September 2018

DR ERIK EKSTEEN, verkoopsbestuurder: Wes-Kaap, Syngenta, DR ELBÉ HUGO, tegniese produkbestuurder: Onkruiddoders, Syngenta en FRANCOIS VILJOEN, tegniese bestuurder: Onkruidbeheer, Syngenta

Onkruiddoderweerstand het die afgelope paar jaar ‘n algemene besprekingspunt onder produsente geword. Die grootste uitdaging hiervan is om weerstand positief te identifiseer en te bewys. Daarna moet beheerstrategieë sorgvuldig bepaal word om die spesifieke populasie uit te roei of om die verspreiding daarvan sover as moontlik te beperk.

Onlangs is daar in die media berig oor die voorkoms van Amaranthus palmeri, Palmer Amarant, wat nou ook sy opwagting in Suid-Afrika gemaak het. Dit het opnuut weer die vergrootglas op onkruiddoderweerstand geplaas. In Suid-Afrika is daar tans weerstand aangeteken teen nege onkruidspesies en ses onkruiddodergroepe.

Die eerste bevestigde geval van onkruidweerstand met selektiewe onkruiddoders is aangeteken in 1986 teen wildehawer (Avena fatua) in koring. Daarna het verskeie gras- en breëblaaronkruide gevolg – soos in Tabel 1 aangedui.

In die vroeë 2000’s is onkruiddoderweerstand teen gras- en breëblaaronkruide ook aangeteken teen nie-selektiewe onkruiddoders, wat hoofsaaklik in voor-saaisituasies en meerjarige boordgewasse (Tabel 2) gebruik word.

Alhoewel daar verskeie ander onkruidspesies is waarvan die beheer in die afgelope paar jare ‘n al hoe groter uitdaging geword het, is daar tans nog geen nuwe bevestigde gevalle van weerstandbiedendheid in rygewasse in die Hoëveldstreke nie. Dit is daarom noodsaaklik om te onderskei tussen weerstand, “natuurlike tolerante” en moeilik beheerbare onkruide.

In meeste gevalle wat onlangs in die noordelike streke ondersoek is, is weerstand teen onkruiddoders nie bevestig nie en kan swak beheer eerder toegeskryf word aan oneffektiewe onkruiddodertoediening en/of die morfologiese eienskappe van spesifieke onkruide. Produsente moet egter geensins te gerus wees dat onkruiddoderweerstand net tot sekere gebiede in Suid-Afrika beperk is nie.

Daar is ‘n hele paar rooi ligte wat reeds flikker en produsente moet bedag wees op die faktore wat die risiko van weerstandige onkruide kan bevorder. In Tabel 3 is ‘n samevatting van sekere faktore wat ‘n groot rol kan speel in die tempo waarteen weerstandige onkruide kan ontwikkel en die risiko daaraan verbonde.

Die aktiewe bestanddeel van ‘n onkruiddoder dui die meganisme van werking van onkruiddoders aan. Die meganisme van werking (mode of action) word gedefinieer in terme van hoe ‘n spesifieke onkruiddoder ‘n plant beïnvloed.

Daar is tans 15 verskillende meganismes van werking waarin alle aktiewe bestanddele ingedeel word, geïdentifiseer. Dit is belangrik dat produsente die groepe onkruiddoders ken en sorg dat daar nie herhaaldelike toedienings van aktiewe bestanddele wat in dieselfde groep val, plaasvind nie. Die groepe word aangetoon as hoofletters op ‘n etiket; so byvoorbeeld is Gramoxone® se aktiewe bestanddeel parakwat en die groep is D.

Weerstandsbestuur
Die gebruik van geïntegreerde onkruidbeheermetodes is krities vir die beskerming van die bestaande chemie wat vir die beheer van onkruide gebruik word.

’n Holistiese benadering tot die bestuur van weerstand moet gevolg word – wat praktyke sal insluit soos:

  • Gewasrotasie/gewasbestuur;
  • bewerkings-/agronomiese praktyke; en
  • chemiese praktyke.

Opsies vir die beheer van weerstandbiedende onkruide is beperk en die produsent sal die produkte tot sy beskikking met oorleg moet gebruik ten einde die volhoubaarheid van gewasproduksie te verseker.

Die gebruik van onkruiddoders met ‘n alternatiewe meganisme van werking of nuwe produkte, is nie alleen meer ‘n langtermynoplossing vir die bestuur van onkruiddoderweerstand nie en die gebruik van geïntegreerde praktyke is noodsaaklik.

Die doel van ‘n suksesvolle weerstandsbestuurprogram is om:

  • Die verspreiding van onkruidsaad te voorkom;
  • saadvorming te beperk;
  • saad wat gevorm is, te vernietig; en
  • die weerstandsituasie om te keer.

Om die sukses van ‘n weerstandbestuursprogram te verseker, is dit van kardinale belang om die getalle van die weerstandige onkruidpopulasie te verminder. Onkruide wat tans die grootste uitdagings vir produsente inhou, is raaigras en vaalskraalhanse.

Raaigras 
Raaigras (Lolium spp.) is tans die nommer een onkruid in kleingraan. Dit kom wydverspreid in hoë populasies in die Wes- en Suid-Kaap voor.

Dit is een van die onkruide waar weerstand teen onkruiddoders die maklikste ontwikkel omdat:

  • Dit geneties besonder divers is;
  • verpligtend kruisbestuiwend is; en
  • feitlik geen saadrusperiode het nie.

Die gebrek aan die toepassing van geïntegreerde onkruidbeheerstelsels en die oorgebruik van onkruiddoders met dieselfde meganisme van werking, kan ook as redes gesien word vir die ontwikkeling van onkruiddoderweerstand. Daar is reeds wydverspreide weerstand van raaigras teen onkruiddoders soos die ACCase-inhibeerders (Groep A) sowel as die ALS-inhibeerders (Groep B) in eenjarige gewasse aangeteken.

Weerstand teen na-opkomsgrasdoders in kleingraan het die produsente genoop om oor te skakel na ‘n voor-opkomsbeheerstrategie van veral raaigras. As gevolg hiervan was produsente gedwing om oor te skakel na die gebruik van planters in plaas van die tradisionele uitstrooi- en toekrapmetode wat met saai aangewend is.

Daar is tans verskeie produkte wat met groot sukses vir die voor-opkomsbeheer van raaigras in kleingraan gebruik kan word, naamlik trifluralien, triallaat (Avadex), prosulfokarb (Boxer) en piroksasulfoon (Sakura).

Afgesien van die feit dat van die voor-opkomsonkruiddoders relatief nuut op die mark is, is daar reeds aanduidings dat die onoordeelkundige gebruik van die onkruiddoders ook tot die ontwikkeling van weerstand kan lei.

Navorsing wat in Australië gedoen is, het bewys dat die opeenvolgende gebruik van dieselfde voor-opkomsonkruiddoder of die gebruik van té lae dosisse, kan lei tot weerstandsontwikkeling teen piroksasulfoon (Busi et al, 2014). Die stelling is soveel te meer geldig by raaigras wat reeds weerstand teen ander groepe onkruiddoders ontwikkel het, in welke geval weerstand teen piroksasulfoon vinniger sal ontwikkel.

‘n Verdere gevaar wat die ontwikkeling van weerstand teen een van die voor-opkomsonkruiddoders inhou, is die feit dat daar kruisweerstand teen die ander voor-opkomsmiddels (Busi en Powles, 2013) kan ontwikkel. Indien dit gebeur, kan dit verreikende gevolge vir die volhoubare produksie van koring in die Wes-Kaap inhou. Kruisweerstand is waar een onkruid weerstandig raak teen meer as een onkruiddoder met verskillende meganismes van werking.

Vaalskraalhans
Vaalskraalhans (Conyza bonariensis) kom wyd verspreid in gewasverbouingsgebiede voor op onversteurde grond, langs paaie, stoppellande, sowel as in meerjarige gewasse soos druiwe, kern- en steenvrugte. Die saad ontkiem in die winter en groei dan in ‘n roset voordat die plant begin opstaan sodra die lente begin. Weerstand in vaalskraalhans is in 2003 bevestig teen die nie-selektiewe onkruiddoder glifosaat (Groep G), sowel as die skroeimiddels parakwat en dikwat (Groep D).

Wat die uitdaging groter maak, is dat nie-selektiewe onkruiddoders die basis van ‘n onkruiddoderprogram in boordgewasse vorm. Afwisseling van onkruiddodergroepe is ‘n groot uitdaging. ‘n Onkruiddoder wat wel in boordgewasse gebruik kan word, is glufosinaat ammonium wat ook nie-selektief is en ‘n alternatiewe meganisme van werking het.

Mengsels kan ook met nie-selektiewe onkruiddoders en produkte wat terbutielasien bevat gemaak word, of deur MCPA in die mengsels te gebruik. In rygewasse is die opsies ook beperk, aangesien die meeste gewasse in oes staan wanneer die onkruid beheer moet word. Parakwat, of ‘n mengsel van glifosaat en 2,4-D kan, indien moontlik, met valarms toegedien word om goeie bedekking te verseker en om te verhoed dat die onkruid saad vorm.

Tydsberekening van die toedienings is ook krities, aangesien vaalskraalhans makliker beheer word wanneer dit in die roset-groei­stadium is. Hoe groter die plante is, hoe moeiliker raak die beheer daarvan. Dít is een van die groot uitdagings van goeie beheer in rygewasse.

Vir enige navrae, kontak dr Elbé Hugo by elbe.hugo@syngenta.com wat ook die voorsitter van HRAC-Suid-Afrika is.

Verwysings
Busi, R, Gaines, TA, Vila-Aiub, MM and Powles, SB. 2014. Inheritance of evolved resistance to a novel herbicide (pyroxasulfone). Plant Science 217 – 218 (127 – 134).
Busi, R en Powles, SB. Cross-resistance to prosulfocarb and triallate in pyroxysulfone-resistant Lolium rigidum. Pest Management Science. 69: (2013) 1 379 – 1 384.
Herbicide Resistance Committee. No date. Guidelines to the management of herbicide resistancewww.HRACGLOBAL.com.

Publication: September 2018

Section: Focus on integrated pest control