Fokus op opbrengs om koringbedryf te laat herleef

1073

April 2017

RUTH SCHULTZ, SA Graan/Grain medewerker

Verskeie rolspelers in die koringbedryf wat Agbiz Grain se Koring Indaba bygewoon het wat op 17 en 22 Februarie onder skeidelik in Pretoria en op Elsenburg plaasgevind het, was dit eens dat indien daar nie nou iets gedoen gaan word om die sukkelende koringbedryf te help nie, die koringproduksie in die land groot skade gaan ly.

Kwaliteit versus opbrengs
Tans oorskadu die kwaliteitparameter van koring die opbrengs van koring tot so ‘n mate dat dit ‘n bedreiging vir die oorlewing van die plaaslike koringbedryf is. Een van dié bedryf se groot deurbrake was om ‘n agentskap vir kultivar- en tegnologieontwikkeling (Sacta) te stig wat glo dat daar ‘n gesonde balans tussen opbrengs en kwaliteit moet wees. Mnr Andries Theron, voormalige visevoorsitter van Graan SA en self ook ‘n graanprodusent, meen daar is te veel in die verlede gekonsentreer op die kwaliteit van koring en te min op opbrengs. “‘n Produsent se inkomste word verkry deur opbrengs maal prys.” Verder het hy gesê dat dit ongeveer twaalf jaar neem om ‘n nuwe koringkultivar in die mark in te bring, maar dat dit teen ‘n groot verlies geskied, omdat 70% van koring geplant word met teruggehoue saad. Volgens me Mariana Purnell van Agbiz Grain is daar ‘n behoefte aan laer kwaliteit koring, omdat die kwaliteit van invoere nie ooreenstem met die plaaslike kwaliteitparameters nie. “Die grootste vraag deur die meulenaars en bakkers is vir laer proteïenvlakke (B2 – 11% proteïen).”

Daar is ook tydens die Indaba bespreek om weg te doen met die R100/ton afslag vir buitelandse koring as dit op die JSE gelewer word. Daarmee saam wil die bedryf oorweeg om ‘n die prysverskille tussen koringgrade te verklein van tussen 4% en 8% na tussen 2% en 4% vir B1- en B2-koringsaad.

Koringtarief
Volgens dr John Purchase van Agbiz het die Internasionale Handelskommissie (ITAC) die koringinvoertarief hersien en aanbevelings is aan die Minister van Finansies gemaak. Die bedryf wag op dié aankondiging. Mnr Pieter Esterhuysen van Successions het na aanleiding van marktendense, ‘n skatting gemaak dat die tarief tussen R700/ton en R800/ton gaan wees. Die hooffokus van die Indaba was om inligting oor die veranderinge wat nodig is om die koringbedryf om te keer, te verskaf sowel as die nuwe regulatoriese vereistes wat ‘n impak op dié bedryf het. Vir die voorleggings van die ander Indaba-sprekers besoek gerus Agbiz Grain se webtuiste by www.agbizgrain.co.za.

1: Verskeie rolspelers vanuit die koringbedryf het die Koring Indaba in Pretoria bygewoon. Van links is Paulina Madiba (Suider-Afrikaanse Graanlaboratorium), Asanda Hewana (Mühlenchemie GmbH &Co.KG) en Geoff Penny (Kamer van Bakwese).
2: Saadmaatskappye het ook die Indaba bygewoon, waaronder Sensako, wat een van die groot rolspelers in die koringbedryf is. Van links is Roean Wessels, Ursula Bothma, Gerida de Groot en Stephan de Groot.
3: Verskeie landboumaatskappye vanuit die opbergingskant het die Indaba bygewoon. Van links is Carl du Toit (GWK), Leon Breet en FT Breedt (albei van NWK) en Petrus Boshoff (Suidwes).

Publication: April 2017

Section: Relevant