December 2016
LUAN VAN DER WALT, ekonoom: Graan SA
In die graanmark is die fokus meestal op die produksie van graan en hoe die beskikbaarheid, vraag en aanbod van graan daar uitsien. Soms word ander interessante inligting, soos byvoorbeeld die verwerking van graan en hoe die produksyfers met die geproduseerde syfers korreleer, agterweë gelaat.
Die inligting van die verskillende produkte – wat verkry word vanaf die verwerking van beide mielies en koring, word op ‘n maandelikse basis deur die Suid-Afrikaanse Graan Inligtingsdiens (SAGIS) vrygestel. Hierdie syfers bevat inligting van die volumes van die verskillende produkte wat van beide mielies en koring geproduseer word.
Met verloop van tyd is bewys dat SAGIS se leweringsyfers en die oesskattingskomiteesyfers redelik akkuraat en in die kol is en dat daar ‘n redelike korrelasie tussen die twee is. Dit beteken derhalwe dat die oesskatting en die SAGIS-syfers geloofwaardig is.
Met die produksyfers wat nou ook deur SAGIS gepubliseer word, kan produkte wat vanuit hierdie grane vervaardig word, nou ook bestudeer word.
Die produksyfers stel jou in staat om die syfers verder te verwerk en korrelasies te identifiseer – wat strek vanaf die produksiesyfers soos geskat deur die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) tot en met die fisiese lewering en die produkte wat daaruit vervaardig word.
Waarvoor word die grane aangewend?
Mielies en koring is twee belangrike gewasse in Suid-Afrika. Dit dien as stapelvoedselprodukte en vorm ‘n groot deel van die kosmandjie van ‘n groot persentasie Suid-Afrikaners. Dit is interessant om te sien van watter grane af watter van die produkte wat geproduseer word, kom en ook waarvoor die grane hoofsaaklik aangewend word.
Grafiek 1 tot Grafiek 3 toon die produkte wat onderskeidelik van witmielies, geelmielies en koring vervaardig word. Die spesifieke produksyfers wat getoon word, is produkte wat vervaardig word vir menslike verbruik en sluit nie produkte vir die veevoerbedrywe in nie. Die byprodukte wat verkry word in die vervaardiging van die produkte word grootliks in die veevoermarkte gebruik. Dit sluit mielie- en koringsemels in.
Dit is alombekend dat witmielies hoofsaaklik as ‘n stapelvoedsel vir ‘n groot persentasie Suid-Afrikaners dien – en grootliks in die vorm van mieliemeel. Grafiek 1 toon ‘n verdeling van die produkte wat uit witmielies verkry word. Dit is duidelik dat die meeste witmielies as mieliemeel gemaal word – met 64% van die totale volume mielies wat oor ‘n jaar-tydperk as mieliemeel gemaal is.
Die grootste persentasie geelmielies (Grafiek 2) is verwerk om mielierys, omruilmaal en stampmielies te vervaardig. Hierdie drie produkte het saam sowat 48% van die totale volume verwerkte geelmielies beslaan, met die byproduk mieliesemels wat 31% daarvan uitgemaak het. Die mieliemeelkomponent het maar 13% daarvan uitgemaak.
Die vergelykings het slegs betrekking op heel mielies wat verwerk word vir menslike verbruik en sluit nie die heel mielies wat na die veevoerbedrywe gaan, in nie. Die meeste geelmielies word hoofsaaklik vir veevoerdoeleindes gebruik. In Grafiek 3 is ‘n ontleding van die koringprodukte. Dit is duidelik dat die meeste koring verwerk word vir die vervaardiging van broodmeel (48%), terwyl koekmeel 26% en koringsemels 20% uitmaak.
Vergelyking van produkte met maandelikse voorraadsyfers
Wanneer daar van inligting wat syfers bevat om markanalises te doen en tendense te bepaal gebruik gemaak word, is dit krities dat die syfers akkuraat moet wees ten einde betroubare voorspellings te maak. Die syfers moet behoorlik korreleer om dit so effektief moontlik aan te wend. Wat vraag en aanbod betref, is dit belangrik om te weet hoe akkuraat dit is en of vraag en aanbod regtig beduidend met mekaar korreleer.
Die aanbod van die rou kommoditeite is afhanklik van die produksie en/of die invoere daarvan. Die vraag word weer bepaal deur die produkte wat verbruik word en die verwerking van die graan self. Grafiek 4 en Grafiek 5 toon die totale volume maandelikse produkte teenoor die rou kommoditeite, wat gedurende die maand vir menslike verbruik (mielies en koring onderskeidelik) verwerk is.
Uit Grafiek 4 en Grafiek 5 is dit duidelik dat die produktesyfers beduidend met die verwerkingsyfers korreleer en dat die syfers redelik akkuraat is. Die syfers, soos deur SAGIS verskaf, toon op ‘n gemiddelde basis besonder naby aan ‘n 100%-akkuraatheid. Die syfers wat met mekaar vergelyk word, is die maandelikse volume graan wat vir menslike verbruik verwerk is – soos verkry uit die maandelikse vraag-en-aanbodsyfers, asook die maandelikse totale produkte verkry vanuit die graan. Die semels, wat as byproduk vanaf die mielies verkry word, is gemiddeld so 30%, terwyl dié verkry uit koring gemiddeld so by die 20% beloop.
Ten slotte
In enige bedryf waar analises gedoen en besluite geneem moet word, speel inligting ‘n belangrike rol. Hierdie inligting moet akkuraat wees en met gemak aangewend kan word. Dit is duidelik dat die syfers wat deur SAGIS gepubliseer word, betroubaar is en dat die geloofwaardigheid daarvan nie in twyfel getrek sal kan word nie.
Die byhou van hierdie tipe inligting hou heelwat voordele vir die bedryf in en dit is dus belangrik vir belanghebbendes om die waarde daaraan verbonde en hoe dit gebruik kan word om die verskeie faktore te ontleed, te verstaan.
Publication: December 2016
Section: Relevant