Geïntegreerde gewas- en aangeplante weiding-gebaseerde lewendehawe-produksiestelsels – Deel 3: Smutsvingergras (Digitaria eriantha)

3784

Hierdie artikel is die derde in ’n reeks artikels wat spesifieke gewasspesies vir aangeplante weiding bespreek wat ’n belangrike rol in bewaringslandbou-gebaseerde (BL-gebaseerde) gewas-aangeplante weiding-rotasies speel.

Benewens dat die fisiese, chemiese, hidrologiese en biologiese eienskappe van die grond verbeter word, kan sulke spesies, insluitend een- of meerjarige dekgewasse, ook met sukses as veevoer gebruik word. Lewendehawe-produksiestelsels is in baie opsigte van die benutting van aangeplante weidingspesies afhanklik – in hierdie geval as ’n aangeplante weiding-rusoesgewas, en kan dus ’n integrale komponent van BL-gebaseerde gewas-aangeplante weiding-rotasies word.

Dit is egter noodsaaklik om ’n aangeplante weidingspesie te identifiseer wat aan die vereistes vir ’n dubbeldoelgewas voldoen, met ander woorde vir lewendehawevoer en grondherstel.

Digitaria eriantha – Smutsvingergras (Smuts finger grass)

In 1924 het generaal Jan S Smuts ’n groep Digitaria-plante op sy plaas Doornkloof naby Pretoria geïdentifiseer en dit onder die aandag van mej. SM Stent, ’n taksonoom by die Departement van Landbou gebring.

Volgens Smuts het hierdie groep plante van ander vingergrasse in die gebied verskil as gevolg van die aanvaarbaarheid daarvan vir diere. Materiaal wat by hierdie plante ingesamel is, het daartoe gelei dat ’n nuwe spesie, naamlik Digitaria smutsii, geïdentifiseer is.

Die gebruik van D. smutsii as weiding het baie gewild geword (vroeë 1930’s) onder die invloed van navorsing wat deur drr. Pentz en Pole-Evans gedoen is. In 1981 het die botaniese naam van hierdie gras Digitaria eriantha kultivar Irene geword, en is steeds vandag beskikbaar.

Landbou-ekologiese verspreiding

In die vroeë dae is dit algemeen in die distrik van Pretoria, George, Rustenburg, Kroonstad, Grahamstad, Vereeniging, Cedara (KwaZulu-Natal), Potchefstroom, Kokstad, Ermelo en Bloemfontein geplant.

Een van die redes vir die gewildheid daarvan is sy vermoë om by ’n verskeidenheid klimaats- en grondtoestande aan te pas. Hoewel dit in reënvaltoestande van so laag as 450 mm sal oorleef, word dit hoofsaaklik in koeler areas met ’n reënval van 550 mm en hoër verbou. Dit is ook bekend dat die gras ryp kan weerstaan en in amper enige grond sal groei.

Bloeiwyse van Digitaria eriantha (Smutsvingergras).

Bestuur en benutting

As gevolg van Smutsvingergras se wollerige/donsagtige saad moet dit in ’n goed voorbereide, fyn en ferm saadbed gevestig word. Dit moet behoorlik gerol word voor- en nadat dit gesaai is om ontkieming en vestiging te bevorder. Vestiging kan met suiwer Smutsvingergras teen 4 kg/ha tot 7 kg/ha of in mengsels gedoen word. Die gewilde Potch-mengsel kan in verskillende kombinasies geplant word:

  • Gelyke dele Smutsvingergras, Rhodesgras (Chloris gayana), wit buffelsgras (Panicum maximum) en borseltjiegras (Anthephora pubescens) in vrugbare grond en medium reënvalgebiede.
  • Gelyke dele Smutsvingergras, Rhodesgras, wit buffelsgras in vrugbare grond en hoë reënvalgebiede.
  • Gelyke dele Smutsvingergras en Rhodesgras in feitlik enige grond en middelmatige- tot hoë reënvalgebiede.

Smutsvingergras vestig natuurlikergewys stadig en daarom is die kombinasie met Rhodesgras ’n goeie keuse, aangesien Rhodesgras vinniger vestig. Smutsvingergras sal binne 12 tot 18 maande meer word en die samestelling sal gelyk word. Oor tyd heen kan die Rhodesgras heeltemal verdwyn om ’n suiwer stand van Smutsvingergras agter te laat.

Smutsvingergras is ’n grassoort wat strategies gebruik kan word in die groei- en russeisoene van ‘n voervloeiprogram. Die inherente smaaklikheid, ongeag of dit bemes is of nie, word verkieslik as groen aangeplante weiding in die somergroeiseisoen gebruik en ongetwyfeld as ’n wintervoer (staande hooi) in die winter. Dit kan ook as hooigewas en vir saadproduksie gebruik word.

Smutsvingergras word dikwels as wintervoer in die herfs en vroeë wintermaande gebruik, veral wanneer die veld kort afgewei is en die mieliereste nog nie beskikbaar is nie. Benewens dat Smutsvingergras net gebruik word om die druk op die veld te verlig, kan die produksie van die gras deur bemesting gemanipuleer word, afhangend van die verwagte droëmateriaalvereistes gedurende spesifieke tye van die jaar.

’n Belangrike voorwaarde vir die gebruik van Smutsvingergras as wintervoer is dat die aangeplante weiding vanaf middel Januarie vir die res van die groeiseisoen moet rus. As hierdie aangeplante weiding bemes word voordat dit vir wintervoer gebruik word, is middel Januarie die geskikste tyd om dit te doen.

Wanneer Smutsvingergras as groen aangeplante weiding gebruik word, sal dit baie selde voor die middel van November vir beweiding reg wees. Wanneer beweiding begin, kan dit tot die einde van April gebruik word, en as goeie staande hooi voorberei word, kan dit tot einde Mei gebruik word.

Rotasiebeweiding met hoë beweidingsdruk is noodsaaklik om Smutsvingergras optimaal te benut, veral vir skape. Beeste kan egter hierdie aangeplante weiding doeltreffend benut deur ’n deurlopende beweidingstelsel te gebruik. As Smutsvingergras goed bemes word, is jaaroudspeenkalwers of slaglammers die winsgewendste groep lewende hawe wat op sulke aangeplante weiding aangehou kan word.

Smutsvingergras word as ’n baie goeie hooigewas beskou, veral as gevolg van die smaaklike blare en stingels. Die gras kan egter nie op dieselfde dag gesny, gedroog en gebaal word nie, aangesien hierdie prosesse ’n bietjie langer neem as vir byvoorbeeld Eragrostis curvula. As hierdie bogenoemde prosesse nie voltooi is voordat dit deur reën bederf word nie, kan ’n uiters hoë gehalte hooi geproduseer word.

Bestuursuitdagings

Die produksie en weidingkapasiteit van hierdie gras hang grootliks van die soort grond, vlak van bemesting, reënval en bestuur af. ’n Algemene groeitendens vir Smutsvingergras word waargeneem waar dit rondom die middel van Oktober begin groei en in Maart/April ophou groei.

Die aktiefste groeistadium is die middel van November tot die einde van Januarie. Die groeiverspreiding op ’n persentasiebasis is soos volg: 15% vir November, 35% vir Desember, 28% vir Januarie, 12% vir Februarie, 6% vir Maart en 4% vir April.

Soos gesien kan word, moet die meeste bestuursaktiwiteite soos die sny, baal en bemesting in Desember/Januarie gedoen word as hierdie aangeplante weiding as ’n aangeplante weiding met ’n dubbele doel gebruik moet word. Dit is egter in die middel van die piekreënseisoen, wat die voor die hand liggende bestuursuitdagings beklemtoon. Selfs al word hierdie aangeplante weidingsgewas in ’n verskeidenheid grondsoorte gekweek, sal dit nie versuipte toestande oorleef nie.

Smutsvingergras-aangeplante weiding.

Diereproduksie-aspekte

Droëmateriaalproduksiewaardes (DM-produksiewaardes) van so hoog as 12 ton/ha tot 18 ton/ha is al onder optimale klimaatstoestande en goeie bemestingspraktyke bereik. Die algemene produksiewaardes wat verwag word vir somerreënvalgebiede in die westelike dele van die land, waar die reënval tussen 400 mm en 800 mm per jaar is, kan so laag as 1,5 ton/ha tot 7 ton/ha wees.

Vir optimale produksie onder weidingstoestande is dit noodsaaklik dat Smutsvingergras nooit korter as 50 mm vanaf die grondoppervlak afgewei word nie. ’n Rusperiode van 30 tot 60 dae is noodsaaklik vir voldoende hergroei om voor die volgende beweidingsiklus plaas te vind.

Die weidingkapasiteit van Smutsvingergras kan wissel tussen gebiede wat verskillende reënval ervaar, en kan enigiets tussen 0,5 en 2,5 volwasse grootvee-eenhede (GVE)/ha wees. Die verteerbaarheid van hierdie gras kan wissel tussen 60% en 65% in die somer en in die winter so laag as 40% daal. Gedurende die groeiseisoen kan ’n ru-proteïeninhoud van tussen 12% en 22% met goeie bemesting en reënval verkry word, maar kan in die winter egter so laag as 5% wees as dit geen aandag ontvang nie.

Blaarrykheid van Smutsvingergras.

Grondbewaring en gesondheidsvoordele

Smutsvingergras word sterk aanbeveel as ’n aangeplante weiding-rusoesgewas vir vlak en klipperige grond. Die groot beperking vir hierdie aanbeveling is dat die graanlanderye vir ten minste vyf jaar uit die gewasproduksiesiklus gehaal moet word, aangesien hierdie gras stadig vestig.

Selfs al is Smutsvingergras daarvoor bekend dat dit stadig vestig, is die waarde van hierdie aangeplante weiding eindeloos, veral vanuit ’n dierevoedingsperspektief wat deur hooi, wintervoer, kuilvoer en somer- en herfsbeweiding verskaf word. Daar word dikwels gesê dat die sekondêre waarde van só ’n aangeplante weiding daarin lê dat daar ’n hoër graad van voedingstowwe in die grond opgebou word deur die diere se mis wanneer hierdie hoogs smaaklike en voedingryke aangeplante weiding bewei word.

Met dié dat natuurlike veld toenemend gedegradeer word, kan Smutsvingergras ook beskou word as ’n belangrike gras om te gebruik om só ’n veld met ’n swak gehalte te versterk. Soos vroeër genoem, het hierdie gras ’n inherente smaaklikheid en ’n wye aanpasbaarheid wat dit ’n geskikte gras maak om op gedegradeerde gebiede te tussensaai.

Smutsvingergras gereed vir beweiding.
Bewaarde Smutsvingergras in baalvorm.

Graangewasproduksie

Nadat ’n tipiese rusoesgewasstelsel met Smutsvingergras vir ’n tydperk van ongeveer vyf jaar gebruik is, behoort die grond genoeg herstel te wees om eenjarige graangewasse onder ’n BL-stelsel te kweek. Onkruiddoders maak die aangeplante weiding vinnig dood en die aangeplante weidingreste bly op die grond se oppervlak, wat bedekking verskaf wat erosie beperk en waterinfiltrasie bevorder, asook die tempo van mineralisasie verminder.

Wanneer ’n besluit geneem is om die rusoes te beëindig, moet alle lewende aangeplante weidingskomponente beskou word as “onkruid” wat doodgemaak moet word. Dit moenie meer as bron van voer vir lewende hawe gesien word nie.

Afhangend van die aangeplante weidingspesie en die situasie (byvoorbeeld droë of nat gebied) kan die aangeplante weiding doodgemaak word ’n seisoen voordat graangewasse geplant word om toe te laat dat die grondprofiel met water aangevul word. Die watervereistes vir die eerste oes wat ná die aangeplante weiding beplan word, sal die tydsberekening vir die verwydering van die aangeplante weiding beïnvloed.

Betroubare en tydige seisoenale reënvalvoorspellings kan met hierdie beplanning help. Ná die aangeplante weidingfase sal die graanoesopbrengs beperk word tensy die grond-water-profiel aangevul word. Nadat die aangeplante weiding verwyder is, moet onkruid in die braakland beheer word om grondwater te bewaar om die maksimum voordele van die rusoes te verkry.

’n Geskikte geenbewerkingsplanter moet gebruik word om die graangewasse direk in die dooie materiaal van die aangeplante weidingsgewas te plant, sonder enige ander bewerkingspraktyk wat die grond versteur. Normale geïntegreerde bemestings- (gegrond op grondvrugbaarheidsvlakke en opbrengsmikpunte), onkruid- en plaagbeheerpraktyke moet gevolg word.

Smutsvingergras wat in Junie-maand as wintervoer (staande hooi) gebruik word.

’n Winsgewende aangeplante weiding

Smutsvingergras word beskou as een van grasse in Suid-Afrika wat die beste gehalte het en die aanpasbaarste is. Selfs as dit ’n tydjie neem om behoorlik te vestig, sal dit altyd bekend wees as een van die winsgewendste aangeplante weidings in ’n langtermyn-rusoesstelsel. Dit is ’n sterk meerjarige aangeplante weiding met ’n lewenskragtige wortelstelsel wat uiteindelik die grondgehalte kan verbeter en tot die winsgewendheid en volhoubaarheid van lewende hawe en ’n graanoes kan bydra.

Vir meer inligting, kontak dr Wayne Truter by wayne.truter@up.ac.za, prof Chris Dannhauser by admin@GrassSA.co.za, dr Hendrik Smith by hendrik.smith@grainsa.co.za, of mnr Gerrie Trytsman by gtrytsman@arc.agric.za.