Erkenning vir besonderse prestasies

Gepubliseer: 17 April 2020
Valerie Cilliers, redakteur, SA Graan/Grain

1367
Die media wys jaarliks die beste spreker van die vloer af aan. Vanjaar deel Derek Mathews en Kallie Schoeman die trofee. Nadat Derek en sy gesin in Januarie vanjaar deur gewapende mans op hul plaas oorval is, was sy boodskap tydens sy mosie oor plaasveiligheid duidelik: “Ons mag nooit stilbly oor plaasaanvalle nie en ons mag dit nie as iets alledaags aanvaar nie.” Kallie Schoeman se bydrae oor Graan SA-heffings en sy sweepklap toe hy hoofregter Mogoeng Mogoeng vir sy inspirerende toespraak bedank het, het ook aan hom die trofee besorg. Jannie de Villiers (uitvoerende hoofbestuurder, Graan SA), Johan Smit (uitvoerende redakteur, SA Graan/Grain) en Jaco Minnaar (uittredende voorsitter, Graan SA) het die trofee aan Tommie Olckers (namens Kallie) en Derek oorhandig.
Die Koster-skild word aan die skrywer van die beste reeks artikels in SA Graan/Grain oorhandig. Vanjaar gaan die skild aan Luan van der Walt vir sy Graanmark-rubriek wat maandeliks in die tydskrif verskyn. Luan ontvang die skild van Graan SA-hoofbestuurslid, Sarel Haasbroek.
Jaarliks stem die redaksiekomitee vir die beste artikel en vanjaar het Pietman Botha met die louere weggestap. Pietman se artikel “Foute met saadplasing kos ongesiens baie” in die Maart 2019-uitgawe van SA Graan/Grain het beïndruk. Pietman word hier deur Jaco Breytenbach, voorsitter van die redaksiekomitee, gelukgewens.