Die werklike marge-effek van klimaat, inset- en uitsetpryse

Gepubliseer: 4 Maart 2024

334
Pietman Botha,
SA Graan/Grain-redaksie

Landbou verskaf die werk wat koopkrag na die plattelandse dorpe bring. Daarom voel die platteland die effek van landboupro­duksie die meeste – in goeie jare word meer ge­spandeer en in moeilike jare gaan dit maar bars.

Tog, alhoewel daar die afgelope klompie jare in heelwat streke goeie reënval en opbrengste aangeteken is, het die dorpe nie noodwendig die verwagte koopkragverhoging ervaar nie. In sommige streke was die reënval dalk aan die hoë kant en het dit die produksie eerder benadeel as bevoordeel.

Om hierdie interessante effek te ontleed is die werklike produksiekoste vir die laaste drie jaar soos deur Graan SA vir die Oos-Vrystaat en die Noordwes-provinsie versamel, gebruik. Hierdie syfers weerspieël die effek van te min, voldoende en te veel reën asook die effek van drastiese veranderinge in inset- en pro­dukpryse.

Die 2020/2021-produksiejaar was ’n goeie een in beide die oostelike en westelike produksiegebiede. Hierdie jaar word dan as vertrekpunt gebruik om aan te toon wat gebeur het. In 2021/2022 was die weste effens aan die droë kant, terwyl die ooste ’n redelik goeie produksiejaar beleef het. In die 2022/2023-pro­duksiejaar het die ooste ’n oormaat reën gekry, terwyl die weste weer ’n goeie jaar beleef het.

Produsente kon in ’n mate die insetprysver­­ho­gings van 2021/2022 toe die bemestingpryse drasties verhoog het, systap. ’n Groot gedeelte van die insette was reeds ingevoer en is steeds teen die laer pryse verkoop. Sommige produsente het ook insette aangekoop voordat die verhogings in werking getree het en sodoende kon hulle teen ’n laer koste produseer. Dit het die bedryf gehelp.

Noordwes
In Tabel 1 word Noordwes se mielie- en sonneblom-vertakkinge se gemiddelde werklike produksiekoste vir die 2020/2021- tot die 2022/2023-seisoen aangetoon.

Uit hierdie inligting kan ’n paar interessante berekeninge gemaak word. 2021/2022 was ’n uitdagende produksiejaar. Reënval was ’n bietjie aan die lae kant en dit word in die afname in opbrengs per hektaar gesien.

Mielies
Mielie-opbrengste, wat bietjie meer gevoelig vir droogte is, het persentasiegewys meer as die sonneblom gedaal. Aangesien mie­lies ook meer insette as sonneblom gebruik, het dit oor tyd ’n hoër verhoging in koste ervaar.

Die effek van 2021/2022 se moeiliker produksiejaar staan duidelik uit. Mielieproduksie het met amper 37% gedaal, terwyl die inkomste omtrent konstant gebly het. Die lae daling in inkomste was hoofsaaklik as gevolg van die hoër mieliepryse. In die 2022/2023-seisoen het die weer mooi saamgespeel en het die Noordwes­produsente goeie mielie-opbrengste behaal. Teenoor die vorige jaar is verhogings van amper 77% in mielie-opbrengs gesien. Terselfdertyd het goeie graanpryse gerealiseer met die gevolg dat produsente se inkomste beduidend verhoog het. Alhoewel die mie­lie-insetkoste ook betekenisvol verhoog het, kon produsente steeds goeie marges behaal.

Sonneblom
By sonneblom kan amper dieselfde prentjie gesien word. Dit is welbekend dat sonneblomme ’n droogtejaar beter hanteer as mielies en daarom is daar nie so ’n groot persentasiedaling in die sonneblomproduksie nie. Die sonneblomprys het egter in die 2021/2022-produksiejaar uitermatig verhoog met die gevolg dat die sonneblominkomste en -winsgewendheid ewe veel verhoog het. In die 2022/2023-produksiejaar het sonneblomopbrengste weer met 20% teen die vorige jaar verhoog. Die gevolglike verhoging in winsgewendheid het die sonneblommarge per hektaar stewig laat toeneem.

Oos-Vrystaat
Die Oos-Vrystaatse verhaal word aan die hand van Tabel 2 verduidelik waar die streek se gemiddelde werklike produksiekoste en die winsgewendheidanalise van mielies, sojabone en sonneblom vir die 2020/2021- tot die 2022/2023-jaar aangetoon word.

Mielies
Die 2021/2022-produksiejaar in die Oos-Vrystaat was nes in Noordwes ook ’n bietjie aan die droë kant, maar nie so erg as wat die weste ervaar het nie. Die laer reënval het tog die mielieproduksie negatief geraak met ’n 10%-daling in produksie. Weens die hoër mielieprys kon produsente dit regkry om steeds ’n redelike mieliemarge te handhaaf en het die mielieprysverhoging die insetkosteverhoging teengewerk.

In die 2022/2023-produksiejaar was die reënval effens aan die hoë kant en het dit die gemiddelde mielie-opbrengste nadelig geraak met groot gedeeltes wat versuip het. Die gemiddelde mie­liepryse het nie betekenisvol verander nie, maar die mieliekoste het met 28% verhoog wat die mieliemarge negatief beïnvloed het. Die gevolg hiervan was dat produsente selfs met ’n goeie oes nie geld gemaak het nie – weer eens ’n aanduiding van die risiko van mie­lieproduksie. As jy nie ’n ses slaan nie, het jy teëspoed.

Sonneblom en sojabone
Wat sonneblom en sojabone betref, was daar tussen 2021/2022 en 2022/2023 nie groot produksieverskille nie. Tog was die sonneblom- en sojabooninkomstes as gevolg van hoër pryse beter. Alhoewel die sonneblom- en sojaboonproduksiekoste nes die van mielies drasties toegeneem het, kon die margepersentasie van sojabone konstant bly en dié van sonneblom het betekenisvol verhoog as gevolg van die verhoging in inkomste vir beide gewasse.

Wat egter uitstaan vir die Oos-Vrystaat is die sojaboonmargepersentasie. Dit is heelwat hoër as dié van mielies en sonneblom en dus behoort sojabone ’n goeie deel van die oppervlakte in die streek op te neem.

Hierdie inligting dui op die waarde daarvan om wisselbou toe te pas. Alhoewel dit akkerboukundig sin maak, beperk dit ook die risiko van die saaivertakking. Die verhouding tussen die verskillende gewasse is ’n saak wat behoorlik deurdink moet word, maar daar is sonder twyfel plek vir wisselbou.

Die belangrikheid daarvan om die beste moontlike pryse vir produkte te kry, staan soos ’n paal bo water. Net so is die tyd van inset­aankope uiters belangrik. Hoe goedkoper die insette aangekoop word, hoe groter is die kans om ’n positiewe marge te realiseer. Produsente moet dus katvoet loop vir onnodige koste – kry die inkomste so hoog as moontlik en hou die produksiekoste so laag as moontlik. Dit sal sorg dat die marge so hoog as moontlik gegewe die produksie kan wees.

Vir meer inligting kontak Pietman Botha by 082 759 2991.