Môre se brood… Navorsers werk nou saam om koringkultivars vir die toekoms te verseker

1040

August 2015

VICKI TOLMAY, LNR-Kleingraaninstituut

Kundiges voorspel dat die vraag na koring in ontwikkelende lande met 60% sal toeneem teen 2050. Dit is al so baie aangehaal, dat dit amper soos ou nuus klink. Kom ons dink ‘n oomblik daaroor: Anders gestel, beteken dit dat vir elke tien brode wat vandag in ontwikkelende lande gebruik word, sal daar oor 35 jaar, 16 brode benodig word.

Tegelykertyd word daar voorspel dat klimaatsverandering ‘n 20% – 30%-afname in produksie juis in hierdie gebiede kan veroorsaak. Die nuutste opname toon dat die grootste hoeveelheid van die wêreld se koringproduksie gebruik word binne die land wat dit produseer en dat die meeste hiervan ook ontwikkelende lande is.

Hoewel hierdie koring nie in die wêreldhandel opgeneem sal word nie, is die verwagting dat koringpryse in reële terme as gevolg daarvan sal verander en dat die vraag- en aanbodpatrone van koring dramaties in die toekoms gaan verander om hierby aan te pas. Weens die toename in die wêreldbevolking en die gevolglike uitbreiding van stedelike gebiede, word dit ook voorsien dat toekomstige produksie op ‘n heelwat kleiner area sal moet plaasvind as wat tans die geval is. Die beskikbare oppervlakte kan nog verder verminder word, indien dit nodig word om gebiede beskikbaar te stel vir rehabilitasie en die bewaring van biodiversiteit in die stryd teen klimaatsverandering.

image

Wat beteken al hierdie voorspellings vir ons hier in Suid-Afrika?

Koring is belangrik. Dit is ‘n gewas wat oor die eeue heen sinoniem geraak het met geborgenheid. “As daar net brood is,” is dikwels die versugting. Indien ons in die toekoms die beskikbaarheid van bekostigbare brood wil verseker, moet koring as gewas nou bevorder en beskerm word.

Die deurslaggewende faktor vir die voortgesette produksie van koring in Suid-Afrika sal winsgewendheid wees. Opbrengs, geskikte kwaliteit en eienskappe wat insetkoste bespaar en die gewas in staat stel om stremmings beter te hanteer, is noodsaaklike kenmerke vir toekomstige koringkultivars. Met kultivars wat by die unieke Suid-Afrikaanse produksieomstandighede aangepas is, sal ons produsente kan werk.

Die huidige inkrimping van die koringbedryf in Suid-Afrika bied die geleentheid vir ons as navorsers om te vra of koringnavorsing tans op die regte onderwerpe fokus. Word daar optimaal gebruik gemaak van beskikbare befondsing en kundigheid om koringverbouing te bevorder?

Waarnemings oor die veranderde benadering tot koringteling

Dit is alombekend dat die ontwikkeling van ‘n nuwe kultivar (‘n besonderse duur en ingewikkelde proses) tussen agt en 15 jaar kan duur. Telers moet na ‘n lang lys eienskappe kyk en dié plant uitsoek wat almal, of dan die meeste daarvan, bevat.

Dit maak dus sin om kundiges vir spesifieke eienskappe te gebruik om die beste plante uit te soek en in aangepasde Suid-Afrikaanse koringagtergronde in te bou. Hierdie aksie word “voorteling” of in Engels pre-breeding genoem. Dit word veral vir eienskappe soos gasheerplantweerstand teen siektes en insekplae gebruik, maar kan ook met groot sukses vir kwaliteit- en opbrengsverbetering ingespan word.

Sodoende kan telers reeds verbeterde lyne gebruik om die verlangde eienskappe in hulle programme in te dra sonder om die nadelige eienskappe wat die skenkerlyne dikwels bevat, ook in te bring.

Hierdie benadering word al meer in Suid-Afrikaanse koringnavorsing gevolg. Weerstand teen die Russiese koringluis is ‘n baie goeie voorbeeld daarvan.

Russiese koringluis

Daar is tans vier biotipes van hierdie luis wat in die koringproduksiegebiede van Suid-Afrika voorkom. Hulle verskil in hulle vermoë om die Russiese koringluis weerstandskultivars te beskadig, maar kan nie visueel onderskei word nie.

Die voedingsimptoom wat hulle op ‘n spesifieke stel weerstandbiedende koringlyne veroorsaak, word gebruik om hulle te klassifiseer. Die ontstaan van dié sogenaamde weerstandoorbruggende biotipes het tot gevolg gehad dat kultivars wat eens weerstandbiedend teen die Russiese koringluis was, nou nie meer so effektief werk nie. Nuwe kultivars moet dus geteel word.

‘n Groot verskeidenheid weerstand is beskikbaar

By die LNR-Kleingraaninstituut (LNR-KGI) word meer as 250 koringlyne met weerstand teen Russiese koringluis in ‘n kiemplasmaversameling op Bethlehem bewaar. Die oorgrote meerderheid van hulle besit weinig goeie eienskappe behalwe die Russiese koringluis weerstand.

Meeste van hulle is landrasse wat dekades terug deur ywerige botaniste in verafgeleë gebiede in dié lande waar koring sy oorsprong het, versamel is. Hierdie lyne is vanaf 1990 sorgvuldig bymekaargemaak en vir weerstand teen Suid-Afrikaanse Russiese koringluis geëvalueer. Die mees geskikte donorlyne word gebruik in kruisings om die weer stand vanuit die onaangepasde lyne na goeie Suid-Afrikaanse agtergronde oor te dra.

Die kultivarouer word sorgvuldig gekies om spesifieke eienskappe in die nageslag te bekom. ‘n Terugkruisingsprogram word gevolg waar die weerstandsbron slegs een keer met die aangepasde lyne gekruis word. Daarna word die nageslag herhaaldelik na die aangepasde lyn teruggekruis om sodoende die goeie eienskappe van die ouer te herwin.

Wanneer ‘n nuwe biotipe aangeteken word, word al die kruisings teen die nuwe biotipe geëvalueer alvorens die versameling weerstandslyne getoets word. Soms is die kruising weerstandbiedend, soms nie en dan moet die hele proses van vooraf herhaal word.

Die terugkruisingsproses word elke keer wanneer ‘n nuwe geskikte weerstandsbron geïdentifiseer word, met ‘n uitgesoekte, herhalende kultivarouer gedoen. Grafiek 1 wys hoe die kultivarouer se bydrae met elke terugkruising toeneem.

image

Jaarlikse vrystelling van voortelerslyne

Die nuutste kiemplasmavrystelling is ‘n stel van tien lyne met Russiese koringluis weerstand uit ‘n landras met die identiteitsnommer PI 225227.

Hierdie landras, wat in wese ‘n “produsenteseleksie” is, is van Iran afkomstig en is reeds op 28 April 1955 in die Amerikaanse kiemplasmaversameling opgeneem. Dit is vir dekades daar bewaar en in die laat negentigerjare na Suid-Afrika ingevoer. Dit bevat weerstand teen drie van die vier Russiese koringluis-biotipes wat hier voorkom, naamlik: RWASA1, RWASA2 en RWASA3.

Hierdie lyn is met Kariega as aangepasde Suid-Afrikaanse koring gekruis en ‘n stel van tien baie belowende teeltlyne is ontwikkel wat nou tot die beskikking van al die Suid-Afrikaanse koringtelers gestel is. Hierdie lyne bevat nie net Russiese koringluis weerstand nie, maar ook weerstand teen stamroes, blaarroes en geelroes.

Die maal- en bakkwaliteit is ook baie beter as dié van die landras. Opbrengste van die lyne is baie kompeterend en lewer waardes van 8,971 ton/ha tot 16,174 ton/ha onder besproeiingstoestande.

imageDie unieke kombinasie van Russiese koringluis en roesweerstand, in kombinasie met goeie kwaliteit en opbrengs, maak hierdie lyne besonderse goeie weerstandskenkers vir koringteeltprogramme, omdat daar geen nadelige eienskappe met die gebruik van hierdie lyne geassosieer is nie. Die ontwikkeling van dié lyne deur een kundige, voorkom duplikasie in verskillende teeltprogramme. Op hierdie manier word kundigheid en koste gedeel tot voordeel van die hele koringbedryf.

Vir meer inligting, skakel gerus vir Vicki Tolmay by 058 307 3433 of TolmayV@arc.agric.za.

Hierdie werk is moontlik gemaak met die finansiële ondersteuning van die
Wintergraantrust en die Landbounavorsingsraad.

 

 

Publication: August 2015

Section: On farm level