March 2017

SONIA STEENKAMP, LNR-Instituut vir Graangewasse, SURIA BEKKER, Eco-Nemaria en DRIEKIE FOURIE, Noordwes-Universiteit

Plantparasitiese aalwurms is mikroskopiese klein diertjies wat die wortels en ander ondergrondse gedeeltes – en in uit sonderlike gevalle die bogrondse gedeeltes – van ‘n gasheer plant sal aanval. Natuurlik beteken dit dat saad wat onder gronds ontwikkel, soos byvoorbeeld aartappels en grondbone, ook aangeval word.

Gelukkig is daar net sekere gewasse wat hul daartoe leen om hierdie onwelkome passasiers rond te dra. Behalwe vir sekere grasgewasse word die ander gewasse wat hul saad bo die grond vorm, gevrywaar van hierdie saadgedraagde aalwurms.

Wees egter versigtig vir die volgende gewasse wat wel hierdie aalwurms van die een land na ‘n ander kan oordra:

Grondbone
Grondbone is een van die gewasse wat die rooi ligte laat flikker in terme van aalwurmverspreiding. Omdat die saad onder die grond gevorm word, stel dit aalwurms wat deur die dop tot in die saad kan beweeg, in staat om hulself net daar tuis te maak. Tot dusver is alreeds drie verskillende aalwurmgroepe geïdentifiseer wat in Suid-Afrika deur grondboonsaad oorgedra kan word, waarvan die peulaalwurm seker die grootste probleem is.

Grondboonpeulaalwurm (Ditylenchus africanus)
Navorsing op die grondboonpeulaalwurm is deur dr Sonia Steenkamp van die LNR-Instituut vir Graangewasse (LNR-IGG) gedoen, asook deur wyle prof Alex McDonald en dr Cheryl Venter wat voorheen by dieselfde instituut gewerk het.

Grondboonpeulaalwurm het menige produsent al baie skade berokken. Peulaalwurms kom letterlik oral in die grondboonproduksiegebied voor en kan, waar daar ook al grondbone geplant word, sy verskyning maak.

Hierdie aalwurm dring die grondboon by die aanhegtingspunt tussen die peul en die anker binne (Foto 1), waarna dit met die vaatweefsel in die dop afbeweeg tot in die saad (Foto 2). Skade wat deur hierdie aalwurm aangerig word, is baie groot. Indien die aalwurm die peul by die aanhegtingspunt indring, verswak die aanhegtingspunt.

Sodra die produsent dan sy bone lig, breek die peule af en bly in die grond agter. In erg besmette lande kan ‘n produsent 40% tot 60% van sy oes op só ‘n manier verloor.

Die effek wat peulaalwurm egter op grondbone het, is hoofsaaklik kwalitatief. Hoe meer peulaalwurms in die testa van die saad voorkom, hoe laer is die gradering van die grondboonbesending. Hierdie aalwurm veroorsaak dikwels dat grondbone tot persgraad afgegradeer word, omdat die saad verdonker (Foto 3) en selfs uitloop (Foto 4).

Ekonomiese verliese van hierdie aalwurm verskil dus van jaar tot jaar, afhangende van elke graderingsklas se prys. Die verskil tussen die prys van keurgraad- en persgraadgrondbone gee ‘n aanduiding van die ekonomiese verlies wat peulaalwurm in ‘n gegewe jaar kan aanrig.

Testa-aalwurm (Aphelenchoides arachidis)
Die testa-aalwurm is eintlik ‘n aalwurmspesie wat inheems aan Nigerië is. Die teenwoordigheid van testa-aalwurm is egter al vier keer buite Nigerië gerapporteer, wat daarop wys dat dit dalk wyer verspreid is as wat vermoed word of dat dit besig is om verder te versprei.

Inderdaad is testa-aalwurm ook hier by ons op eie bodem in 2002 deur wyle mnr Moses Lesufi, wat by die destydse Nasionale Departement van Landbou werksaam was, geïdentifiseer in samewerking met dr Antoinette Swart, ‘n taksonoom van LNRInsti tuut vir Plantbeskerming in Pretoria.

Dr Swart het in 2005 saad vanaf die Vaalharts-besproeiingskema verkry en weer testa-aalwurms daarin opgespoor saam met hoë peulaalwurminfestasies. Testa-aalwurm beïnvloed die voorkoms en grootte van grondboonsaad.

Saad wat geïnfekteer is, is kleiner as skoon saad en het ook ʼn verrimpelde testa en donkerder voorkoms. Testa-aalwurms maak ook die pad vir swamme wat die saad dan verder aanval, oop. Hierdie swamme kan onder andere veroorsaak dat sade moeilik ontkiem.

Robustodorus
In 2016 het die nematoloë by Noordwes-Universiteit ‘n derde aalwurmgroep, Robustodorus, wat deur grondboonsaad oorgedra kan word, geïdentifiseer – ook uit saad van die Vaalhartsbe sproeiingskema.

Me Loureine Muller (LNR-IGG) het opgemerk dat grondbone op ʼn sekere land in hierdie skema nie optimaal gegroei het tydens die 2015/2016-groeiseisoen nie. Met oes was die meerderheid van die peule oortrek met simptome soos gesien in Foto 5 en is getalle van meer as 25 000 uit 20 g-peule geëkstraheer.

Hierdie aalwurm was ook in grondboonpitte teenwoordig. Prof Driekie Fourie (Noordwes-Universiteit) en dr Ebrahim Shokoohi is tans besig om saam met aalwurmkundiges van Amerika hierdie aalwurmspesie te identifiseer. Dit is ‘n uitdagende taak omdat hierdie spesifieke aalwurm-spesie nog nie voorheen op grondbone aangetref is nie en dit maklik met ‘n ander genus verwar kan word.

Dit blyk dat hierdie ook ‘n nuwe spesie van Robustodorus is wat eersdaags beskryf en in ‘n wetenskaplike joernaal bekend gemaak sal word. Aangesien min inligting rakende die voorkoms van hierdie spesie in Suid-Afrikaanse grondboonproduksiegebiede bekend is en navorsing oor die skadelikheid en aggressiwiteit daarvan nou eers ‘n aanvang sal neem, kan geen verdere uitlatings hieroor op hierdie stadium gemaak word nie. Wat wel bekend is, is dat hierdie aalwurm aan dieselfde familie as die testa-aalwurm behoort.

Grasse en koring
Saadgalaalwurm (Anguina- en Subanguinaspesies)
Galaalwurms skep ‘n groot bedreiging vir die produksie van verskeie grasse, onder andere oulandsgras (Eragrostis curvula) en kom oral in plaaslike produksiegebiede voor. Saadgalaalwurms produseer, anders as ander plantparasitiese aalwurms wat hierbo genoem is, gewoonlik net een generasie per jaar.

Hulle word versprei deur besmette saad of deur bogrondse plantmateriaal wat deur wind gewaai word, asook deur implemente wat vanaf ‘n besmette na ‘n onbesmette land geneem word. Indringing en voeding van saadgalaalwurms in hul jeugstadium veroorsaak galle binne-in die saadweefsel (Foto 6).

Galaalwurms kan in ‘n “rusfase” vir meer as 30 jaar in die galle oorleef en is veral om hierdie rede baie moeilik om te beheer. Sodra die gal op die grond val en met water in aanraking kom, word dit sag en die aalwurms word vrygestel. Aalwurms in hul jeugstadium gebruik waterlagies om teen die stamme van die plant op te beweeg tot by die blare naby die groeipunt. Hier voed die wurms totdat die saad gevorm word en hulle dan die saad binnedring. Die wyfies lê hul eiers binne-in hierdie galle.

Die jeugstadia broei uit en bly in die gal tot die volgende seisoen of tot wanneer die omgewingstoestande gunstig is. Galaalwurms veroorsaak addisionele probleme deurdat hulle assosieer met bakteriese siektes wat in kombinasie met die aalwurm dieselfde gasheerplant aanval. Hierdie assosiasie maak die gras of koring giftig vir vee, wat dan vrek indien hulle aan sulke besmette plante vreet.

Dr Suria Bekker (Eco-Nemaria) het haar Meestergraadstudie op galaalwurms (Subanguina weveli) wat oulandsgras aanval, gedoen en het deur middel van siftings- en wekingsmetode probeer om hierdie aalwurms uit die saad te verwyder.

Sifting van sade het wel ‘n groot persentasie van die besmette sade uitgeskakel, maar daar was steeds besmette sade teenwoordig. Dieselfde resultate is opgemerk met die weking van die saad in verskillende konsentrasies van ‘n soutoplossing. Ten spyte daarvan dat daar ‘n groot hoeveelheid van die besmette saad (galle) bly dryf het, was die hoeveelheid wat wel saam met die gesonde saad gesink het, nog steeds onaanvaarbaar hoog.

Tydens ‘n mikroplotproef is daar waargeneem dat sekere aalwurmdoders wel hierdie aalwurmspesie se bevolkingsvlakke kan verlaag. Om definitiewe uitsluitsel hieroor te verkry, moet hierdie proef egter eers herhaal word in lande in oulandsgrasproduksie-areas wat met galaalwurms besmet is.

Indien grassaad na ander lande uitgevoer word en daar een van hierdie aalwurms in só saadbesending gekry word, word die hele besending afgekeur en teruggestuur. Hierdie situasie het die plaaslike grassaadbedryf al erg geknou en oplossings om saad wat vry is van galaalwurms te verbou, ontwyk navorsers en die bedryf steeds.

Aartappels
Produsente wat aartappels plant, moet ook versigtig wees vir aalwurmpeste. Knopwortelaalwurms is die sondebok wat maklik van die een land na die ander deur aartappelmoere wat in besmette grond geplant is, oorgedra kan word.

Alhoewel Meloidogyne incognitaM. javanica en M. arenaria die mees algemene knopwortelaalwurms is wat aartappels in warm gebiede in Suid-Afrika aanval, is daar ook ‘n ander spesie (M. enterolobii) wat vanaf 2012 in aartappelknolle aangemeld is.

In koue produksiegebiede kom ander knopwortelaalwurmspesies voor wat aartappelproduksie nadelig kan beïnvloed. Simptome van knopwortelaalwurmbesmetting is gewoonlik die sigbaarheid van opvallende “vratte” op die aartappelskil wat die galle van hierdie aalwurmpes verteenwoordig (Foto 7).

Selfs al lyk aartappelknolle “skoon” en vry van knopwortelaalwurms, kan hierdie peste binne-in die aartappelknol wees – gewoonlik tot 1 cm onder die skil – en sodoende oorgedra word indien dit as saad gebruik word.

Sistaalwurms, spesifiek die spesie Globodera rostochiensis (wat ʼn kwarantynorganisme is), kan ook deur aartappelknolle oorgedra word. As daar sistaalwurms in ‘n land teenwoordig is, word so ʼn land vir agt jaar onder kwarantyn geplaas. Die produsent sal dan geen aartappels of enige ander gewas wat hierdie sistaalwurm sal onderhou en die probleem vererger, kan plant nie.

Die pad vorentoe
Dit is baie moeilik om aalwurms wat in sade of knolle voorkom, te beheer. Om hierdie rede word produsente aangeraai om net gesertifiseerde saad te plant. Gesertifiseerde saad vrywaar die produsent nie van die teenwoordigheid van aalwurms nie, maar dit bly die beste manier om grootskaalse probleme te probeer vermy.

Vir verdere inligting kontak gerus vir dr Sonia Steenkamp by 083 452 5926, dr Suria Bekker by 079 501 6687 of prof Driekie Fourie by 018 293 3683.

Publication: March 2017

Section: Focus on