May 2018
DR DIRK STRYDOM, bestuurder: Graanekonomie en Bemarking, Graan SA
In die plaaslike mark bou voorraadvlakke van sojabone met elke seisoen stadig op. Die nuwe produksiejaar het stadig begin, met plantdatums wat bitter laat was. Die sojaboonaanplanting aan die oostekant van die land was oorwegend laat, maar die meeste produsente het daarin geslaag om hul voorgenome intensies te plant.
In die weste was dit ‘n redelike uitdaging om te plant en sommige produsente moes alternatiewe gewasse aanplant – en kon derhalwe nie al die beplande hektare plant nie. Volgens die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) is die aanplantings van sojabone 787 200 ha, met ‘n verwagte oes van 1 394 800 ton.
As ‘n mens die huidige bemarkingseisoen bestudeer, sou ‘n mens verwag dat daar oordragvoorraad van die vorige gunstige produksieseisoen sal wees. In die sojaboonmark is die oordrag, volgens die nuutste syfers van die Nasionale Landboubemarkingsraad (NLBR) se Vraag en Aanbod Projeksie Komitee (V&APK), 332 442 ton. Dié hoë oordragvoorraadsituasie het die plaaslike Safex-prys van sojabone weg van die afgeleide sojaboonprys laat beweeg.
Daar is aanvanklik verwag dat die totale produksie van ongeveer 1,3 miljoen ton in die vorige produksiejaar verwerk sou word, maar ‘n beraamde 890 000 ton sojaboonoliekoek is uiteindelik gepers. Die vraag is: Hoekom is slegs 890 000 ton se sojabone vir sojaboonoliekoek verwerk – en het oliekoekinvoere steeds plaasgevind, terwyl die geskatte perskapasiteit vir sojabone tussen 1,8 miljoen en 2,2 miljoen ton is?
As die plaaslike oliekoekkwaliteit ontleed word, reken kenners soos dr Erhard Briedenhann (HUB, MIDS) dat daar in wese nie ‘n kwaliteitprobleem met plaaslike sojaboon- en oliekoek is nie en dat dit beter of gelykstaande aan Argentynse sojaboonkwaliteit is.
Waar kwaliteit ter sprake is, kan dit in twee groeperings opgedeel word, waarvan die eerste die fisiese kwaliteit van oliekoek is, wat parameters soos proteïen (46% minimum), vet (2% maksimum), vesel (4% maksimum) en vog (12%), asook deeltjiegrootte insluit.
Die tweede gedeelte is verwerkingskwaliteit, wat die volgende insluit: Proteïendispergeerbaarheidsindeks (protein dispersibility index – PDI), KOH proteïenoplosbaarheid (KOH protein solubility z– KOH PS), trypsin inhibitor activity (TIA-A) en reactive lysine. Volgens dr Briedenhann voldoen die plaaslike oliekoek aan dié vereistes en is daar geen rede waarom dit nie gebruik kan word nie. In Suid-Afrika is die pluimveebedryf die grootste verbruiker van oliekoek.
As die verwerkingsmark self bestudeer word, is die toegewyde sojaboonperskapasiteit 1,46 miljoen ton, waarvan slegs 880 000 tans gebruik word. Volvetsojaverwerkingskapasiteit is ongeveer 160 000 ton, waarvan 140 000 ton tans gebruik word. Verwerkingsaanlegte wat beide sojabone en sonneblom kan pers, bied ‘n verdere moontlike 462 000 ton se kapasiteit. Tans is om en by 500 000 ton se kapasiteit vir beide sonneblom- en sojaboonverwerking wel onbenut. Die potensiële verwerkingskapasiteit van sojabone is dus bo 2 miljoen ton.
Dit is ook belangrik dat die lokaliteite van die verwerkingsaanlegte en die lokaliteit van die vraag na oliekoek in ag geneem moet word in die vraag-en-aanbodsituasie van sojaboonoliekoek. Onderskeidelik 21% en 8% oliekoek word in die Wes-Kaap en Oos-Kaap verbruik, wat beteken dat dié gebiede sterk met ingevoerde oliekoek kompeteer. Die oneffektiewe vervoerstelsel veroorsaak dat dit ‘n uitdaging vir binnelandse oliekoek is om met ingevoerde oliekoek te kompeteer.
Die bestaande plaaslike vraag na sojabone word verder verlaag deur een groot veevoermaatskappy wat steeds van ingevoerde sojaboonoliekoek gebruik maak. Die totale invoere van sojaboonoliekoek het die afgelope seisoen 590 916 ton beloop, wat gelykstaande is aan 777 521 ton se sojabone. Bykomend hiertoe, is die verlies aan vraag na voer weens die hoeveelheid hoendervleis wat jaarliks ingevoer word.
Indien die kusgebiede se verbruik afgetrek word, laat dit die huidige binnelandse vraag op ongeveer 1,2 miljoen ton oliekoek, terwyl tans net oor die 1 miljoen ton plaaslike oliekoek verbruik word. As daardie addisionele invoere van 150 000 ton na sojabone omgeskakel word, is dit in die orde van 200 000 ton. Neem in ag dat die kusgebiede steeds oliekoek bly invoer.
Dit is van kardinale belang dat plaaslike veevoervervaardigers meer plaaslik moet begin aankoop en dat die vervoerekonomie tussen die binneland en die kus meer effektief benut moet word. Sodoende kan die plaaslike vraag van sojabone ‘n hupstoot kry.
Die afgelope paar seisoene is gesien dat die groei in produksie in die westelike deel van die land plaasgevind het en word gevra of dit nie tyd is om verwerkingskapasiteit in die weste te vestig om verligting in voorraadvlakke te bied nie.
As surplusse nie vanaf die weste na die huidige verwerkingsfasiliteite beweeg nie, is dit moontlik die oplossing. Dalk is dit die gepaste plek om die 200 000 ton binnelandse invoeroliekoek te ondervang?
Publication: May 2018
Section: On farm level