August 2018

LUAN VAN DER WALT, landbou-ekonoom, Graan SA

Meganisering begin al hoe meer ‘n prominente rol in die landbousektor speel. Dit is veral belangrik dat produsente sal byhou by die nuutste tegnologie om te verhoed dat die stelsels wat gebruik word, te oud word – wat die vervangingskoste daarvan feitlik onmoontlik maak.

Die meganisering van boerderye speel boonop ‘n uiters belangrike rol in doeltreffende graanproduksie – wat noodsaaklik is vir volhoubaarheid. Grafiek 1 toon die waarde van kapitale bates op kommersiële plase sedert 1980 op ‘n indeksbasis. Uit Grafiek 1 kan afgelei word dat die waarde van masjinerie, implemente, voertuie en trekkers op kommersiële plase oor dié tydperk drasties toegeneem het en dat die toename in die waarde daarvan aansienlik vinniger toegeneem het as die waarde van grond en vaste verbeteringe.

Die grondboonmark
Alhoewel die grondboonmark in Suid-Afrika, in vergelyking met ander grane en olie­sade, relatief klein is, is die produksie daarvan steeds betreklik ekonomies lewensvatbaar en speel dit veral ‘n prominente rol in die droëlandgebiede van die Vrystaat en Noordwes Provinsie. Die aanplant van grondbone is ook geneig om al hoe meer toe te neem in dié jare wanneer die pryse van die belangrikste somergrane, soos mielies, laag is.

Dit dui daarop dat grondbone – veral in die westelike gedeeltes van die land – wanneer die winsgewendheid van ander gewasse onder druk is, ‘n uiters belangrike rol as alternatiewe gewas speel. Grafiek 2 toon die oppervlakte waarop grondbone aangeplant is in die drie grootste produserende provinsies van die land, naamlik die Noord-Kaap, waar dit onder besproeiing verbou word, asook die Vrystaat en Noordwes Provinsie.

Meganisering 
Daar is twee belangrike aspekte wat oorweeg kan word, waarvan die een die meganisering van landbou in die algemeen is – en dan meer spesifiek die verbouing van grondbone as ‘n alternatiewe somergewas. Dit is ook krities dat die plaaslike grondboonproduksie so doeltreffend moontlik gedoen moet word om volhoubaarheid en die winsgewendheid te verseker.

Volgens mnr Gerhard Bruwer van Genade Boerdery by Douglas en ook die voorsitter van Graan SA se Grondboonspesialis-werkgroep, is dit uit ‘n praktiese perspektief noodsaaklik om te meganiseer wanneer dit by grondboonproduksie kom. Daar is verskeie belangrike aspekte wat oorweeg moet word wanneer produsente meganisering by grondbone oorweeg. Dit is egter noodsaaklik dat produsente eerstens die voor- en nadele teen mekaar opweeg. Deur dit te doen, sal hulle in ‘n beter posisie wees om vas te stel of meganisering die moeite werd is al dan nie.

Oorweeg hierdié faktore
Aangesien die grondboonbedryf uiters kompleks is en dit uit ‘n reeks verskillende grade (keur, divers en pers) bestaan, is dit belangrik om soveel as moontlik van die beste graad (keur) grondbone te produseer. Alhoewel algemene omgewings- en weerstoestande buite die produsent se beheer is, speel dit ‘n groot rol in die kwaliteit van die grondboonoes. Daar is egter ook ‘n paar belangrike bestuursaspekte wat produsente in gedagte móét hou: Tydsberekening is een van die belangrikste bestuursaspekte – en dit sluit in van wanneer die grondbone aangeplant word tot en met wanneer dit uitgehaal en geoes word.

Ekonomiese voordele
Bruwer sê voorts dat die tempo waarteen grondbone uitgehaal en geoes word, een van die grootste voordele is wat die meganisering van grondbone vir die produsent inhou. Met die beskikbare masjinerie kan veel meer hektare in ‘n korter tydperk geoes word.

Die feit dat die gewas vinniger van die lande afgehaal kan word, lewer nie net ‘n bydrae met die produsent se algemene bestuur nie, maar speel ook ‘n kardinale rol in die kwaliteit van grondbone. Omdat grondbone só vinniger van die lande afgehaal kan word, word dit vir ‘n korter tydperk blootgestel aan faktore soos reën en/of ander omgewingsfaktore – wat tot minder kwaliteitsprobleme kan lei en die moontlike voorkoms van aflatoksien kan uitskakel.

Die gebruik van meganiese toerusting by die uithaal van grondbone verhoog ook die waarskynlikheid dat ‘n groter hoeveelheid keurgraad-grondbone gelewer kan word. Dit beteken op die einde van die dag meer geld in die produsent se sak, aangesien die beste graad gelewer word. Dit, tesame met die feit dat die grondbone vinniger aan die koper gelewer kan word, veroorsaak dat uitbetaling vinniger geskied. Dit is weer positief vir die produsent se kontantvloei, aangesien die grondbone gewoonlik die eerste van die gewasse is wat deur die seisoen geoes word – en dit kan die druk op kontantvloei gedurende hierdie tydperk verlig.

Verdere aspekte wat belangrik by die meganisering van grondbone is, is die beheer van siektes. Wanneer siektes by grondbone opgemerk word, kan dit tot ‘n mate hok geslaan word omdat die produsent die grondbone vinniger kan begin uithaal en oes. Dit sal die verdere verspreiding van die siektetoestand op die plante beperk.

Die grondbone kan ook op ‘n hoër voginhoud uitgehaal en geoes word, wat ‘n bydrae lewer in die beheer en beperking van siektetoestande wat lei tot produksieverliese.

Wat doeltreffendheid betref, meld Bruwer dat die gebruik van meganiese toerusting aansienlik effektiewer en doeltreffender is as die tradisionele metode van grondbone uithaal en oes. Dit is ook heelwat meer koste-effektief, aangesien die hoeveelheid arbeid wat benodig word om dieselfde hoeveelheid werk te doen, aansienlik minder is wanneer van meganiese toerusting gebruik gemaak word om die grondbone uit te haal en te oes.

Die verliese wat  voorkom as gevolg van faktore soos diefstal en verliese weens knaagdiere (soos muise wat die grondboontjies op die land vreet), is ook aansienlik minder – wat positief vir die produsent se inkomste is. Nog ‘n voordeel is dat die meeste van die masjiene met die hedendaagse trekkers gesleep sal kan word. Dit beteken dat daar nie noodwendig addisionele oorhoofse kostes aangegaan hoef te word om addisionele trekkers aan te koop nie.

Nadele van meganisering
Uit die aard van die saak is daar nie net voordele verbonde aan die meganisering van grondbone nie. Daar is ook ‘n paar nadele waarop gelet moet word.

Bruwer noem dat alhoewel daar nie ‘n groot verandering in die vastekostestrukture is wanneer dit kom by die trekkers wat benodig word nie, is die meganiseringstoerusting van grondbone wel duur. Produsente moet die koste van die masjinerie goed gaan opweeg teen die voordele verbonde aan die gebruik daarvan.

Nie net word die koste by die aanskaf van die masjiene uitgewys as ‘n nadeel nie, maar die onderhoud op die masjiene moet ook in ag geneem word, aangesien dit ook ‘n paar ekstra rande uit die sak kan jaag.

Die gebruik van meganiese toerusting vereis ook goeie bestuur en dit is noodsaaklik dat hierdie masjinerie reg gekalibreer word voordat dit gebruik word. Indien die masjiene nie reg gekalibreer word nie, kan dit lei tot groot verliese in terme van kwaliteit en kwantiteit van grondbone. Alhoewel die gebruik van meganisasie betreklik meer arbeids- en kostedoeltreffend is, sal dit steeds goeie bestuur van produsente verg om die verliese tot ‘n minimum te beperk.

Ten slotte
In hierdie artikel is die voor- en nadele van meganisering uit ‘n produsent se perspektief kortliks opgesom. Dit is egter noodsaaklik om dié faktore goed te beoordeel en teenoor mekaar op te weeg om sodoende vas te stel wat die optimale roete vir jou besigheid sal wees.

Die jaarlikse produksie van grondbone sal ook ‘n groot bydraende faktor wees wanneer daar besluite geneem word rakende die aanskaf van meganiese toerusting. Dit sal vir produsente wat op ‘n jaarlikse basis grondbone plant meer sin maak om te meganiseer as wat dit die geval sal wees vir produsente wat net per geleentheid grondbone plant.

In die droëlandproduksiegebiede maak wisselvallige weersomstandighede dit bitter moeilik vir produsente. Die afgelope twee tot drie jaar wat die reën so laat was, was die grondboonproduksie ook onder druk – wat die meganisering in die produksie van grondbone meer riskant maak. Een van die belangrikste wenke is om soveel moontlik inligting in te win en soveel moontlik raad by ander produsente wat praktiese ervaring van die gebruik van meganiese toerusting by grondbone het, te kry om te verseker dat goed ingeligte, akkurate besluite geneem word.

Publication: August 2018

Section: Focus on