Boedelbelastingbeplanning deur die gebruik van verskillende ondernemingsvorme

1142

May 2015

HESNA RHEEDER, assosiaat direkteur, PricewaterhouseCoopers en GERT NEL, konsultant, PricewaterhouseCoopers

Vir boedelbeplanning is die besparing van belasting ‘n belangrike oorweging en is die oogmerk om die potensiële belastingaanspreeklikheid van die erflater en erfgename so laag as moontlik te hou. Hierdie aspek is baie be langrik, want dit raak die volhoubaarheid van die boerdery direk.

Daar moet egter ook nie van ander faktore in die boedelplan vergeet word nie, byvoorbeeld die praktiese uitvoerbaarheid, regsaanspreeklikheid, saamboerdery, erfopvolging, familiebetrekkinge en versekering. ‘n Produsent is nie noodwendig ‘n kenner op al die gebiede nie en daarom behoort boedelbeplanning in samewerking met regsgeleerdes, landboukundiges, rekenmeesters en finansiële beplanners gedoen te word.

By boedelbeplanning is daar verskeie belastings wat ter sprake kan wees, naamlik:

  • Inkomstebelasting
  • Boedelbelasting
  • Kapitaalwinsbelasting
  • Skenkingsbelasting
  • Hereregte
  • Seëlregte
  • Belasting op toegevoegde waarde

In die boedelplan van ‘n persoon kan van verskillende ondernemingsvorme gebruik gemaak word. Vervolgens bespreek ons kort liks die gebruik van verskillende ondernemingsvorme vir doeleindes van boedelbeplanning.

Eenmansaak

Uit ‘n boedelbeplanningsoogpunt, hou die eenmansaak geen voordele in nie omrede die bates van hierdie tipe onderneming aan die eienaar behoort en die groei van die bates dus in sy boedel plaasvind.

Geen besparing op boedel- en kapitaalwinsbelasting kan dus bewerkstellig word met die gebruik van ‘n eenmansaak nie. Vir inkomstebelastingdoeleindes, in die geval van ‘n boerdery, is daar egter die voordeel van nivellering wat deur slegs natuurlike persone gebruik kan word. Dit beteken dat ‘n persoon se jaarlikse belasting gelykmatig vasgestel word indien sy inkomste van jaar tot jaar fluktueer.

Vir ‘n produsent wat met lewende hawe boer is daar by afsterwe wesenlike inkomstebelastingvoordele, welke voordele deur sy erfgename benut kan word.

Vennootskap

‘n Vennootskap is niks anders nie as die samevoeging van twee of meer persone (beperk tot 20), wat kontraktueel verbind is om ‘n besigheid gesamentlik te bedryf.

‘n Vennootskap hou nie veel boedelbeplanningsgeleenthede in nie omrede die bates en laste nie die vennootskap s’n is nie, maar die vennote s’n. ‘n Vennootskap kan wel gebruik word om ‘n beter belastingstruktuur daar te stel deur ander ondernemingsvorme ook te gebruik, byvoorbeeld ‘n individu wat met sy trust of maatskappy in ‘n vennootskap handel.

Vir inkomstebelastingdoeleindes kan ‘n vennootskap voordelig gebruik word waar lede van ‘n gesin byvoorbeeld saam boer. Inkomste kan gunstig verdeel word tussen verskillende persone wat die belastingaanspreeklikheid
kan verlaag.

Maatskappy

‘n Maatskappy is ‘n afsonderlike regspersoon en handel dus geheel en al afsonderlik van sy lede. Anders as in die geval van ‘n eenmansaak of vennootskap is die bates en laste dié van die maatskappy en nie dié van die aandeelhouers nie.

Maatskappye word vir inkomstebelastingdoeleindes belas teen ‘n vaste koers van 28% en indien fondse uitgekeer word aan die aandeelhouers, kan dividendbelasting teen ‘n koers van 15% moontlik ter sprake wees.

Die grootste voordeel van ‘n maatskappy is dat dit aan die aandeelhouers beperkte aanspreeklikheid bied.

Uit ‘n boedelbeplanningsoogpunt bied ‘n maatskappy ook nie veel voordele nie aangesien die waarde van die aandele die netto batewaarde van die maatskappy verteenwoordig en die aandele deel van ‘n aandeelhouer se boedel vorm.

Beslote korporasie

‘n Beslote korporasie is ook ‘n afsonderlike regspersoon, maar is ‘n eenvoudiger ondernemingsvorm as ‘n maatskappy. Let egter daarop dat ‘n nuwe beslote korporasie nie meer ingelyf kan word nie en die lede van ‘n beslote korporasie is beperk tot lede. Indien ‘n trust ‘n lid is van ‘n beslote korporasie, word die begunstigdes van die trust getel om die aantal lede te bepaal.

‘n Beslote korporasie word vir belastingdoeleindes as ‘n privaat maatskappy geag. Die belastinghantering van ‘n beslote korporasie is dus dieselfde as dié van ‘n maat skappy. Soos in die geval van ‘n maatskappy, hou ‘n beslote korporasie ook nie veel nut in vir boedelbeplanning nie aangesien die belang in die beslote korporasie ook deel vorm van ‘n persoon se boedelbates.

Trust

Vir boedel- en belastingbeplanning is ‘n trust steeds ‘n baie nuttige instrument. Trustbates vorm nie deel van die boedel van die trustees of begunstigdes nie (indien dit nie in hulle vestig nie) en daarom is dit moontlik om boedelgroei in ‘n individu se hande te beperk sonder om volle beheer oor die bates af te staan.

‘n Trust kan onder andere onder een van die volgende kategorieë van trusts val:

  • Testamentêre trust – word deur middel van ‘n testament geskep en kom tot stand by afsterwe van die erflater.
  • Inter vivos trust – word gedurende die leeftyd van ‘n individu geskep.

Verder kan ‘n trust verskillende indelings en benamings bevat waarvan die volgende deel kan wees:

  • Diskresionêr – die verdeling van inkomste en kapitaal aan die begunstigdes word bepaal kragtens die diskresie verleen aan trustees.
  • Bewind – die begunstigdes het ‘n gevestigde reg op die trustbates.

Met die intrede van kapitaalwinsbelasting is die meeste persone skepties oor die gebruik van ‘n trust omrede die effektiewe kapitaalwinsbelastingkoers vir trusts 27,31% is (41% marginaal teen ‘n insluitingskoers van 66,6%) teenoor die 0% – 13,65% van individue. Die gebruik van ‘n diskresionêre trust kan egter hierdie probleem oorkom deurdat kapitaalwins in ‘n trust moontlik toegeken kan word na die begunstigdes, wat dan tot gevolg sal hê dat die maksimum effektiewe koers van kapitaalwins 13,65% sal wees.

Erfopvolging

Soos reeds genoem, moet belastingbesparing nie die enigste oogmerk wees in ‘n boedelplan nie en daarom is erfopvolging ‘n belangrike vraagstuk wat ‘n produsent moet aanspreek. Deur te versuim om te beplan vir erfopvolging van jou boer dery kan vir die nageslag ernstige gevolge inhou.

Erfopvolgingbeplanning moet reeds geskied terwyl die produsent leef en dit moet die gaping aanspreek van waar die boerdery tans is en waarheen dit moet gaan. Hierdie proses is ‘n familieproses en alle lede van die familie moet insae en kennis van die beplanning dra.

Deur die gebruik van trusts en boerderyvennootskappe kan ‘n boerdery so gestruktureer word dat dit die oorgang van ‘n boerdery na die nageslag vergemaklik. In erfopvolging speel die testament ‘n belangrike rol: Net soos wat die testament gereeld nagegaan moet word, moet die erfopvolgingsplan ook nagegaan word en aangepas word soos tyd verloop.

Testament

‘n Boedelplan moet goed deurdink word om gestalte te gee aan die erflater se wense en daarom moet ‘n persoon ‘n goedbeplande testament saamstel wat uiteensit hoe die boedel tussen erfgename verdeel moet word. ‘n Weldeurdagte testament verhoed konflik tussen naasbestaandes, ongewenste finansiële implikasies en vertragings met die afhandeling van die boedel.

Daar moet egter in gedagte gehou word dat die opstel en hersiening van ‘n testament ‘n deurlopende proses is. ‘n Testament moet gereeld hersien en aangepas word by veranderde omstandighede ten einde aan hierdie vereistes te voldoen.

Ten slotte

Boedelbeplanning, wat beteken deur lopende langtermynbeplanning, is nodig vir alle produsente, afgesien van die grootte van jou boedel. Jou boedelbeplanning moet ge reeld hersien en waar nodig aangepas word om by jou veranderende omstandighede of gewysigde wetgewing aan te pas.

Hesna Rheeder van PwC spesialiseer in belasting. By PwC het ons die nodige kundigheid en ondervinding om jou behulpsaam te wees met behoorlike belastingbeplanning. Skakel ons gerus by 051 503 4100 vir verdere inligting of besoek ons kantore by Tweedelaan 61, Bloemfontein. Gert Nel is ‘n afgetrede direkteur van PwC en medeskrywer van hierdie artikel. Hierdie artikel word deur PwC verskaf, slegs vir inligtingsdoeleindes. Dit verteenwoordig geensins die voorsiening van professionele advies nie.

Die inligting bevat in hierdie artikel behoort nie konsultasie met professionele adviseurs te vervang nie. Raadpleeg eers ‘n professionele adviseur wat voorsien is van al die relevante feite met betrekking tot jou spesifieke situasie voordat enige besluite of optredes geneem word.

Geen aanspreeklikheid word deur die skrywer, kopiereghouer of uitgewer aanvaar teenoor enige persoon vir enige verlies wat ontstaan as gevolg van optrede of nieoptrede op grond van die inhoud van hierdie artikel nie.

© 2015 PricewaterhouseCoopers (PwC), die Suid-Afrikaanse firma. Alle regte voorbehou. In hierdie dokument verwys “PwC” na PricewaterhouseCoopers in Suid-Afrika, wat ‘n lidfirma van PricewaterhouseCoopers International Limited (“PwCIL”) is, waarvan elke lidfirma ‘n aparte regsentiteit is en nie as ‘n agent van PwCIL optree nie. (13-13166)

Publication: May 2015

Section: Focus on