Nasie ook in die Kaap in gesprek

Theo Vorster, hoof- uitvoerende beampte, Galileo Capital
Gepubliseer: 12 Desember 2022

458

Dit was wonderlik om vanjaar weer die Nasie in Gesprek-forum by beide Bothaville en Bredasdorp te kon lei.

As vertrekpunt het landbou dit nodig dat NAMPO Kaap ’n jaarlikse instelling op die kalender word, net soos wat NAMPO jaarliks in Mei by Bothaville nou reeds ’n instelling is – nie net op die Suid-Afrikaanse landboukalender nie, maar ook op die internasionale landboukalender.

Daar is egter ’n paar ooglopende verskille tussen NAMPO Kaap en NAMPO by Bothaville – die een groot verskil skep ’n geleentheid en die ander verskil laat jou net weer besef wat dit beteken as ’n regering landbou as prioriteit sien!

Wat die geleentheid betref, was dit lekker om die Kaapse landbou-invloed te ervaar en te sien hoe die organiseerders stadig maar seker daarheen beweeg om die landbouprodusente van die Kaap te omarm. Hoewel Graan SA se NAMPO altyd ’n sterk graanonderbou moet beskerm, reken ek NAMPO Kaap skep die geleentheid vir Wes-Kaaps geproduseerde landbouprodukte om deel van die groeiende sukses te word.

Ek was verbaas dat die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, dit goedgedink het om sy kabinetsvergadering na Bredasdorp te skuif en te skeduleer om saam met NAMPO Kaap te val. Tesame hiermee het die Wes-Kaapse Minister van Landbou, dr Ivan Meyer, moeite gedoen om ’n paar van die Nasie in Gesprek-sessies by te woon – van die sessies as ’n gas en van hulle as deel van die paneel. Dr Meyer het van die senior mense in sy departement ook daar gehad en elke nou en dan het hy hulle gevra om ’n nota van ’n spesifieke punt te maak sodat die departement dit later kon opvolg.

Hierdie tipe direkte en openhartige betrokkenheid van die regering by NAMPO by Bothaville is maar skaars en amper geforseerd, wat natuurlik ’n groot jammerte is en geensins help om die saak van landbou te bevorder nie. Tot tyd en wyl ons nie hierdie betrokkenheid by Bothaville ook ervaar nie, moet kommersiële landbou besef dat daar nog baie werk voorlê om die regering te oortuig van die belangrikheid van ’n gesonde en groeiende landbousektor.

Die Nasie in Gesprek-gesprekke by NAMPO Kaap het dan ook ’n lekker Kaapse karakter gehad. Vir my was daar ’n paar uitstaande gaste en onderwerpe – van ’n diep emosionele gesprek oor plaasveiligheid; die lekker warm ekonomiegesprek met onder andere Dawie Roodt en dr Roelof Botha op dieselfde paneel; die suksesse met van die bemagtigingsprojekte en dan die gesprek oor die uitdagings by die Kaapstad-hawe om ons uitvoervrugte uit die hawe op skepe te kry.

Wat opgeval het uit die Kaapstad-hawe-gesprek, was die erns waarmee die hawe, die Wes-Kaapse regering en georganiseerde landbou die probleem beskou. As ’n mens aanneem dat die volume van vrugte uit die Wes-Kaap in die volgende vier jaar met 26% gaan groei en dat meer as 90% van die vrugte uitgevoer moet word, besef ’n mens weer eens die belangrikheid van ’n goed funksionerende Kaapse hawe binne die groter uitvoer- logistieke ketting. Vir my was die vlak van kommunikasie en gesamentlike beplanning tussen die partye ’n reusestap in die proses om oplossings te kry – die besef van die partye dat hulle almal van die ander se sukses afhanklik is, verseker dat almal in dieselfde rigting trek!

Net soos met Bothaville, was die besoek aan NAMPO Kaap ’n voorreg en dis vir seker ’n geleentheid waarna ek uitsien in 2023. Ek klink graag ’n glasie Kaapse rooiwyn op Graan SA – nie net is julle ’n trotse kommoditeitsorganisasie nie, maar Graan SA is ook wêreldklas as dit kom by die organisering van groot geleenthede!

Opnames van die gesprekke kan besigtig word deur die QR-kode af te laai of besoek nationinconversation.co.za.