July 2015

PIETMAN BOTHA, SA Graan/Grain medewerker

Die 2014/2015-produksiejaar is afgehandel. Niks kan meer aan die produksie verander word nie, maar dit is belangrik dat elke produsent terugkyk om probleme wat gemaak is, te identifiseer sodat dit in die toekoms reggestel kan word.

Met behulp van ‘n opname by verskeie verteenwoordigers asook landboukundiges regoor die somersaaiproduksiegebied, is ‘n lys van algemene produksieprobleme opgestel.

In ‘n produksiejaar waar “té” vooraan geskryf word (té min reën, té veel reën), sal die effek van foute vergroot word. Dit is dus baie belangrik om aktief te gaan soek hoekom die produksie gefaal het.

Tussen buurmanne is daar opbrengsverskille. Hoekom is dit so? Is dit regtig net die reën? Dit wys net weer eens hoe belangrik dit vir produsente moet wees om te weet hoekom hul opbrengste laer as hul buurman of omgewing s’n was. Nog belangriker as om bloot net te weet, is om iets aan die saak te doen.

Hulpbronne

Die hulpbronbestuursprobleme kan maklik saamgevat word in kennis van die plaas. Elke plaas is uniek. Die fisiese eienskappe van elke grondsoort op die plaas moet die bestuur en aanwending daarvan bepaal.

Die inherente eienskap asook die gemiddelde reënval en vog in die grond, gee ‘n goeie aanduiding wat die produksiepotensiaal behoort te wees. Hierdie kennis is belangrik om te kan besluit waar om watter gewas te verbou en hoe die gewas bestuur moet word.

Hierdie fisiese eienskappe van die grond kan nie ver ander nie, maar vog moet optimaal opgegaar word en die grond se voedingstatus moet deur produsente reg bestuur word.

Die effek van grondverdigting en ploegblaaie is vanjaar weer mooi uitgewys. ‘n Profielgat is nie ‘n luukse nie: Dit is ‘n noodsaaklikheid. Profielgatondersoeke sal die verdigtings en ploegblaaie uitwys en die noodsaaklike bewerkings wat gedoen moet word, aantoon.

Baie koste kan hierdeur bespaar word en risiko van vogverlies kan ook hier beperk word. Moenie té rigied met die bewerking wees nie, soms moet dit verander word om by die omstandighede te pas.

Grond pH of grondsuurheidprobleme het ook vanjaar, soos in die verlede, ‘n baie groot gedeelte van die moontlike oes gesteel. Waar die grond pH reg was, kon beter oeste geproduseer word as by gronde waar die pH buite die norm was.

Al was die bemesting voldoende, het die plante in die lae pH en hoë suurversadigde gronde nie presteer nie. Swak wortelontwikkeling is hier waargeneem en met ‘n droogte is dit fataal.

image

Gesels met jou verteenwoordiger

In baie opsigte is die verteenwoordiger van ‘n maatskappy wat produksieaanbevelings maak, deel van die boerdery se bestuurspan. Baie keer moet die verteenwoordiger ‘n aanbeveling maak, maar weet nie regtig hoeveel fondse vir produksie beskikbaar is nie of wat die produksierigting gaan wees nie.

Die gevolg is dat die aanbevelings nie deur die produsent uitgevoer kan word nie. Om dié rede sal produsente net gedeeltes van die aanbevelings implementeer en dit lei gewoonlik iewers tot probleme. Soms moet daar oorgespuit word of die grondsuurheid word nie reggestel nie, of vele ander moontlike probleme, maar produksie is nie optimaal nie.

Deel al die inligting met die verteenwoordigers en kry hulle almal gelyk saam om die tafel en só sal baie beter planne beraam kan word en prioriteite aangespreek kan word.

image

Kultivarkeuse

By die kultivarkeuse kom daar ook baie probleme voor. Produsente neem soms ‘n besluit net op een jaar se kultivarproduksie-inligting. Die fout hiermee is egter dat in een jaar se data, die stabiliteit van die kultivars nie getoon word nie.

Vanjaar het die onstabiliteit van kultivars die produsente onkant gevang. Dit was veral by sojabone opmerklik die geval. Die belangrikheid van onafhanklike, meerjarige, getoetste produksiedata, soos deur die LNR gedoen, kan nie genoeg beklemtoon word nie. As kultivars nie lang termyn op die plaas getoets is nie, kan dit in ‘n swaar jaar die opbrengs baie benadeel.

Die plant van ‘n pakket van kultivars kan nie genoeg beklemtoon word nie. Vanjaar het die kultivar en plantdatum ‘n reuse-rol gespeel, of daar ‘n oes is of nie. ‘n Pakket van kultivars dek ‘n bietjie risiko af.

Maak seker dat die kultivar volgens sy plantestandvereistes geplant word. Sommige kultivars kan nie in hoë plantestande presteer nie. Praat met die verteenwoordiger en landboukundige om hierdie probleem aan te spreek.

Vogbestuur en wisselbou

Vog kan nie gekoop word nie, maak dus seker dat die reën wat val, wel omgesit word in graan en nie afloop en wegloop nie. Kyk na die bedekking van die grond wat waterafloop beperk en winderosie keer. Hou die kontoere in stand en maak die gebreektes reg en as daar probleme is, maak dit ook reg.

Wisselbou en die voordele daarvan, word nog onderskat. Nie net is die opbrengste beter nie, maar siekte- en onkruidbeheer kan ook beter wees.

Maak seker dat die wisselbouprogram by die vorige onkruiddoders inpas en dat die onkruiddoders so gekies word dat daar in die toekoms wisselbou toegepas kan word.

image

Onkruid- en plaagbeheer

Om in vuil lande te plant, is ‘n kritieke fout. Baie onkruidbeheerprogramme het verlede jaar om verskeie redes gefaal. Of dit nou die effek van die spuit was, of dat die dosis verkeerd toegedien is, of wat die probleem ook al was, dit het die opbrengste benadeel.

Onkruid- of plaagdoder moet soos voorgeskryf hanteer word. Pasop vir verkeerde menginstruksies of watergehalteprobleme: Dit het ‘n reuse-invloed op die werking van die middels.

Dit is vanjaar weer bewys dat Roundup dié gewasse wat nie daarteen bestand is nie, dood maak. Maak seker dat daar rekords is oor watter kultivars waar geplant is en dat die regte bestuurspraktyk op elke land toegepas word.

Mieliestamrusper veroorsaak baie skade. Maak seker wanneer gespuit moet word en gaan soek die klein wurmpies voor hulle begin skade maak. ‘n Voorkomende bespuiting kan baie goeie resultate tot gevolg hê.

Die effek van grondsiektes, veral aalwurms en ander, word onderskat. Gaan kyk en laat kyk hoekom die gewasse omval of dalk nie groei nie.

Tydige beheer van veral grondoordraagbare siektes en aalwurm, kan ‘n positiewe effek op opbrengs hê. Pasop ook vir grondinsekte wat die jong saailinge beskadig.

Dit is belangrik om die onkruiddoder by die kleipersentasie van die land aan te pas. Die kleipersentasie kan veroorsaak dat die dosis toegedien, die plantestand kan benadeel. Maak ook seker of die onkruiddoder nie dalk met valarms gespuit moet word waar die gewas te oud is nie.

Meganisasie

Tydigheid is altyd ‘n probleem. As die reën laat kom, is daar net te veel werk vir te min ysters. Die gevolg is dat aksies agter raak of half gedoen word.

Maak seker dat die implemente wat gebruik word, reg gestel is, skoongemaak is en instandhouding op datum is, voor daar met die werk begin moet word. Let veral op die spuite en spuitpunte. ‘n Voorkombare breek in kritieke tye kos baie geld en is onaanvaarbaar.

Die verlies in opbrengste as gevolg van onkruid en swak plantestand, regverdig die aanhou van nog ‘n bystandplanter en nog ‘n bystandspuit.

Planters wat te vinnig plant en die pitplasing nie reg doen nie, het tot gevolg dat plantestand nie reg is nie en dit verlaag die opbrengs. Plant eerder stadiger, maar beperk die staantyd van die planter op die wenakkers om beter resultate te verkry.

Maak seker dat die planter se rywydtes en dié van veral die stropertafels ooreenkom. Soms is veral die lasrye te nou of die rye kan net 2 cm uit wees, wat tot gevolg het dat baie vermorsing tydens stroop plaasvind.

Bemesting

Produsente verstaan in baie gevalle nie hoe die insette wat hul aanwend, bestuur moet word nie. Ureum gebaseerde plantermengsels is ‘n goeie voorbeeld. Veral in koue omstandighede kan die omskakelingsproses na ammonium en nitrate langer as gewoonlik neem.

Bestuur hierdie probleem aktief en maak planne om die tekortkominge van produkte reg te stel. Sojaboonentstof moet ook korrek bestuur word om goeie enting te verkry. Blootstelling aan die son, té droë grond en ander probleme is baie nadelig vir die entstof.

Maak seker dat die kunsmisplasing van die planter reg gestel is. Kunsmis té na aan die pit veroorsaak dat die saailinge brand en doodgaan.

Maak ook seker dat die hoeveelheid kunsmis wat toegedien word binne die aanbevelings en norme bly. In sommige lande, veral in die oostelike Hoëveld, kon die effek van té min of verkeerde bemesting waargeneem word. Fosfaat- en kaliumtekorte op veral die sojabone is waargeneem.

Plant

Veral in die ooste gee produsente te min aandag aan die grondtemperatuur tydens plant. Maak seker dat die grondtemperatuur binne die norme is voor daar geplant word.

Wat die plantdiepte betref, is daar ook baie werk gedoen. Pasop om té vlak te plant, praat met die verteenwoordiger om die regte plantdiepte te verkry of oor wanneer daar gerol moet word.

Oes

Tydigheid met die oes van die gewasse is soos altyd ‘n probleem en ‘n groot gedeelte van die oes gaan verlore. Baie sojabone word té laat gestroop en van die ander gewasse word erg deur voëls beskadig. Stroop eerder ‘n bietjie té nat en laat dit droog tot op die vereiste vlakke as om baie oesverlies te dra.

Die produsent se voetspore in die land verseker ‘n goeie oes. Op dié manier kan probleme vroeg raakgesien en reggestel word. Moet ook nie vergeet om die verteenwoordigers saam te nooi land toe nie. Baie van hulle sal ander foute raaksien wat ook reggestel kan word. ‘n Studiegroep is ‘n goeie plek om nuwe inligting by te kry. Praat met jou medelede en begin ‘n groep om jou eie prestasie teen te meet.

As daar enige verdere vrae is of as jy só ‘n vergelykingsgroep wil begin, kontak gerus vir Pietman Botha by 082 759 2991 vir hulp.

Publication: July 2015

Section: On farm level