Strategieë vir saadvermeerdering só bepaal

938

March 2017

ESTIE DE VILLIERS, redakteur: SA Graan/Grain

Watter persentasie van saadvermeerdering geskied plaas lik en hoeveel in die buiteland en hoe bepaal maatskappye die hoeveelheid saad wat vermeerder moet word en hoeveel van watter kultivar?

Uit die SA Graan/Grain-redaksie se skakeling met produsente is daar dikwels heelwat vrae oor die beskikbaarheid van saad – en meer spesifiek saad van sekere gewilde kultivars. Ons het die saadmaatskappye hieroor genader en aan hulle die geleentheid gebied om te deel wat hul saadvermeerderingsbeleid is.

Almal is dit eens: Buiten dat die verkoops- en bemarkingspanne van die onderskeie saadmaatskappye hul ore op die grond en vingers op die pols moet hou om te bepaal wat in aanvraag is, word markaandeel en historiese verkope ook in ag geneem. Besluite word nie in isolasie of sonder deeglike beplanning gedoen nie.

Nuwe, verbeterde kultivars word ook deurlopend geëvalueer en aan die mark bekendgestel.

Me Magda du Toit, korporatiewe betrokkenheids- en kommunikasiebestuurder van Monsanto, vat dit mooi saam: “Maatskappye doen alles in hul vermoë om saadproduksie en saadbeskikbaarheid optimaal te beplan, maar dit bly steeds ‘n lewende organisme binne die natuur waarmee gewerk word.

Hoewel soveel as moontlik van die prosesse presies beplan en onder beheerde omstandighede gedoen word, bestaan die moontlikheid altyd dat die natuur kan ingryp en een of ander van die prosesse kan beïnvloed.”

Agricol – mnr Erus Hefer (operasionele direkteur)
Agricol se plantsaadreeks bestaan uit een- en meerjarige somergrasse en wintergrasse, grasperkgrasse, peul-, wortel-, dekgewasse en ’n wye reeks akkerbougewasse. In totaliteit bemark die maatskappy ongeveer 300 variëteite van verskillende gewasse, waarvan 80% plaaslik geproduseer word en die res ingevoer word.

Behoefte per kultivar word bepaal deur aanvraag, want Agricol se bemarkingspan is in kontak met produsente. By die maatskappy geniet navorsing en produkontwikkeling voorrang en daarom is ons leuse in lyn met ons strategie, naamlik “new-to-the-market products are the fuel of corporate longevity”.

Nuwe plaaslike en buitelandse saadbronne word voortdurend teenoor bestaande wennervariëteite geëvalueer en indien die voordele van die nuwe variëteit bewys word, sal die kultivar geregistreer word en verder in plaaslike statistiese en strookproewe op ‘n breër platform teenoor bestaande produkte in die mark geëvalueer word.

Nuwe variëteite sal dus op grond van prestasie saam met staatmakervariëteite deur Agricol se bemarkingspan aan produsente voorgelê word. Sodoende bepaal die produsent na gelang van prestasie, die daaropvolgende jare se behoefte en só word die produksie hoeveelhede bepaal.

Met die wisselvallige en swak rand/dollar-wisselkoersverhouding, is dit uit die aard van die saak voordelig om soveel as moontlik produksie plaaslik te kontrakteer, maar vir sommige gewasse is dit ongelukkig nie moontlik nie. Voorbeelde is Rhodesgras en meerjarige raaigras – wat ‘n spesifieke klimaat vereis om goeie saadproduksie te realiseer.

DuPont Pioneer – mnr Du Preez Kritzinger (bemarkingsbestuurder)
DuPont Pioneer investeer elke jaar beduidend in produksiehulpbronne en infrastruktuur, wat die maatskappy in staat stel om die oorgrote meerderheid van sy saad in Suid-Afrika te produseer. Die maatskappy gebruik egter sy globale saadproduksievoetspoor om buite seisoen-produksie in ander dele van die wêreld te benut in gevalle waar die mark in Suid-Afrika tussen die geel- en witmieliemark wissel. Dit stel ons in staat om ons produsente se behoeftes in ‘n veranderende omgewing te diens.

Ons proses rakende die beplanning van saadproduksie begin by die behoeftes van produsente. Die landboukundiges werk nou saam met produsente om behoefteseine te ontvang oor volumes wat in die volgende seisoen geproduseer sal word. Daarby word die volume per baster deur proefresultate wat ons met produsente deel, bepaal en die produsent se ervaring met Pioneer se produkte op hul kommersiële hektare, word ook in ag geneem.

Die maatskappy se beleggings ondersteun plaaslike saadproduksie, verhoog die mededingendheid van die mieliebedryf en pro moveer die groei in die produktiwiteit en effektiwiteit van saadproduksie in Suid-Afrika.

Klein Karoo Saadbemarking – mnr Willem Engelbrecht (kommersiële bestuurder:Agronomies)
Mielie- en sojaboonsaad word in geheel plaaslik geproduseer en verwerk in ons saadfabrieke op Brits en Bethal. Sorghumsaad en ‘n gedeelte van Klein Karoo se sonneblomsaad word ingevoer.

Die behoeftebepaling ten opsigte van hoeveel en watter kultivar geproduseer moet word, is ‘n ingewikkelde proses. Die volgende faktore word in ag geneem:

  • Die totale grootte van die mark vir die produk: Wit-, geel-, konvensionele -, Bt-, RR- of BR-kultivar.
  • Markaandeel en dekking van die mark.
  • Historiese verkope van die produk.
  • Die prestasie van die produk die afgelope jaar in proewe en kommersieel. (Is kliënte tevrede met die kultivar se prestasie en is daar ‘n groter aanvraag vir die produk in die komende jaar?)
  • Beplande volumeverkope vir die komende jaar.
  • Ouderdom van die produk. Is dit ‘n nuwe, groeiende produk of is dit ‘n produk waarvan die aanvraag afneem?
  • Daar word ook beplan om ‘n sekere persentasie oor te dra na die volgende jaar – sodat indien dit ‘n droë jaar is en produksie laer is of hael aanplantings vernietig, die maatskappy steeds sy kliënte van saad kan voorsien.

Link Seed – mnr Pieter Herbst (besturende direkteur)
Alle saadvermeerderings vind in Suid-Afrika plaas. Op hierdie stadium is daar geen buitelandse produksie nie, maar dit word wel vir die toekoms beplan.

Die beplanning is om genoeg van elke kultivar te produseer – veral witmielies, aangesien daar verlede seisoen ’n groot aanvraag vir witmieliesaad was. Die witmieliekultivarproduksie is dus redelik verhoog.

Op hierdie stadium lyk alle produksie bogemiddeld.

Monsanto Suid-Afrika – me Magda du Toit
Monsanto se Dekalb-saadproduksie word alles plaaslik hanteer. Basters is plaaslik geteel en aangepas vir plaaslike omstandighede en word by plaaslike saadkwekers vir saadproduksiedoeleindes geplant. Die behoeftes van kliënte binne die plaaslike omstandighede vorm die basis van alle besluitneming.

Om te beplan hoeveel saad en hoeveel van watter kultivar vermeerder moet word, is ‘n gekompliseerde saak. Besluite word nie in isolasie of sonder deeglike beplanning geneem nie.

In die eerste plek word daar jaarliks nuwe produkte vir moontlike beskikbaarstelling in die mark geëvalueer. Afhangende van die eienskappe van die nuwe produkte en waar dit in die mark sal inpas, sal besluit word hoeveel saad van die spesifieke produk geproduseer gaan word.

Verder is produkprestasie, geraamde behoefte/aanvraag uit die veld en mark, hoeveelheid produkte in die portefeulje, geraamde markgrootte van die komende seisoen, asook beskikbaarheid van huidige voorraad alles elemente wat in ag geneem moet word in saadproduksie.

Onthou dat saadproduksie in wese vir een tot twee seisoene vooruit beplan word. Met ander woorde: In die 2017-plantseisoen vind saadproduksie vir die 2018- en 2019-plantseisoene plaas. Risikofaktore wat die hoeveelheid benodigde saad kan beïnvloed, soos markgroei en/of klimaat, word ook in ag geneem en in die produksiebeplanning ingewerk.

Ander aspekte wat ‘n invloed op die beskikbaarheid van saad kan hê, is byvoorbeeld omgewings- en klimaatstoestande binne die produksieseisoen. Hoewel produksie onder besproeiing plaasvind, kan te veel water of waterbeperkings wanneer damme byvoorbeeld opdroog, ‘n invloed op die opbrengs of die kwaliteit van die saadproduksie hê.

Ryp, uitermatige koue of warm toestande tydens sekere kritieke stadiums van saadproduksie kan ook ‘n effek op die hoeveelheid saad wat uiteindelik realiseer, hê.

Pannar – mnr John Odendaal (nasionale bemarkingsbestuurder)
Wanneer dit kom by die behoeftebepaling per gewas en kultivar, volg Pannar ‘n baie deeglike proses wat gebaseer is op beide heersende en verwagte toekomstige behoeftetendense. Dit word onafhanklik regoor Pannar se reeks gewasse, wat mielies, sonneblom, sojabone, droëbone, graansorghum, koring en weidinggewasse insluit – en in die geval van mielies, wit- teenoor geelmielietendense ook – gedoen.

Op die hoogste vlakke oorweeg ons verwagte medium- en lagertermynveranderinge in gewastendense. Wanneer dit by werklike beskikbaarheidsbeplanning kom, word die huidige behoefte vir die kultivar, die volwassenheidsklas, tegnologietendense en moontlike tendense en nuwe kultivars wat in die pyplyn is om bekend gestel te word, oorweeg.

Heelwat van hierdie inligting word indirek by kliënte bekom deur ons span veldpersoneel wat direk met die kliënte skakel. Pannar is strategies verbind daartoe om te poog om genoegsame volumes van die gewasreeks vir kliënte beskikbaar te hê om in beide hul en ons besigheid se behoeftes te voldoen.

Ten slotte moet ek noem dat ons ‘n lewende biologiese produk bemark wat interaksie met die natuur het – anders as in ‘n fabriek waar jy presies kan produseer wat jy benodig. Dit sal altyd ‘n unieke uitdaging vir ons industrie bly.

Sensako – mnr Willem Otto (bemarkingskoördineerder)
Sensako se saadvermeerdering van winter-, weiding- en somergewaskultivars vir die plaaslike mark word 100% deur plaaslike produsente onder Suid-Afrikaanse boerderyomstandighede en -praktyke hanteer.

Saadaanvrae uit ander Afrika-lande word sover moontlik verskaf uit die plaaslike beskikbare voorraad van kultivarsaad. Indien Sensako-kultivars in ander lande geregistreer word, sal saadproduksie deur die samewerkende maatskappye in daardie lande onder hul toestande oorweeg word.

Saadbehoefte word deur ‘n aantal faktore bepaal:

  • Die beskikbare en oordragvoorraad van kultivars, tesame met historiese verkoopsyfers.
  • Die instandhouding van aanvaarbare voorraadvlakke van vrygestelde kultivars om in plaaslike produksiebehoeftes te kan voorsien.
  • ‘n Vooruitskatting van die toekomstige saadverkope van nuwe en gewilde kultivars onder verbouing. Die praktyk van terughousaad bemoeilik die akkurate bepaling van potensiële markgrootte.
  • Die geleidelike afskaling van saadvoorraadvlakke van kultivars wat aan die mark onttrek word en met verbeterde kultivars vervang word.

Publication: March 2017

Section: Focus on