February 2017

LOUREINE MULLER, LNR-Instituut vir Graangewasse, Potchefstroom

Grondboonproduksie gaan gepaard met baie vrae wat deur die produsent gevra moet word, soos watter kultivar en tipe grond die geskikste gaan wees om die hoogste opbrengs te lewer.

Grondbone lewer die beste kwaliteit en opbrengste op sanderige grondtipes, ongeag die kultivarkeuse. Dit is belangrik vir die produsent om in oorleg met die verwerker met wie daar ‘n produksiekontrak gesluit is, te onderhandel oor die kultivars wat tans binne die fabriek se saadskema beskikbaar is. Die nodige inligting van die beskikbare kultivars kan dan ingewin word sodat die produsent die bes ingeligte besluit kan neem rakende die kultivars wat die beste binne ‘n spesifieke produksiegebied presteer.

Dit is egter nie net grondtipe en kultivarkeuse wat goeie opbrengste verseker nie. Korrekte bestuurspraktyke, soos waterbestuur gedurende elke groeistadium van die grondboon, is ook van uiterste belang.

Grondbone se groeiseisoen kan in drie fases verdeel word, naamlik voor-blom/blom, ankervorming/peulset en peulvulling/volwassenheid. Voordat die grondboon begin blom, is die plant in ʼn vegetatiewe stadium van groei; die reproduktiewe stadium begin wanneer die plant begin blom en loop regdeur die fases van peulvorming en volwassenheid.

Die plant se waterbehoeftes verskil tydens elke groeifase (Figuur 1). Dit is hier waar besproeiing die verskil maak tussen ekonomiese sukses of mislukking.

Die voordele van besproeiing kan soos volg opgesom word:

  • Goeie onkieming van saad is verseker.
  • Waterbeskikbaarheid regdeur die groeiseisoen is verseker.
  • Produksierisiko’s is verminder.
  • Die korrekte werking van onkruiddoders is verseker.
  • Peule word eenvormig ryp.
  • Opname van voedingstowwe vanuit die grond word verbeter.
  • Hittestremming word verminder.
  • Die oesproses word vergemaklik deurdat die grond nie droog is tydens oestyd nie.
  • Aflatoksienvlakke in peule en pitte is laer.

Daar kan duidelik uit Figuur 1 afgelei word dat die waterbehoefte van grondbone drasties toeneem namate die peulset- en peulvul-stadium ingegaan word en dat daar gedurende hierdie stadium gewaak moet word teen vogstremming.

Dit is egter baie goed om te verstaan wat die waterbehoefte van die grondboon regdeur die groeiseisoen is sodat korrekte besluite geneem kan word.

Wanneer daar na die vroeë seisoen se waterbehoeftes gekyk word, is dit duidelik dat daar gedurende ontkieming ‘n kritiese periode is waar sade ongeveer 50% van hul eie gewig aan water moet op neem voordat die ontkiemingsproses kan plaasvind.

Dit is waar droë gronde en droogtetoestande ‘n groot invloed op die ontkieming van grondbone het en vertragings kan veroorsaak. Hierdie vertragings kan regdeur die seisoen komplikasies vir gewasbestuur veroorsaak, veral as die gewas se sade lank neem om te ontkiem.

Swak stand en saailingsiektes met ‘n uiteinde van verlies in opbrengs, veroorsaak probleme vir die produsent. Die korrekte werking van vooropkoms onkruiddoders moet ook nie uit die oog verloor word wanneer dit kom by korrekte besproeiingskedulering nie.

Die reproduktiewe stadium van die grondboonplant geskied regdeur die midseisoen en dit is gedurende hierdie tydperk wat die wateraanvraag van grondbone op hul hoogste is. Besproeiing voorsien konstante watervoorsiening gedurende hierdie tydperk en verbeter blom- en ankervorming sowel as peulset.

Enige waterstremming gedurende die reproduktiewe stadium van groei beïnvloed die oopmaak van die grondboonblommetjies, asook die penetrasie van die ankers binne die grondoppervlak – wat alles kan lei tot verlies in opbrengs.

Na die afloop van ongeveer 110 tot 120 dae na plant bereik die meeste peule volwassenheid en begin die peule ‘n fase betree waarin die peule begin ryp word tot oestyd. Die aktiewe groei van die plant neem ook in hierdie fase af – wat daartoe bydra dat die wateraanvraag van die plant dienooreenkomstig afneem.

Daar moet op hierdie stadium gewaak word teen te veel vog in die peulsone aangesien die teenwoordigheid van oormaat vog dan lei tot peulsiektes.

Besproeiing het die voordeel dat grondvog op só ‘n vlak gehou kan word wat die oesproses van grondbone vergemaklik en tot die minimum verliese van peule gedurende die oesproses lei.

Die uiteinde is dus dat dit nie net keuse ten opsigte van kultivar en grondtipe is wat die beste opbrengste lewer nie, maar ook die korrekte besproeiingsbestuur gedurende die verbouing van grondbone – en dit is waarop elke produsent moet oplet. Grondbone bly ‘n wenner.

Publication: February 2017

Section: Focus on