My onlangse blootstelling aan ons akademiese leiers het my tot nuwe insigte gebring. As ek reg onthou, het die akademici ’n baie belangrike, leidende rol in Suid-Afrika se geskiedenis gespeel om by ’n ware demokrasie uit te kom.
Dit was juis hulle wat met kritiek en wysheid gekom het om oplossings te bring vir die dilemmas van die 1980’s en vroeë 1990’s. Wat my nou verras het, was dat die akademici steeds hierdie rol speel ten opsigte van die situasie waarin ons land hom tans bevind. Ek was onder die indruk dat hulle nou stil geword het.
Daar is beslis geen fout met hulle waarnemings en standaarde nie: Hulle het selfs opinies oor die swak prestasies van ons nasionale sportspanne. Die afgelope maand was rampspoedig gewees – maak nie saak na watter sport jy kyk nie. Op internasionale vlak is ons net nie meer goed genoeg nie. Daar lê wel nog een wêreldbeker voor en dit sal my groot plesier verskaf as die tendens verkeerd bewys word.
In die gesprekke waar ek teenwoordig was, privaat en van die verhoë af, is daar geen onduidelikheid by hulle dat Suid-Afrika nie op ’n goeie plek is nie en dat daar dringende verandering nodig is. Daar is ’n uitgesprokenheid oor ons huidige leiers se vermoëns om ons hieruit te lei, aangesien hulle van mening is dat dit dieselfde leiers is wat ons in die situasie ingelei het.
As ek hier na leiers in die akademie verwys, praat ek van alle rasse en alle dissiplines. Hulle uitsprake en opinies is op feite en eerlike assessering gebaseer en hulle hou nie terug weens rasse- en/of partypolitiek nie. As ons afsteek teenoor die wêreld gaan dit oor meriete. Wanneer laas het ons dit gehoor? Wat hulle besig is om te doen – objektiewe analises – word nou nie eintlik as polities korrek beskou nie. Tog is dit juis hierdie eerlike opregtheid wat die eerste belangrike tree is om van rigting te verander. Hierdie boodskap van hulle is baie goeie advies aan elke jong gegradueerde (en die huidige politieke leiers).
Dit mag wees dat die redelike mense binne die regerende party nie altyd die meerderheidstem het om besluite en beleid te verander nie, maar as die res van die land se redelike mense (ek reken myself en Graan SA daarby in) bygevoeg word, dan is daar hoop. Om hierdie groepering van mense bymekaar te kry en saam te laat werk, gaan beslis uitnemende leierskap benodig.
Oom Fanie van Zyl sê altyd: “Jy het ’n man op ’n perd nodig” en tydens die tyd van stedelike oorlogvoering in die 1990’s het hulle gepraat van “one times brave captain on bulldozer”. Die tyd is juis nou vir die manne en vroue van ons tyd om op te staan. Ons het verandering dringend nodig.
Ek het die eerste groen spruite van hoop gesien met die opstel van die nuwe planne om die ekonomie weer te laat groei asook in die toesprake van ons akademici aan die gegradueerde studente. Ons geloof in mense en veral in ons leiers, het baie seergekry die afgelope klompie jare, maar dit kan nooit ons geloof in ons God oorskry en ons moedeloos maak nie.
Net soos daar nog altyd ’n einde aan elke droogte gekom het, bly ek glo dat die einde van die huidige politieke droogte ook sal aanbreek. Ons moet dus nou die grond bewerk sodat ons kan reg wees om te plant.