Politieke risiko’s en hoe om dit te bestuur

1118

January 2017

image

DAWIE ROODT, hoofekonoom: Efficient Groep

Besigheid in Afrika is ‘n tweestryd. Aan die een kant is daar die wonderlike geleenthede, maar aan die ander kant is daar reuse uit dagings. Suid- Afrika is nie veel anders nie en dit sal besigheidslui baat om bewus te wees van die grootste struikelblokke.

Kenmerkende uitdagings verbonde aan besigheid in Afrika is die volgende:

  • Eerstens het Afrika ‘n geweldige agterstand in terme van fisiese infrastruktuur. Dit skep groot logistieke uitdagings – veral in afgeleë plekke. Suid-Afrika se infrastruktuur is wel dramaties beter as enige ander land in Afrika, alhoewel die plaaslike infrastruktuur al meer afgeskeep word. Die Eskom-drama die afgelope aantal jare is ‘n goeie voorbeeld.
  • ‘n Tweede hindernis is menskapitaal. Alhoewel daar geen gelyke in Afrika is in terme van die vaardighede van ons mense nie, is dit slegs van toepassingop ‘n klein persentasie van die land se mense. Suid-Afrika het mense met vaardighede wat met die beste in die wêreld vergelyk kan word, maar terselfdertyd vergelyk die oorgrote meerderheid van die bevolking se vaardigheid uiters swak met dié van die res van die wêreld – selfs met Afrika. Die rede hiervoor kan gevind word in ons minderwaardige onderwysstelsel – wat in sekere gevalle van die swakste ter wêreld is. Dit dra by tot swak produktiwiteit en werkloosheid en skep groot uitdagings vir besighede wat sukkel om behoorlik-gekwalifiseerde werkers in diens te neem. Verder kan diegene wat wel genoegsaam gekwalifiseerd is, hoë salarisse beding – wat bydra tot die skewe verdeling van inkomste in ons land.
  • Die derde hindernis in die pad van besigheid in Afrika – en in ‘n mindere mate Suid-Afrika – is swak instellings. Instellings kan gedefinieer word as “die spelreëls” en sluit onder andere die beskerming van eiendomsreg, ‘n funksionele regstelsel/polisiemag/doeane en vele meer, in. Myns insiens is die kwaliteit of gebrek aan instellings Afrika se grootste hindernis en die kwaliteit van Suid-Afrika se instellings is aan die taan.

Alhoewel Suid-Afrika se moderne grondwet ‘n aantal instellings vestig en erken, is daar ‘n poging van owerheidsweë om van die instellings te ondermyn. So byvoorbeeld, is dit deel van die regering se agenda om wetgewing wat privaat eiendomsreg beskerm, te beperk of te ondermyn. Verder word daar gereeld opmerkings vanuit owerheidsweë gemaak wat daarop dui dat ‘n onafhanklike pers nie noodwendig deel uitmaak van die regering se toekomsplanne nie.

Nog ‘n voorbeeld is die feit dat die regering eenvoudig verlede jaar ‘n hofbevel verontagsaam het – ek verwys na die al-Bashir-aangeleentheid, wat op minagting van die hof neerkom. Om nie eers te praat van die minagtende wyse waarop die vorige Openbare Beskermer deur die parlement, kabinet en die president behandel is nie. Daar is vele meer voorbeelde.

Natuurlik is daar van ons instellings wat sover ongeskonde gelaat is. Die Grondwetlike Hof is ‘n voorbeeld van ‘n onafhanklike en grootliks effektiewe in stelling. Die Reserwebank is ook steeds onafhanklik en effektief in die uitvoering van sy pligte – alhoewel daar onlangs ook ‘n politieke aanval op die bank was.

Hoe entrepreneurs die uitdagings kan oorkom

Hoe dit ook al sy, om besigheid in Suid- Afrika of in Afrika te doen, is nie altyd maklik nie en die suksesvolle entrepreneur sal vernuf aan die dag moet lê om van die uitdagings te oorkom. Die belangrikste is om te besef dat besighede in heelwat gevalle op hulself aangewese gaan wees. Hier is ‘n paar spesifieke voorstelle.

Eerstens, maak gebruik van die demokratiese prosesse om ver an derings aan te bring. Tweedens, sluit aan by burgerlike organisasies en raak betrokke by jou gemeenskap.

Wat die tekort aan infrastruktuur betref: Probeer om die relevante owerhede te oortuig om infrastruktuur te verskaf en in stand te hou, maar oorweeg dit ook om met ander partye saam te werk om sekere infrastruktuur oor te neem. So byvoorbeeld word paaie, sekuriteit en selfs treindienste in sekere gevalle suksesvol deur entrepreneurs in stand gehou en selfs bedryf.

Verder kan die individuele sakeman heelwat infrastrukturele funksies op homself neem. ‘n Goeie voorbeeld is elektrisiteit:
Tegnologie maak dit vandag moontlik om heeltemal onafhanklik van die owerhede te wees – selfs teen ‘n beter prys!

Wat die tekort aan personeel betref, het die entrepreneur basies twee keuses: Lei jou eie mense op en steun meer op meganisasie. Gegewe vyandige wetgewing ten opsigte van arbeid en swak arbeidsverhoudinge weens politieke inmenging, is meganisasie waarskynlik die beste opsie.

Wat die leemte aan instellings betref, kan die entrepreneur ook heelwat doen. Byvoorbeeld, maak seker kontrakte sluit privaat dispuutbeslegting in – instede daarvan om van ‘n oneffektiewe reg stelsel gebruik te maak. Maak gebruik van privaat onderwys, gesondheid en dies meer.

Maar die belangrikste is om te besef dat elkeen net soveel kan doen om sy eie omgewing of omstandighede te verbeter en nie meer nie. Daarom is dit belangrik om te besef dat ‘n oneffektiewe en in gevalle selfs ‘n vyandige regering uiters destruktief kan raak, maar gelukkig kan daaraan ook iets gedoen word.

Byvoorbeeld, belas jou eiendom deur daar teen te leen en verseker daardeur dat iemand anders (die bank) saam met jou risiko neem. Dit is veral geldig in ‘n lae rentekoersomgewing – maak net seker dit maak finansieel sin! Belangrik: Eksternaliseer van jou bates. Maak seker dat ‘n deel van jou boedel in ‘n ander jurisdiksie belê is.

Slotopmerking

Sonder twyfel is daar wonderlike geleenthede in Afrika en in Suid-Afrika. Ongelukkig is dit ook so dat daar heelwat onnodige risiko’s en hindernisse is, wat dit ‘n uitdaging maak om hier besigheid te doen.

Die entrepreneur wat die regte gesindheid het en bewus is van die potensiële gevare, kan steeds die geleenthede benut en terselfdertyd sy risiko beperk.

Publication: January 2017

Section: Relevant