probleem op landbougewasse wissel egter jaarliks van streek tot streek.
Net plantluise kan gars geel dwergvirus oordra
Een van die redes vir die verskil in intensiteit van voorkoms is die feit dat die gars geel dwergvirus slegs deur plantluise oorgedra kan word. Waarom? Omdat die gars geel dwergvirus net in die vaatbondels (floeëm) van grasse voorkom en dit is presies waar plantluise voed (Figuur 1).
Die viruspartikels word saam met die plantsappe ingeneem en beweeg na die agterste gedeelte van die dermkanaal. Hier beweeg dit deur die dermwand na die bloedholte. Die viruspartikels bly in die bloedholte, maar hulle vermeerder nie vanself in die plantluis nie. Uit die bloedholte beweeg hulle dan weer in die speekselklier en met die speeksel terug na die vaatbondel van die plant. Die teenwoordigheid van plantluise bepaal daarom die voorkoms van die virussiektes in plante.
Tekens en simptome
Die gars geel dwergvirus veroorsaak vergeling van blare vanaf die blaarpunte, verdwerging van plante en beperk ook stoelvermoë en graanvulling (Foto 1).
Ernstige besmetting veroorsaak dat graanplante verkort en hierdie plante kan minder are vorm, maar in die meeste gevalle het geïnfekteerde plante kleiner are met slegs verkrimpte korrels (Foto 2a en Foto 2b).
Hierdie are vertoon maer en regopstaande asook effens swart van kleur wanneer sekondêre swamgroei op die are voorkom. Die simptome kom gewoonlik in kolle in die lande voor (Foto 3). Die vergeling is meer sigbaar op ouer blare en dit wil voorkom of hierdie kolle vinniger ryp word as die res van die land.
Plantluise betrokke
Veral drie koringluise kan op koring onder besproeiing aangetref word: Die hawerluis (Rhopalosiphum padi), graanroosluis (Metopolophium dirhodum) en bruinaarluis (Sitobion avenae) (Foto 4a tot Foto 4c).
Hawerluise kom vroeg in die groeiseisoen voor en hulle is bekend daarvoor dat hul uiters effektiewe oordraers is van die gars geel dwergvirus. Die ander twee plantluise besmet die koring gewoonlik rondom vlagblaarstadium en is minder effektief in hul oordrag. Die drie luise kom gewoonlik saam op die koring voor, maar hulle rig nie noemenswaardige voedingskade aan nie. Hul plaagstatus word belangrik wanneer virusoordrag ter sprake is.
Wat moet ek (die produsent) doen om dit te keer?
Die beste manier om te verhoed dat jou plante met ‘n virus besmet raak, is deur te keer dat plantluise effektiewe voedingsperiodes op die plante kan deurbring.
Oordrag van ‘n virus kan binne ongeveer vier tot ses ure se voeding plaasvind. Virusoordrag vroeg in die seisoen is baie meer skadelik omdat ‘n groter gedeelte van die plantontwikkeling beïnvloed word.
Wanneer oordrag vroeg plaasvind, kan dit 30% tot 40% opbrengsverliese tot gevolg hê, terwyl dit na vlagblaarstadium verminder na ongeveer 2% tot 5% verliese. Ons beskou daarom die eerste tien weke na opkoms as ‘n redelike kritiese periode waarin virusoordrag gekeer moet word.
Plante moet daarom met sistemiese insekdoders behandel word, sodat hulle kan vrek voordat effektiewe voeding lank genoeg kon plaasvind.
Saadbehandeling om kwesbare plantjies te beskerm kan wel van waarde wees, maar onder besproeiingstoetstande is hierdie behandeling gewoonlik slegs vir ses weke doeltreffend, waarna ʼn opvolgbespuiting met ‘n insekbeheermiddel onder bepaalde omstandighede nodig sal wees.
‘n Vooraf-vasgestelde bespuitingsprogram is nog ‘n opsie wat reeds deur produsente in besproeiingsgebiede gebruik word. Waak egter teen te veel bespuitings of bespuitings teen laer as die aanbevole dosis, aangesien dit geen bykomende beskerming bied nie, terwyl dit produksiekoste opjaag en die moontlikheid van die opbou van weerstand teen insekdoders in die plantluis kan bevorder.
Vooraf waarsku
Nog ‘n opsie is om te weet wanneer die plantluise in die land invlieg en dan op te tree. Die enigste manier om dit te doen, is deur van insekvalle gebruik te maak. Plantluise migreer tussen gebiede op ʼn hoogte van 12 m en hoër.
Die Britte het baie jare gelede ‘n suigval ontwerp wat plantluise oor ‘n groot area kan versamel. Die val is 12 m hoog en monitor dus migrerende plantluise. Hierdie val is juis ontwerp om produsente vooraf te waarsku sodat hulle tydig kan optree.
Daarom het LNR-Kleingraan in 2013 vier van hierdie suigvalle in probleembesproeiingsgebiede opgestel en is tans besig (saam met die Universiteit van Pretoria) om die plantluisgetalle op ‘n weeklikse basis te monitor. Aangesien Aartappels SA in 2006 met dieselfde tipe valle luise begin moniteer het en omdat beide gewasse in dieselfde areas ver bou word, het ons besluit om ‘n netwerk van valle te vorm waarin ons die inligting met mekaar kan deel.
Die valle wat vir koringluismonitering opgerig is, is op Winterton (Foto 5), Brits en Groblersdal, terwyl die vierde gedurende Mei vanjaar na Cookhouse in die Oos-Kaap verskuif is. Plantluise word op ‘n weeklikse basis ontvang en ons streef daarna om gedurende die produksieseisoen dit op ‘n weeklikse basis op LNR-Kleingraan se webtuiste beskikbaar te stel sodat produsente op hoogte daarvan kan bly en dienooreenkomstig kan optree.
Indien die potensiële vektorgetalle byvoorbeeld aan die begin van die seisoen uitermate hoog is, is dit ‘n aanduiding dat daar opgetree moet word. Dit het byvoorbeeld gedurende 2016 in die Britsomgewing gebeur (Grafiek 1) en produsente is gewaarsku dat hulle daarop bedag moet wees. Daar is egter nog verdere navorsing nodig om die inligting te verfyn sodat die produsente effektief gewaarsku kan word.
Die inligting oor die koring-suigvalle se luisgetalle word gereeld op die volgende skakel opgedateer http://www.arc.agric.za/arc-sgi/Pages/2017-Aphid-numbers.aspx, terwyl wyer inligting op die webtuiste www.aphidmonitoring.co.za verkry kan word.
Vir verdere inligting oor die gars geel dwergvirus en luisgetalle kontak dr Goddy Prinsloo by prinsloogj@arc.agric.za of 082 875 3401.
Hierdie navorsing is moontlik gemaak deur finansiële ondersteuning van die Wintergraantrust en die LNR.
Publication: June 2017
Section: On farm level