August 2016
Beste Grootneef,
Klipmense is besondere mense. Daar is nie baie van hulle nie. Die meeste aardbewoners loop by ‘n klip verby sonder om veel aandag daaraan te gee. Want jy moet ‘n oog vir ‘n klip hê.
Dit is nie altyd die blink kant wat bo lê nie. Soms moet jy so effe dieper delf. Maar tussen die wye vlaktes en klippers van vele vorme en karakter, lê daar daardie spesiale een wat wag om opgetel te word.
Daardie stukkie versteende hout uit die oertyd. Tot dáár gespoel deur wie weet watter vloed uit ‘n woud van lank gelee. Of ‘n klipmes uit die steentyd. Die eertydse eienaar terug tot stof, met sy kosbaarste besitting verlore vir ‘n leeftyd. Tot op daardie oomblik dat jy dit uit die woestynland of grasveld optel en die gladde wande van die eeue-oue steen in jou hand toevou. ‘n Klipmes het ook ‘n gevoel – altyd bly om weer te behoort.
Wat van ‘n maalklip, met jare se slyp en skuur tot ‘n holte in die blou ysterklip gevorm? Elke maalklip uniek – met ‘n styl en fatsoen wat net tyd en toewyding kan gee. In die verre verskiet elke dag se kooksel fyngemaal op dié klipmeule, in die sweet van ‘n vrou se aangesig. Ritmies heen en weer, totdat die hardste van pit tot meel verbrokkel het.
Waarheen het die mense getrek wat so ‘n maalklip agterlaat? Die holte oor tyd, klip op klip, gebrei. Was daar dalk ander groener weivelde wat gelok het? En was dit swaar om die vrug van jou arbeid net daar op die vlaktes te laat, om weer op ‘n ander plek ‘n nuwe klip met ‘n meulsteen glad te maal. Want ‘n maalklip moes enige plek ‘n bietjie soos huis laat voel het – maak nie saak hoe nederig die kookskerm was nie.
Die graal van ‘n mensgemaakte klip bly egter ‘n egte regte Koi San-klip. Dit is nie baie beskore om só ‘n vonds raak te loop nie. Matelose moeite tot die klip koeël-rond in ‘n jagter se hand kon pas – sommige daarvan met ‘n gaatjie in die middel deur. Hoe op aarde ‘n eenvoudige veldmens ‘n klip só kon vorm, weet nugter. Probeer self met vandag se gereedskap van beitel, draaibank en boor om ‘n replika te maak! Dán eers verstaan jy die wonderwerk om só klip met klip te vorm – tot dit in ‘n hand volmaak sou pas.
Van meet af aan het mens en klip tyd gedeel. Die vroegste van boeremense het ‘n stapel of klippaal as merker erken. Lank voordat bloe kombome vir pale in die Vrystaat wortel geskiet het, is grense met klippale uitgesit.
Die ou klipreuse staan vandag steeds stil op wag deur wind en weer – om aan te toon waar wie se deel oor die vlaktes loop.
Net só het kliphuise hier en daar verrys om die Vrystaat te versier. Huise met karakter, klip vir klip uit die steengroef gekap.
Sommige klipmense hou daarvan om hul name op klippe uit te kap. So om op ‘n manier tydloosheid aan hul eie verganklikheid te gee. Vandag nog stop vele reisigers in Meiring se poort om te kyk waar Langenhoven sy droom-olifant “Herrie”, gedoop het. Of Debora se klip, waar Piet en sy klompie trekkers op pad Natalia toe oorgestaan het. Salig onbewus van Weenen wat wag.
Selfs die kleinste ou kerkie het ‘n hoeksteen met ‘n naam of twee, wat vertel van ‘n groepie mense wat aan ‘n droom begin bou het. Die ou foto’s in die konsistorie vertel van die manne van die tyd, met ‘n hoeksteen blink agter ‘n gordyntjie, om die dag en datum te vier.
‘n Klip is ‘n bousteen uit die aarde se binneste. ‘n Geslingerde klip kan egter ook vernietig – vra maar vir Goliat wat ‘n gladde spoelklippie uit ‘n slingervel kon doen.
‘n Klip of woord uit woede gegooi, se trefkrag is wyd – met ‘n roleffek soos ‘n veldbrand. Die verskil is net, veld kan weer na die reën herstel. Soms hou een woord mense egter vir ‘n leeftyd uitmekaar. Dan is dit ‘n steen des aanstoots.
Groete op die Oosgrens!
Kleinneef
Lesers is welkom om ‘n e-pos aan Kleinneef te stuur by kleinneef@graingrowers.co.za.
Publication: August 2016
Section: Features