May 2015
Stinkkruid (Stink weed)
PJ PIETERSE, Departement Agronomie, Universiteit van Stellenbosch
Wetenskaplike naam: | Oncosiphon suffruticosum |
Afrikaanse naam: | Stinkkruid |
Engelse naam: | Stink weed |
Daar kom agt Oncosiphon-spesies in Suid-Afrika voor, maar net Oncosiphon suffruticosum (klein stinkkruid) en O. grandiflorus (groot stinkkruid) word beskou as algemene onkruide in die winterreënvalstreek. Dit is nie ‘n baie sterk kompeteerder nie, maar waar dit in digte stande voorkom, kan dit erg met gewasse kompeteer. In hierdie artikel sal hoofsaaklik gekonsentreer word op inligting rakende klein stinkkruid, omdat dit ook in ander wêrelddele onkruidstatus verwerf het.
Stinkkruid is ‘n onkruid van graanlande, weidingslande, oulande, pad reserwes en versteurde areas. Dit is onsmaaklik en word selde gevreet as gevolg van die sterk reuk van die blare. Die smaak van melk en vleis word negatief beïnvloed wanneer diere dit vreet. Dit het talle medisinale eienskappe en word vandag nog deur sekere dele van die bevolking gebruik vir onder andere maagkrampe, verkoue, griep, longontsteking, intestinale wurms, tifus- en rumatiekkoors, asma en as ‘n tonikum om te help met vertering. ‘n Kompres van die blare word ook uitwendig aangewend vir inflammasie en skerpioenbyte.
Stinkkruid is ‘n regopgroeiende, aromatiese, eenjarige kruid wat tot 500 mm hoog kan groei. Die blare is fyn ingesny, tot 40 mm lank, met ‘n sterk reuk. Die bloeihofies het slegs geel buisblomme, is 3 mm – 7 mm in deursneë en word in groepies aan die punte van takke gedra. Die omwindsel skutblare is in vier rye gerangskik. Die vrugte is klein, gerib en bruinerig met ‘n ring witterige skubbe aan die een kant.
Voorkoms en verspreiding
Stinkkruid is inheems aan Suid-Afrika en kom voor vanaf die Namibiese grens tot ongeveer naby Gansbaai. Klein stinkkruid is ook as ‘n onkruid in Australië en Noord-Amerika aangeteken. Daar word vermoed dat dit Australië in 1922 saam met droogtevoer uit Suid-Afrika binnegekom het. Stinkkruid plant net met saad voort. Duisende sade per plant word geproduseer, maar omdat die sade nie verspreidingsaanpassings het nie, versprei dit stadig na nuwe gebiede. Waar dit wel reeds voorkom, kan baie digte stande van stinkkruid vestig.
Die saad bly rustend deur die somer en die meeste ontkiem tydens die daaropvolgende herfsseisoen; ‘n klein persentasie kan egter vir tot drie jaar in die grond oorleef. Stinkkruid se saad kan deur klere, skoene, masjinerie, gewas- en weidingsaad en voer versprei word. Oor die algemeen word dit waarskynlik die meeste saam met voergewasse oor lang afstande versprei. Stinkkruid verkies sanderige gronde, maar kan ook op swaarder gronde voorkom.
Beheer
Chemiese beheer
Die lys van onkruiddoders wat vir stinkkruid geregistreer is, wat genoem word in die publikasie A guide for the chemical control of weeds in South Africa, word in Tabel 1 aangetoon. Die lys in Tabel 1 is ‘n samevoeging van middels wat teen klein sowel as groot stinkkruid geregistreer is.
Daar is aangeneem dat middels wat teen die een effektief is, ook teen die ander een effektief sal wees. Ook is ‘n paar onkruiddoders en toepassings bygevoeg wat geregistreer is nadat die gids gepubliseer is asook sommige nie-selektiewe onkruiddoders wat nie spesifiseer watter onkruidspesies beheer word nie, maar wat wel effektief teen stinkkruid is as daar nie weerstand is nie. Stinkkruid is redelik gevoelig vir ALS-inhibeerders, glifosaat en hormoontipe onkruiddoders.
Volgens www.weedscience.org is daar in 2004 weerstand teen metsulfuron methyl in klein stinkkruid in Suid-Australië waargeneem. Daar is ook in Suid-Afrika weerstand teen van die sulfonielureas (SU’s) waargeneem in stinkkruid en na bewering is daar dele in die Swartland waar geen SU’s meer effektief is nie. Indien iets soos bromoxynil egter saam met ‘n sulfonielurea toegedien word (indien so geregistreer), word daar steeds baie goeie beheer verkry.
Dit is nietemin belangrik dat maatreëls toegepas word om te verhoed dat weerstand teen onkruiddoders ontwikkel. Dra dus sorg dat enige onkruiddoder onder goeie spuittoestande en die korrekte dosis toegedien word op onkruid wat nie groter as die vierblaarstadium is nie.
Te hoë en te lae dosisse veroorsaak hoë seleksiedruk vir teikensetel- en nie-teikensetelweerstand onderskeidelik. Wissel ook die gebruik van ‘n effektiewe onkruiddoder so gereeld as moontlik af met ander onkruiddoders met ‘n ander werkswyse (met ander woorde in ‘n ander werkswysegroep).
Alternatiewe beheer
Met die oog op die voorkoming en bestuur van onkruiddoderweerstand is dit noodsaaklik dat daar nie net op chemiese beheer staatgemaak word nie. Daar is in Australië gevind dat laat bewerking en uitgestelde saaidatums redelike beheer van stink kruid gee. Stinkkruid vestig slegs op kaal grond, dus sal goeie weidingsbeheer wat ‘n redelike grondbedekking handhaaf, ook help om stinkkruidpopulasies onder beheer te hou. Goed kompeterende gewasse wat vinnig vestig kan ook getalle verminder.
Bedankings en verwysings
Die volgende persone het die artikel krities deurgelees en voorstelle ter verbetering gemaak waar nodig: Prof Andy Cairns (Universiteit van Stellenbosch), dr Erik Eksteen (Syngenta), mnr Org Lotter (Bayer CropScience), mnr Jim McDermott (Du Pont), mnr Hannes Schoeman (Monsanto), mnr Frik Potgieter (Nulandis) en mnr Dirk van Eeden (Terason).
Die lys van geregistreerde onkruiddoders is verkry vanuit die publikasie: A Guide to the chemical control of weeds in South Africa: A CropLife South Africa Compendium. Bestel by info@cropsolutions.co.za of 011 079 4199.
Inligting oor die morfologie en voorkoms van die plant is verkry by www.plantzafrica.com/plantnop/oncosiphsuff.htm. Lesers kan die pamflet Volhoubare gewasproduksie in die teenwoordigheid van onkruiddoderweerstand ook in PDF-formaat verkry van die skrywer van hierdie artikel by pjp@sun.ac.za.
Dit is ook (in Engels) beskikbaar by die CropLife SA webtuiste (www.croplife.co.za).
Alternatiewe bron van inligting
Publication: May 2015
Section: On farm level